Springbokke, pasop vir ’n piesangskil in Mendoza

Wanneer jy 24 van die 27 toetswedstryde (’n wenpersentasie van 88,88%) teen jou teenstander gewen het, verwag jy ’n amperse losmaker in jou 28ste toetswedstryd.

Maar dis allermins die geval wanneer die Springbokke Saterdagaand in Mendoza (21:10, Suid-Afrikaanse tyd) die Argentynse Poemas in die Rugbykampioenskap pak.

Dit sal ’n maklike piesangskil wees om op te gly, want dit sal ’n klipharde toetswedstryd wees en daar sal geen genade gevra of betoon word nie.

Wees maar verseker dat die Bokke aanstaande week met seer lywe na Suid-Afrika sal terugkeer, want daarvoor sal Agustin Creevy, Pablo Matera, Guido Petti en Juan Figallo en hul maters sorg.

Die Poemas speel in jou gesig. Hulle hou daarvan om te skrum en te rolmaal, en hulle hou daarvan om kontak te maak en om jou terug te duik.

Kom ons stel dit in perspektief: Die punteverskil is gewoonlik gering en die Poemas was in ’n hele paar kragmetings ná rustyd nog voor, voordat die stoom opgeraak het.

Nou is hul eertydse spanmaat, en een van die Poemas se legendes, aan die stuur as afrigter. Hy is ’n denker van die spel, weet hoe om die teenstanders te ontleed en sy span se sterkpunte verder te ontwikkel.

Onthou gerus dat die Poemas onder die vorige afrigter, Daniel Houcarde, die Bokke in 2015 met 37-25 op Kingspark geklop en nog ’n oorwinning in 2016 behaal het toe hulle die Bokke met 26-24 in Salta getroef het.

Hulle weet hulle kan – en hulle het (as die Jaguares) boonop in vanjaar se Superrugbyreeks ook die ys gebreek.

Dis hoekom die Springbokafrigter, Rassie Erasmus (hoewel hy wou) nie proefnemings gedoen het nie en by verlede Saterdag se wenspan (behalwe Franco Mostert) gehou het.

Die Poemas bêre gewoonlik hul beste vir die plaaslike ondersteuners en hulle floreer wanneer hulle met wolwefluite toegejuig word.

Op papier lyk die Bokke te gedug, maar daar is iewers ’n krapperigheid, veral oor die gebrek aan ervaring en samespel agterlangs, oor die spelpeil van sekere agterspelers en oor die speldissipline van sekere voorspelers.

Ai, ’n mens wil mos nie ’n derde nederlaag teen die Poemas beleef nie, hoewel dit maklik kan gebeur.

Die spanne ‒

Argentinië
15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matías Moroni, 12 Bautista Ezcurra, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolás Sánchez, 9 Gonzalo Bertranou, 8 Javier Ortega Desio, 7 Marcos Kremer, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Guido Petti, 3 Juan Figallo, 2 Agustín Creevy (kaptein), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Facundo Bosch, 17 Santiago García Botta, 18 Santiago Medrano, 19 Matias Alemanno, 20 Tomás Lezana, 21 Tomás Cubelli, 22 Jerónimo de la Fuente, 23 Juan Cruz Mallia.

Suid-Afrika
15 Willie le Roux, 14 Makazole Mapimpi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Siya Kolisi (kaptein), 6 Francois Louw, 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Wilco Louw, 19 RG Snyman, 20 Pieter-Steph du Toit, 21 Embrose Papier, 22 Lionel Mapoe, 23 Damian Willemse.

Afskop: 21:10.
Skeidsregter: Angus Gardiner (Australië).
Assistentskeidsregters: 
Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland), Andrew Brace (Ierland).
TV-skeidsregter: 
Simon McDowell (Ierland).
Verwagte weer: 
Matig en droog met ’n ligte wind.
Voorspelling: 
Springbokke met 8 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.