Springbokke: Ewe skielik brand die liggie weer flou

ʼn Reeksoorwinning van 2-1 oor Engeland is in die sakkie, maar die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, se wenpersentasie van 50% lyk glad nie so rooskleurig nie.

Vier wedstryde onder hom gespeel, twee gewen en twee verloor. Onthou gerus van die onsinnige toetswedstryd op 2 Junie in Washington teen Wallis, toe die Springbokke met 22-20 geklop is.

Altesame 75 punte is teen Engeland aangeteken, maar 76 is afgestaan; en agt drieë is gedruk, maar daar is ook agt afgestaan.

Kom ons stel dit in perspektief nadat Engeland Saterdag se derde toets op Nuweland met 23-10 gewen het.

Hoewel die Engelse aan die begin van die reeks hoër as die Springbokke op die wêreldranglys was (en hulle straks Maandag weer die Bokke sal verbysteek wanneer die nuwe ranglys bekend gestel word) kon hulle in ses probeerslae nog nie ʼn reeks in Suid-Afrika wen nie.

Onthou gerus dat Allister Coetzee sy eerste reeks teen Ierland in 2016 ook met 2-1 gewen het en die jaar daarna die Franse met 3-0 uitgestof het.

In Junie moet jy die spanne van die Noordelike Halfrond tuis klop, en basta met die res!

Ja, Erasmus is besig om te bou in sy soeke na ʼn groep wat aanstaande jaar die Wêreldbekerbeker in Japan omhoog kan hou, maar nou kom hy by die pynlike besluit om spelers soos Elton Jantjies en Chiliboy Ralepelle in te lig dat hulle geweeg, maar te lig bevind is.

Suid-Afrikaanse ondersteuners is honger vir welslae. Hulle is vuisvoos ná die afgelope twee jaar se geploeter, maar om nou al te voorspel dat die Springbokke die All Blacks in die Rugbykampioenskap sal kan klop, getuig van ʼn gebrek aan insig.

Die All Blacks het die Franse met 3-0 in hul reeks in Nieu-Seeland verniel, 127 punte (in drie toetse) aangeteken en net 38 afgestaan. Altesame 19 drieë gedruk en net vier afgestaan. Vanwaar die Suid-Afrikaanse verwaandheid?

Ja, dalk kan die Springbokke die Wallabies uitstof, wat die eerste keer sedert 1979 tuis ʼn reeks teen Ierland verloor het nadat die Iere Saterdag se beslissende toets in Sydney met 20-16 gewen het.

Maar dit sal nie maklik wees nie, want anders as die Engelse, was dit op een of twee spelers na die Iere se beste span. Hulle is immers die Sesnasieskampioen en tweede op die wêreldranglys.

Ja, dalk kan die Springbokke die Argentynse Poemas bloedneus gee nadat hulle heeltemal boedel oorgee het teen Wallis en ook Saterdagaand teen Skotland.

Maar daar is interne probleme by die Argentyne – die spelers en die afrigter Daniel Hourcade het nie klaargekom nie en wanneer Mario Ledesma die leisels by Hourcade neem, sal dit ʼn gedierte in ʼn ander gewaad wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Rassie is van die Vrystaat waar dit in die winter nie reën nie, maar dan sal mens dink hy ken die Kaap se klimaat, hy het wel ‘n paar jaar in Engeland afgerig waar daar baie nat toestande is. Miskien moet hulle ‘n NAT afrigter en ‘n DROë Springbokafrigter vir hier by ons kies. Wat van een elk vir oos, suid, noord en wes?

O’ja en dan was sy spankeuse maar vrot.

Willem ·

Kom ons haal die woord ‘kwota’ uit die woordeboek, doen ook sommer daarmee weg in werk en sport, dan is die saak gewen.

volla ·

Skielik lyk die 4 verlore van Alistair van verlede jaar glad nie te sleg nie. Rassie het nooit werlik oortuig in SA nie. Eers die Vrystaat wat melkkoei in die superreeks was en toe die Stormers wat ook maar onder hom terleurgestel het.

volla ·

Presies en waar hy nog by die Vrystaat dalk ‘n verskoning gehad het dat hy nie met van die beste spelers gewerk het nie, kan hy nie dieselfde verskoning gebruik toe hy by die Stormers was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.