Springbokke, Blitsbok gooi gewig by QBR in

qbrDrie Springbokke en `n Blitsbok het hul gewig by Quins-Bobbies-rugby (QBR) ingegooi kragtens die Blou Bulle-maatskappy se nuwe beleid om sy gekontrakteerde spelers voorwaardelik aan die Carltonklubs beskikbaar te stel.

Die Bokke Handré Pollard (losskakel), Rudy Paige (skrumskakel) en Jacques Potgieter (flank) en die Blitsbok Shaun Adendorff is onder die 42 BBM-spelers wat luidens `n mededeling deur die klub `n ooreenkoms in dié opsig met QBR gesluit het.

Die beskikbaarheid van die spelers om vir die klub te speel, hang onder meer af van die Blou Bulle-afrigters se instemming daartoe, en dat die klub die spelers vir die klubwedstryde verseker.

Ben Eybers, QBR se voorsitter, het die vertroue uitgespreek dat van die spelers wel die klub sal verteenwoordig.

Hy het ook daarop gewys dat die jongste geval waar `n speler Suid-Afrika verteenwoordig het terwyl hy vir Harlequins gespeel het, is toe Richard Bands die groen en goud in 2003 gedra het.

Tussen Quins en Polisie (waaruit die nuwe klub saamgestel is) het hulle meer as 40 Bokke en meer as 100 Blou Bulle opgelewer.

 Die nuwe stelsel volg ná volgehou versoeke die afgelope paar jaar dat die BBM sy “surplus”-spelers aan die klubs beskikbaar moet stel, opgeweeg teen kommer oor die risiko van beserings en die uitwerking wat dit op die diepte van die verteenwoordigende spanne kan hê.

Stelsels met min of meer dieselfde strekking word in Skotland gevind waar die beroepspelers van die twee superklubs, Edinburgh en Glasgow Warriors, per loting tussen die Premierligaklubs verdeel word; en in Engeland, waar `n stelsel van dubbele registrasie bepaal dat spelers vir `n Premierliga- sowel as `n Kampioenskapsklub geregistreer kan word.

BBM-spelers by QBR –

Shaun Adendorff, Leeia Andries, Matthys Basson, Damian Bonaparte, Francois Brummer, Christiaan Coetzee, Stefan Coetzee, Erich Cronjé, KP de Jager, Peter Diergaardt, Cabous Eloff, Xolisa Guma, Juice Gumede, Travis Ishmael, JR Jenkinson, Jason Jenkins, Sergio Kasper, Johnny Kotzé, Leon Kriel, Level Levendal, Andell Loubser, Dewald Maritz, Edgar Marutlulle, Freddy Ncgoza, Abongile Nonkontwana, Jay-C Oliver, Yachville Olivier, Rudy Paige, Happiness Petersen, Nicolaas Peyper, Henry Pike, Handré Pollard, Jaques Potgieter, Hendrik Prinsloo, Ignarius Prinsloo, Tiaan Schoeman, Hendré Stassen, Lourens Steenkamp, Jade Stighling, Pikes Toerien, Ruben van Heerden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Honibal ·

Hoekom word net QBR hierdeur bevoordeel. Altyd het net Tuks die voordeel gehad, nou kan QBR ook aan daai BBRU speen suig.

Wat van Centurion, Naka en Dragons?

Johann ·

Blykbaar was die keuses hierdie keer aan die spelers oorgelaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.