Springbokke die wenners in Bledisloe-stryd

SANZAR-logoDaar was net een wenner toe die All Blacks en die Wallabies Saterdag in Sydney met 12-elk gelykop gespeel het, en dit was die Springbokke.

Albei die spanne in Sydney het net twee punte verdien, en dit tel baie in ‘n kompetisie wat so straf is soos die Rugbykampioenskap. Die Wallabies het ook ‘n einde gemaak aan die All Blacks se strewe na 18 agtereenvolgende seges en deel die rekord van 17 steeds met die Springbokke.

Maar wie ook al die All Blacks vanjaar in die Rugbykampioenskap wil klop, sal ’n manier moet vind om hul verdediging af te breek. Die Wallabies het die bal 120 keer gedra (All Blacks 66) en 149 keer uitgegee (All Blacks 88), en 20 minute lank met 15 teenoor 14 spelers gespeel, maar kon steeds nie ’n drie druk nie.

Toegegee, die nat toestande het spel bemoeilik en albei spanne se sterkpunte geneutraliseer. Hierdie wedstryd was dalk nie ’n ware weerspieëling van die twee spanne se vermoëns nie.

Hoewel die All Blacks in die eerste helfte meer strafskoppe as die Wallabies afgestaan het (agt teenoor ses) het Aaron Cruden sy span nietemin met rustyd 9-3 laat voorloop. Hy het drie uit vier pogings sekuur deur die pale gejaag terwyl Kurtley Beale, wat ook onseker op die aanval gelyk het, ’n maklike strafskop kort voor die rustydfluitjie verbrou het.

Die All Blacks het aanvanklik feitlik al die balbesit en gebiedsvoordeel geniet. Hierdie druk het die Wallabies tot basies foute gedwing en hul skrum het ’n paar strafskoppe afgestaan.

Voorts het die All Blacks die skopstryd loshande gewen deur oordeelkundig te skop en vir Israel Folau te onderdruk, terwyl veral Richie McCaw en Brodie Retallick hard vir die omkeerbesit baklei het. Nic White, maar ook Beale, het daarenteen weifelagtig gelyk, direk uitgeskop en hul hangskoppe het die All Blacks in staat gestel om teenaanvalle te loods.

Die Wallabies het wel later begin ontwaak en geduldig fases begin bou, maar hulle was steeds voorspelbaar en die All Blacks kon die druk deur foutlose verdediging verwerk. Die Wallabies kon ook nie kapitaliseer op Wyatt Crockett se afwesigheid ná ’n geelkaart in die 39ste minuut nie.

 

Beale het vroeg in die tweede helfte sy span se agterstand met ’n strafdoel laat krimp en in die 56ste minuut nog een oorgeklits om sake gelykop te maak. Cruden het die voorsprong in die 60ste minuut weer met ’n strafdoel van sy eie herstel.

Beauden Barrett is in die 69ste minuut afgestuur omdat hy, nes Crockett, die bal in ’n losgemaal bederf het. Dit was dalk onbillik teenoor Barrett, maar ander All Blacks soos Owen Franks en Aaron Smith is toe al telkens ongestraf gelaat deur Jaco Peyper toe hulle nie by die losgemale weggerol het nie.

Die Wallabies kon steeds nie, ondanks baie balbesit, hierdie numeriese voordeel ontgin nie. Hulle moes dalk eerder ’n skepdoel teen die einde oorweeg het as om die bal te hou en net vir ’n drie te mik.

Punte:
Nieu-Seeland 12:
Strafdoele: Cruden 4.
Australië 12:
Strafdoele: Beale 4.

Geelkaarte: Wyatt Crockett, Beauden BarrettSpanne

Australië: 15 Israel Folau, 14 Pat McCabe, 13 Adam Ashley-Cooper, 12 Matt Toomua, 11 Rob Horne, 10 Kurtley Beale, 9 Nic White, 8 Wycliff Palu, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 Nathan Charles, 1 James Slipper
Bank;  16 James Hanson, 17 Pek Cowan, 18 Ben Alexander, 19 Will Skelton, 20 Ben McCalman, 21 Scott Higginbotham, 22 Nick Phipps, 23 Bernard Foley.

Nieu-Seeland: 15 Ben Smith, 14 Cory Jane, 13 Malakai Fekitoa, 12 Ma’a Nonu, 11 Julian Savea, 10 Aaron Cruden, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett
Bank:
16 Keven Mealamu, 17 Ben Franks, 18 Joe Moody, 19 Steven Luatua, 20 Sam Cane, 21 TJ Perenara, 22 Beauden Barrett.

Beamptes
Skeidsregter: 
Jaco Peyper (SA)
Assistente: Romain Poite (Frankryk), Stuart Berry (SA)
TV: Shaun Veldsman (SA)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.