Springbokke plaas Montpellier aan die wenkant

Dit het broekskeur gegaan, maar danksy twee van sy Springbokke het Montpellier in die jongste ronde van die Franse Top14-liga met 11-10 teen Bordeaux-Bègles gewen.

Ruan Pienaar (skrumskakel) het sy span vroeg met ʼn strafdoel laat voorloop, maar Bordeaux-Bègles het die voortou met ʼn drie in die 31ste minuut geneem, en dit in die 41ste tot 10-3 gerek.

Pienaar het die voorsprong vier minute later met nog ʼn strafdoel tot 10-6 laat krimp, voordat Jan Serfontein (binnesenter) die wendrie in die 61ste minuut gedruk het.

♦ Johann Sadie het een van Agen se vyf drieë gedruk in sy sege van 36-34 oor Stade Français.

Hy het SA se o.20-span verteenwoordig, en Superrugby vir die Stormers, Bulls en Cheetahs gespeel.

♦ In Toulouse se sege van 45-28 oor Brive het nog ʼn Bok, Cheslyn Kolbe (linkervleuel), een van die wenspan se drieë gedruk.

Ruhan Hauman (agsteman) van Brive, ʼn gewese Bolandse o.19-speler, is met ʼn geelkaart gestraf.

♦ JP Pietersen (regtervleuel) het die derde Bok geword om in dié ronde van die Top14 te druk toe hy een van Toulon se twee drieë gedruk in laasgenoemde se oorwinning van 27-20 oor La Rochelle.

♦ Die Bok Pat Lambie (binnesenter) het een van Racing 92 se twee drieë verdoel in dié klub se nederlaag van 15-24 teen Pau.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het Don Armand (flank) een van Exeter se drieë in sy oorwinning van 31-30 oor Northampton gedruk.

Hy is ʼn gewese Superrugbyspeler van die Stormers, en het al in ʼn toets vir Engeland gespeel.

♦ Kyle Cooper (haker) se drie in die 51ste minuut het Newcastle op die wenpad geplaas (telling 12-10) teen Harlequins.

Newcastle het uiteindelik die kragmeting met 28-10 gewen.

Cooper het vir SA o.20-span gespeel (ʼn spanmaat van Sadie in 2009), en het die Sharks in Superrugby verteenwoordig.

♦ Die Bok Piet van Zyl (skrumskakel) het London Irish se enigste drie gedruk het in sy oorwinning van 22-9 oor Worcester.

Pro 14-liga

♦ In die Pro14-liga het ʼn gewese Superrugbyspeler van die Cheetahs, Ligtoring Landman, albei drieë van die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons (NGD) teen die Skotse superklub Edinburgh gedruk.

Die Skotte het egter oortuigend met 25-12 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.