Springbokke: Drie beseerdes, twee o.20s by oefenkamp

Damian Willemse – na oefenkamp genooi (Foto: Twitter @Junior Springboks)

Twee ervare stutte en ʼn Bokkaptein is die drie Springbokke met toetservaring wat weens hul beserings nie in die afgelope vier toetse kon speel nie, maar nou na die Springbok-oefenkamp in Stellenbosch genooi is.

Die oefenkamp begin reeds dié week, ʼn maand voor die eerste toets in die Rugbykampioenskap teen Argentinië op 18 Augustus in Durban.

Eben Etzebeth, wat die Bokke verlede jaar in 11 toetse aangevoer het, sal saam met die Sharks se stut Coenie Oosthuizen en Trevor Nyakane van die Bulls inval by die groep van 22 wat ook vyf spelers insluit wat nog nie toetsrugby gespeel het nie.

Oosthuizen is verlede jaar in die eerste minuut in die toets teen Ierland in Dublin met ʼn kniebesering van die veld en het sedertdien nog nie weer rugby gespeel nie.

Onder die vyf nuwelinge is Salmaan Moerat en Damian Willemse, onderskeidelik die kaptein en die onderkaptein van die Junior Springbokke wat vanjaar in Frankryk derde in die o.20-Wêreldkampioenskap geëindig en die jong All Blacks oortuigend met 42-30 getroef het.

Die ander drie “nuwelinge” is die twee losvoorspelers, Marco van Staden van die Bulls en die Stormers se Cobus Wiese (wat ook slot kan speel) en die Stormers se gereelde slot voor sy besering, JD Schickerling.

Van Staden het vanjaar as baljagter en ook as baldraer werklik beïndruk. Net so Wiese, die Upingtonse boorling wat hier teen die einde vir die Stormers slot moes speel en met sy werkywer en inklimrugby indruk gemaak het.

Spelers van die Sharks en die Lions, wat die naweek nog by die Superreeks betrokke is, sal by die oefenkamp aansluit sodra hulle nie meer verpligtinge in die Superreeks het nie.

Oefengroep ‒

Agterspelers
Damian de Allende (Stormers), Warrick Gelant (Bulls), Jesse Kriel (Bulls), Embrose Papier (Bulls), Handré Pollard (Bulls), Ivan van Zyl (Bulls), Damian Willemse (Stormers).
Voorspelers
Pieter-Steph du Toit (Stormers), Eben Etzebeth (Stormers), Steven Kitshoff (Stormers), Siya Kolisi (Stormers), Wilco Louw (Stormers), Frans Malherbe (Stormers), Bongi Mbonambi (Stormers), Salmaan Moerat (Stormers), Sikhumbuzo Notshe (Stormers), Trevor Nyakane (Bulls), Coenie Oosthuizen (Sharks), JD Schickerling (Stormers), RG Snyman (Bulls), Marco van Staden (Bulls), Cobus Wiese (Stormers).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LHS ·

Hoort daar enige maar enige bulle in daardie oefengroep? Iewers is groot fout met spelerkeuses.

What a joke. ·

Wat my oog dadelik vang is hoeveel Lions spelers in die groep is!!!!…Nee wat,hoe kan n span wat die beste vaar op meriete vir die seisoen die minste spelers oplewer of is die hoofspan noodsaaklik dan net uit verdienste lions spelers???Ek verstaan nie wat mis ek hier???En ek wil by noem dat ek is n blou bul ondersteuner…maar……!

cr ·

Wat ‘n grap jy weet natuurlik dat die Lions die naweek super rugby speel, so geen van hulle is gekies nie….What a Joke

Kiewiet ·

Ja nee, die Boerbok span gaan seker weer net uit die Bulls, Stormers en Sharks bestaan. Hulle gaan in elkgeval verloor in die Rugby Kampioenskap.

Boerseun ·

Moerat? Net die ander dag is Jenkins springbok gemaak, RG Snyman, dan kan ons n paar ander noem wat by WP in springbokspan hoort volgens die kaap.
Plan A – kies almal wat goed kan wees vir bokke een keer. dan kan hulle nie vir ander land speel nie.
Plan B- kies elke speler wat by die tranformasie beleid inpas en hoop een is op standard?

Het ek die stratagie reg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.