Springbokke maak geskiedenis in Brisbane!

Heyneke Meyer[1]Die Aussies kan dalk met Suid-Afrikaners se braaigewoontes spot, maar ná vandag moet hulle liefs nie dié twee lande se rugbyvermoëns vergelyk nie. Vandag word daar net met húlle gespot.

Die Springbokke het die Wallabies in Brisbane met ’n ontsagwekkende 38-12 verwoes en daarmee die eerste keer sedert 1971 daar gewen. Hierdie sege, wat vier drieë en ’n bonuspunt vir die Bokke behels het, beteken ook hulle is nou bo-aan die Rugbykampioenskap se puntelys met 13 punte. Die Wallabies kon geen drieë in hierdie kragmeting druk nie en dit is getuienis van hoe goed die Bokke se verdediging is.

Die afgryse en verslaentheid op die beseerde Wallaby-kaptein, James Horwill, en die Australiese breier, Ewen McKenzie, se gesigte teen die einde van die wedstryd het die verloop van hierdie wedstryd passend opgesom. Die telling dui aan dat die Bokke tans in ’n ander liga is en dit sal byna onmoontlik vir die Australiërs wees om die Bokke op Suid-Afrikaanse bodem te troef as hulle mekaar op 28 September in Kaapstad ontmoet.

Die eerste helfte het in alle opsigte aan die Bokke, en meer spesifiek die Bokvoorspelers, behoort. Hulle het die Wallabies eenvoudig oorrompel in die skrums en Francois Louw was telkens ’n doring in hul vlees by die afbreekpunte.

Die groot Bokvoorspelers het voortdurend met hul stormlopies meters gewen en die Aussies het nie ’n aanvalsantwoord vir die Suid-Afrikaners se verdediging gehad nie. Die Aussies se taktiek om met elke bal te probeer hardloop, selfs vanuit hul eie kwartgebied, het hulle in etlike gevalle in die pekel laat beland en strafskoppe op die hals gehaal.

Coenie Oosthuizen het vroeg reeds sy eerste drie in ’n Boktrui gedruk toe hy met die hulp van Flip van der Merwe en ondanks etlike Wallabyverdedigers oor die doellyn gedryf het. Morné Steyn het die telling 7-0 gemaak.  Hy het in daardie stadium ingestaan vir Jannie du Plessis (bloed).

Willem Alberts is daarna vir tien minute afgestuur nadat hy ’n aangee van die Wallabykaptein, Will Genia, opsetlik afgeklap het. Christian Leali’ifano het die strafdoel oorgeklits: 7-3.

Toe Genia vir Ruan Pienaar vanuit ’n onkantposisie gepla het, het Steyn ’n langafstand strafdoel laat oorsweef: 10-3. Nadat Jean de Villiers nie vir Adam Ashley-Cooper ná ’n duikslag gelos het nie, het Leali-ifano die verskil met ‘’n strafdoel tot 10-6 laat krimp.

Steyn het nog twee strafdoele in die eerste helfte behaal nadat die Wallabies eers onkant betrap is en Israel Folau daarna die bal op die grond vasgehou het toe die Boklossvoorspelers hom onder druk gehad het. Genia het ’n vreemde besluit kort voor rustyd geneem om kantlyn toe te skop, ondanks die waarskynlike moontlikheid van drie punte. Louw het hul aanval met omkeerbesit gefnuik en die rustydtelling was 16-6.

Leali’ifano het strafskop vroeg in tweede helfte oorgeskop toe Louw by die afbreekpunt oortree het: 16-9. Steyn en Leali’ifano het daarna beide ’n strafdoel deur die pale gejaag: 19-12.

Die Aussies het hulself goed laat geld in die eerste 20 minute van die tweede helfte, maar daarna het die spreekwoordelike damwal behoorlik gebars. Ruan Pienaar het naby die doellyn die bal na Jean de Villiers gestuur en die Bokkaptein het die vroeë skrif aan die muur geskryf met die Bokke se tweede drie. Daarna het Pienaar ’n lang aangee na Willie le Roux gestuur en hy het rieme neergelê teen die kantlyn af en kort voor die doellyn die bal binnetoe vir Zane Kirchner aangegee vir die Bokheelagter om oor te duik. Die Bokke se wildste drome het waar geword toe Le Roux sonder verwyl sout in die Wallabies se wonde gevryf het met een van sy kernmerklike lopies vir die bonuspuntdrie.

Die Bokke ontmoet volgende week die All Blacks in Auckland, terwyl die Wallabies die Poemas in Perth aandurf.

Punte:

Springbokke:

Drieë:  Oosthuizen, De Villiers, Kirchner, Le Roux

Strafdoele: Steyn (4)

Doelskoppe: Steyn (3)

Australië:

Strafdoele: Leali’ifano (4)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.