Springbokke oorrompel die Aussies

 

images[6]Die Springbokke het vanaand die Wallabies gemaklik met 28-8 op Nuweland in Kaapstad geklop danksy indrukwekkende spel in die eerste helfte.

Die manne in die Groen-en-Goud kon egter nie die vierde drie vir ’n bonuspunt druk nie en die tweede helfte was ’n morsige en saai affêre. Hulle is tans saam met die All Blacks eerste op die puntelys, maar indien die Nieu-Seelanders later vanaand ’n waarskynlike bonuspunt in hul kragmeting teen die Argetynse Poemas kry, sal die bult na Rugbykampioenskap-glorie volgende week baie steil vir die Bokke wees wanneer hulle die All Blacks d op Ellispark  pak.

Hoewel die Bokke hul voet in die laaste 20 minute voor rustyd so effens van die pedaal afgehaal het, is die gaping in vorm en vermoë tussen hulle en die Wallabies duidelik in die eerste 40 minute van hierdie toets geïllustreer. Daarvan getuig die 20-3 voorsprong wat vroeg reeds opgebou is.

Christian Leali’ifano het die Wallabies se enigste punte van die eerste helfte in die openingsminute met ’n strafdoel aangeteken. Daarna het Morné Steyn in sy 50ste toets – en tot groot vermaak van die Nuweland-skare – ’n langafstand-strafdoel oorgeklits nadat die Wallaby-kaptein, James Horwill, nie by ’n losgemaal weggerol het nie.

Daarna het die Bokke hul krag gebruik om die Wallabies letterlik en figuurlik van hul voete af te hardloop en sodoende het die gapings in die verdediging outomaties verskyn. Eers het Adriaan Strauss gedruk ná ’n lang en uiters behendige aangee voor die gesigte verby van die Australiese verdedigers vir die Bok-haker wat langs die pale oorgebars het. Steyn het die doelskop-ritueel voltooi: 10-3.

Die Bokke het van die afskop weer begin dryf en etlike meters gewen voordat die bal in hul eie helfte in die agterlyn laat loop is vir Zane Kirchner wat na ‘’n lang beweging gaan druk het.  Steyn het weer die twee punte bygevoeg en in die 19de minuut sy onbesproke skoprekord 4 uit 4 met ’n strafdoel gemaak: 20-3.

Michael Hooper het later ’n geelkaart ontvang vir ’n boorvat op Eben Etzebeth, maar die Bokke kon nie hierdie getalle-oorwig en momentum gebruik om nog drieë te druk nie. Steyn het wel nog ‘n strafdoel oorgeklits. Rustyd: 23-3.

Suid-Afrika moes vir die eerste paar minute van die tweede helfte sonder Flip van der Merwe klaarkom nadat die slot vir Joe Tomane net voor rustyd met ’n elmboog in die in die gesig gestamp het. Die Bokke het in hierdie periode duidelik klei getrap teen ’n pak wat gewoonlik nie hul gelyke is nie.

Die Wallabies het die Bokke in die tweede helfte  ook ’n proesel van hul eie medisyne i toe hulle die Suid-Afrikaners telkens in hul eie kwartgebied vasgepen en die bal laat loop het. Die Bokke se doelgerigtheid en fisieke dominasie het ook soos die mis oor Tafelberg op ’n sonskyndag verdwyn.

Suid-Afrika is in die 66ste minuut weer tot 14 spelers gereduseer toe Duane Vermeulen ’n bal afgeklap het en met ’n geelkaart gestraf is. Dit het die tuisspan klaarblyklik geïnspireer en Willie le Roux het die Bokke se derde en laaste drie in die hoekie gedruk ná nóg ’n meesterlike lang aangee deur Fourie du Preez. Steyn het die telbord 30-3 laat lees met slegs agt minute oor.

Die plaasvervanger Chris Feauai-Sautia het kort voor die einde ’n troosdrie vir die Wallabies gedruk toe hy ’n kruisskop gevang het en daar geen Bok-verdedigers in sig was nie. Quade Cooper het die doelskop verbrou.

Puntemakers:

Suid-Afrika
Drieë: Strauss, Kirchner, Le Roux
Doelskoppe: Steyn (3)
Strafdoele: Steyn (3)

Australië
Drieë: Sautia
Strafsdoele: Leali’ifano
Geelkaarte: Hooper, Van der Merwe, Vermeulen, Tomane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.