Springbokke: Begin goed, eindig goed

Die belangrikste bousteen vir enige rugbytoer word in die eerste wedstryd gelê.

Noudat tradisionele toere so skaars soos hoendertande is, is dit veral van toepassing op die eerste toetswedstryd van ʼn jaareindtoer.

Dis hoekom dit so belangrik vir die Springbokke is om Saterdagmiddag op Twickenham vir Engeland te klop.

Slaag hulle daarin, kan die res op die toer, in kragmetings met Frankryk, Skotland en Wallis, op ʼn hoogtepunt eindig.

Maar verloor hulle teen die Engelse, kan die toer op ʼn ramp afstuur.

Kyk maar na 2017, toe die Bokke met 38-3 deur Ierland in die eerste toetswedstryd verslaan is en toe net twee uit vier wedstryde kon wen.

Wat van in 2016, toe Engeland die eerste wedstryd met 37-21 gewen het en die Bokke al drie toetswedstryde verloor het?

In 2014 het die Iere die Bokke met 29-15 geklop en kon die Springbokke net twee uit vier wedstryde op toer wen.

Aan die ander kant, in 2012 en 2013 was die Bokke onoorwonne op toer nadat hulle die eerste toetswedstryd gewen het.

Dit maak mos sin, al verskil die spelpatrone, denkrigting en spankeuses van die afrigters.

Ja, ʼn oorwinning oor Engeland sal die kersie op die koek wees, veral nadat die Bokke in Junie vanjaar die reeks teen Engeland met 2-1 gewen het en ook baie vordering in die Rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland getoon het.

Wat ewe belangrik is, is of die vordering wat teen die All Blacks gemaak is, oorgedra kan word na Twickenham.

In die Bokke se guns is hul nuutgevonde selfvertroue, die vertoning van die ysterpak, die losskakel Handré Pollard wat die argitek van die agterlyn se bouplanne is, die bestendigheid van Damian de Allende en Jesse Kriel as senterpaar en die afronding van die twee vleuels, S’bu Nkosi en Aphiwe Dyantyi.

Maar wat kommer wek, is of die onervare agterste driehoek die mas sal opkom, en of Ivan van Zyl die oplossing op skrumskakel sal wees.

Die Bokke se agterlyn het saam nog net in 122 toetswedstryde gespeel en, hoewel Suid-Afrika 11 van die 20 toetswedstryde op Twickenham gewen het, moet die tuisspan beslis ʼn kans hê.

Dan sal die Bokke ook gerieflik voor moet wees en volle beheer oor die Engelse moet hê voordat die afrigter, Rassie Erasmus, sy spelers van die plaasvervangersbank af opstuur.

Teen die All Blacks op Loftus Versfeld het dit selfs lelik geboemerang hoewel die Bokke gerieflik voor was.

Die spanne ‒

Engeland
15 Elliot Daly, 14 Jack Nowell, 13 Henry Slade, 12 Ben Te’o, 11 Jonny May, 10 Owen Farrell (medekaptein), 9 Ben Youngs, 8 Mark Wilson, 7 Tom Curry, 6 Brad Shields, 5 George Kruis, 4 Maro Itoje, 3 Kyle Sinckler, 2 Dylan Hartley (medekaptein), 1 Alec Hepburn. Bank: 16 Jamie George, 17 Ben Moon, 18 Harry Williams, 19 Charlie Ewels, 20 Zach Mercer, 21 Danny Care, 22 George Ford, 23 Manu Tuilagi.

Suid-Afrika: 15 Damian Willemse, 14 Sbu Nkosi, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Ivan van Zyl, 8 Warren Whiteley, 7 Duane Vermeulen, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Thomas du Toit, 18 Wilco Louw, 19 RG Snyman, 20 Lood de Jager, 21 Embrose Papier, 22 Elton Jantjies, 23 André Esterhuizen.

Afskop: 17:00.

Skeidsregter: Angus Gardiner (Australië).
Assistent-skeidsregters: Jérôme Garcès (Frankryk), Ben Whitehouse (Wallis).
TV-skeidsregter: Olly Hodges (Ierland).
Verwagte weer: Sonnig, maar koud (13 grade Celcius).
Voorspelling: Springbokke met ses punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.