Springbokke: Meyer doen laaste skaafwerk

Wêreldbeker (Foto: sarugby.co.za)

Wêreldbeker (Foto: sarugby.co.za)

Met slegs twee wedstryde oor voor die begin van die Rugbywêreldbeker is dit te betwyfel of die Springbokafrigter Heyneke Meyer veel wyser gaan word uit Saterdag se toets teen Argentinië in Durban.

Strydrosse soos Fourie du Preez, Willem Alberts en Duane Vermeulen het nog nie `n  enkele minuut vir die Bokke gespeel nie met die beseringspook wat deur die hele opboufase na die groot toernooi amok gesaai het.

Meyer weet egter presies wie in sy groep van 31 spelers gaan wees en sekere insluitings vir dié Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap is moontlik `n  manier om die verdeelde rugbypubliek te paai.

Die terugkeer van die -senter en inspirerende kaptein Jean de Villiers was te verwagte met Heyneke se besluit om Jesse Kriel na die vleuel te skuif `n  effense vreemde een met Lwazi Mvovo wat jeuk om speeltyd te kry.

Indien die Bok-breier ernstig oor sy proefnemings was sou hy meer gewaag het met die spelers wat sy reserwekrag tydens die Wêreldbeker sou versterk.

Daar is steeds geen sekerheid oor wie sy derde skrumskakel en losskakel vir die skouspel gaan wees nie terwyl die vierde senter ook nog nie werklik hand opgesteek het nie.

Meyer het nou darem `n  beter idee van wie sy slotte gaan wees met Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Victor Matfield en Lood de Jager wie se name neergeskryf kan word.

Soos De Villiers maak Du Toit sy terugkeer na `n  lang besering en hy sal so gou moontlik wil bewys hy het geen las van die seer knie nie.

Die vaskop stut Vincent Koch kan `n  vuurdoop te wagte wees teen die Argentynse skrum met die gesoute Marcos Ayerza wat as een van die wêreld se voorste loskopstutte beskou word.

Meyer gaan wel Saterdag wil sien die Bokke bou op die positiewe momentum wat hulle teen die All Blacks gewys het.

Suid-Afrika het vanjaar heel skaflik vertoon met die bal in die hande, `n  afdeling in hulle spel wat die laaste paar jaar nogal gelol het.

Met De Villiers wat na buitesenter skuif behou Meyer die slaankrag wat Damian de Allende nog dié seisoen ten toon gestel het.

De Allende kan ook sy vennootskap met losskakel Handré Pollard versterk.

De Villiers het Vrydag in Durban gesê die span het `n  paar verstellings om te maak voor die begin van die Wêreldbeker.

“Daar is natuurlik `n  paar areas waarop ons sal wil verbeter,” het De Villiers gesê. “Ons het oor die laaste paar weke per geleentheid konsentrasie verloor wat ons duur te staan gekom het.

“Verkieslik sal ons selfvertroue uit Saterdag wedstryd kan put. Ons moet vertroue kry in die manier waarop ons speel en hoe ons die spel benader.”

De Villiers het benadruk dat tyd min was vir die span om slypwerk te doen.

Hy sal die Springbokke vir die eerste keer sedert hy sy knie teen Wallis in Cardiff besering het nege maande gelede lei.

De Villiers het erken dat die druk vir spelers om hulle plekke in die Bokgroep vir die Wêreldbeker geweldig toegeneem het.

“Die kompetisie om plekke is goed en dis iets wat my opgewonde maak voor die Wêreldbeker,” het hy gesê.

“Niemand kan dit bekostig om op hul louere te rus nie. Elke speler moet die beste maak van hulle speelgeleenthede.

“Ons het `n  baie opwindende agterlyn en `n  opwindende span as `n  geheel.”

Spanne – 
Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Jesse Kriel, 13 Jean de Villiers (kaptein), 12 Damian de Allende, 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Schalk Burger, 7 Marcell Coetzee, 6 Heinrich Brüssow, 5 Lodewyk de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Vincent Koch, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Siya Kolisi, 21 Cobus Reinach, 22 Pat Lambie, 23 Lwazi Mvovo.
Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Jerónimo De la Fuente, 11 Juan Imhoff, 10 Juan Martín Hernández, 9 Tomas Cubelli, 8 Leonardo Senatore, 7 Juan Manuel Leguizamon, 6 Pablo Matera, 5 Tomas Lavanini, 4 Guido Petti Pagadizabal, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustín Creevy (kaptein), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Julian Montoya, 17 Lucas Noguera, 18 Matías Díaz, 19 Matias Alemanno, 20 Tomas Lezana, 21 Martín Landajo, 2 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Lucas Gonzalez Amorosino.
Afskop: 17:05
Skeidsregter: Romain Poite

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.