Springbokke maak reg vir Suncorp-Toets

 

SA RUGBY

Die Springbokbreier, Heyneke Meyer het bevestig dat eerskomende Saterdag se toets teen die Wallabies ‘n ware maatstaf sal wees van die span se vordering.

Gedagtig aan die Bokke se vorige vertonings teen die Aussies, voorspel die statistiek niks goeds nie. Die Bokke het sewe van die laaste nege wedstyde teen die Aussies verloor en kon nog nooit ‘n wedstryd in die Suncorpstadion wen nie.

Inteendeel, die laaste keer wat ons manne kon wen in Kangaroeland was in 2009, toe die moderne legendes van die spel die Groen-en-Goud gedra het. Bakkies Botha, Victor Matfield en Schalk Burger het weliswaar nie hond haaraf gemaak in Brisbane nie, maar wel in Perth.

Dit plaas die druk vierkantig terug op die span van 2013. Om in Australië te wen, sal hulle hulself moet oortref. Om in Brisbane te wen, sal hulle buite hulself moet speel.

Die mediaskakel vanuit die hoofafrigter se hotelkamer in Brisbane het ons vanoggend bereik en dis opmerklik dat hy doelbewus wegskram van die Suncorpstadion se vloek.

Hy hamer eerder op die span se positiewe ingesteldheid en die feit dat die intimiderende statistiek hulle nie demotiveer nie. Meyer was bereid om uit te brei oor die Bokke se toenemende selfvertroue en die span se positiewe verwagtings eerskomende naweek. Meyer is ‘n meester van kopskuiwe. Dink maar terug aan die jare toe hy ‘n sukkelende Bulspan drie jaar agtereenvolgens die Curriebeker laat wen het en wat hy met hulle reggekry het in die Superrugbytoernooie.

Die feit is dat die Suncorpstadion ‘n begraafplaas is vir  besoekende Springbokspanne en dat die span van 2013 nou getoets sal word vir hul vermoë om onder druk te funksioneer.

“Ons sal Saterdag klinies moet wees,” het Meyer gesê. “Dis nie ‘n kwessie dat ons onsself moet opwerk voor die wedstryd nie, maar dat ons eerder moet konsentreer op dit wat verwag word om hierdie wedstryd te wen.”

“Ons is nog ver daarvandaan, maar ons het heelwat gegroei die afgelope paar maande en ons vergelyk baie beter met dieselfde tyd verlede jaar. Die wegwedstryde is altyd moeilik en dit ontaard gewoonlik in ‘n armdruk-geveg. Hierdie keer geen ek nie om hoe ons wen nie, ons moet net wen,” het hy gesê.

Meyer het gesê dat daar ‘n klomp nuwe gesigte in die span sal wees wat hy teen Woensdag sal aankondig. “Dit was ‘n rowwe agt maande van rugby en dit is besig om sy tol te eis. Ons sal verantwoordelik moet wees in ons spankeuses, daarom sal daar nuwe gesigte in die span wees,” het hy bygevoeg.

Bjorn Basson se gewrigsbesering is iets van die verlede en hy sal Dinsdag weer oefen. Meyer kan nietemin besluit om Willie le Roux na die vleuelposisie te skuif en Pat Lambie op heelagter in te span. Bismarck du Plessis en Adriaan Strauss trek tou oor die beginspan se nr.2-trui en dit mag dalk net wees dat Meyer Strauss verkies vir die eerste 50 minute. Die kaptein van die Cheetahs se beweeglikheid, plofspoed en akkuraatheid by lynstaaningooie is onontbeerlik vir ‘n stewige begin.

Ons verwag ook dat Jannie du Plessis geroteer sal word, en Coenie Oosthuizen bly Meyer se troefkaart. Een speler wie se naam in dik letters op die spanlys sal verskyn, is dié van Morné Steyn. Hy was die Bokke se reddingsboei teen Argentinie in Mendoza. Steyn het blykbaar reeds in Brisbane aangekom en toon geen vlugflou-tekens nie nadat hy verlede Vrydag vir sy klub Stade Français van die bank af gespeel het.

Die Bokbestuur het bevestig dat geen speler wat die afgelope naweek in Europa gespeel het skete oorgehou het nie en dat al 28 beskikbaar is vir Saterdag se wedstryd.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Conrad ·

Nou hoop ek regtig net dat HM vir Lambie sal speel en nie vir Zane nie.

Simon Riekert ·

Sjoe, ja dis ‘n dilemma. Lees gerus ons opvolg oor hoe die Bokke Maandag opgewarm het. Tekens is daar dat Kirchner in sy opdrafgroep sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.