Daar gaan ná vandag se Wêreldbeker-kwarteindstryd waarskynlik nie ’n opvolgfliek oor Japan se Brightonse sege gemaak word nie, maar die Springbokke verdien beslis ook nie ’n Oscar vir hul vertoning in Tokio nie.
Die Springbokke het vir Japan met 26 – 3 geklop om hul plek in volgende week se halfeindstryd teen Wallis te bespreek. Dit is die tweede agtereenvolgende toernooi dat die Suid-Afrikaners vir die Wêreldbeker-skouspel se halfeindstryd kwalifiseer, nadat hulle in 2015 teen die All Blacks kragte gemeet het.
Maar soos wat die Bokke in die eerste helfte gespeel het, gaan hulle waarskynlik nie die silwerware omhoog hou nie.
Ná ’n bobaasbegin – Makazole Mapimpi het in die hoek oorgeduik nadat Faf de Klerk hom skitterend van agter die skrum gevoer het – het dinge vir die Bokke begin uitrafel.

Suid-Afrika se Damian de Allende en Japan se Ryoto Nakamura (12) (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Eugene Hoshiko)
’n Geel kaart (Beast Mtawarira vir ’n gevaarlike duikslag) en ongedwonge foute het gesorg dat Bok-ondersteuners met hul hande in die hare gesit het. In ’n stadium het mens amper gedink dat die Japannese die bal gekoop het, want dit was die heeltyd in hul besit.
Rassie Erasmus het vooraf gesê dat hulle nie sal toelaat dat Japan die tempo van die wedstryd sal dikteer nie, maar met die tuisspan wat blitsige aanval ná blitsige aanval loods en die Bokke wat moes keer vir al wat hulle werd is, het die Suid-Afrikaners na die Japannese pype gedans.
Toe die rustydfluitjie blaas, het die Bokke net met 5 – 3 voorgeloop.
Hoewel die tweede helfte maar ook met stampe en stote begin het, het die Bokke stelselmatig hul stempel op die wedstryd begin afdruk.
Die Suid-Afrikaners was veral kookwater in die lynstane en hulle het ’n hele paar Japannese lynstaanballe gegaps. Hul hantering – wat maar in die eerste 40 minute geknor het – het ook beter geword soos wat die wedstryd gevorder het.
Dan was die rolmaalbeweging die Bokke se grootste wapen en Faf de Klerk het gaan druk nadat die Suid-Afrikaanse voorspelers hul stemme dik gemaak het.
So van De Klerk gepraat, hy is wel as die speler van die wedstryd aangekondig, maar daar sal steeds baie wees wat onderlangs mor dat dié blondekop-skrumskakel hopeloos te veel kere die bal bly wegskop.
Mapimpi se tweede drie het die wedstryd finaal buite Japan se bereik geplaas en die Bokke is deur na die halfeindstryd van die wêreldskouspel.
Maar gaan hulle vir Nieu-Seeland klop as hulle só speel?
Jy hoef nie Siener van Rensburg te wees om die antwoord op dié vraag te weet nie.
- Puntemakers:
Springbokke: Drieë: Makazole Mapimpi (2), Faf de Klerk. Doelskop: Handré Pollard. Strafskoppe: Pollard (3).
Japan: Strafskop: Yu Tamura.
- Halfeindstryd-bepalings:
Saterdag om 10:00: Nieu-Seeland teen Engeland
Sondag om 11:00: Springbokke teen Wallis
- Makazole Mapimpi van Suid-Afrika en Kotaro Matsushima van Japan (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)
- Suid-Afrika se Makazole Mapimpi (11) vier ‘n drie saam met sy spanmaats (20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Eugene Hoshiko)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
108 Kommentare
Verby swak; skool standaard. die SAffAS kan maar gerus huis toe kom; al drie die ander oorblywende spanne sal die onbeholptes ore aansit. ‘n Opregte novelty span wat baie gelukkig is om so ver te kom.
Wat ‘n gesukkel. Voorspelers domineer, Faf skop alles weg, ref mis ten minste 3 rooi kaarte, en Willie moes eerder vir Kolisi ‘n TV stel gepass het dalk sou hy dit raak gevat het met ‘n oop doelyn. Teen England of die AB’s sou die patetiese bokke verloor het met 30.
Suid Afrika en Wallis is die twee swakste spanne van die 4.Engeland en NZ verdien om in die eindstryd te speel en ongelukkig gaan een van die twee spanne uitval.
Suid Afrika se hoogskop het niks in die sak gebring nie en ek kan nie onthou dat die Bokke een bal terug gewin het.Hulle mag dalk Wallis klop maar mi is die kanse dat hul of Engeland of NZ sal klop is skraal.
Boring verby. Die Bok- agterlyn is verbeeldingloos, planloos en hul vaardighede is swak.
Met hul doellose skop taktiek kan hul n wen in finaal op hul magies skryf .