Springbokke reeds verby die kruispad

Toe Brendan Venter ná die gelykop toetse teen die Wallabies getwiet het dat alles nie net om wen draai nie, maar oor die vordering wat daar gemaak word, is daar maar net kop geskud.

Venter het vanselfsprekend geskerm vir die Bokke; hy wou die positiewe daaruit haal, maar dit kan die ondersteuners nie meer paai nie.

Hulle is vuisvoos, die rugbylus is gedemp, hulle is moeg vir verskonings en mooipraatjies, vir die slae wat hulle op alle vlakke in die samelewing kry.

Dis hoekom dit so belangrik is dat die Bokke goed moet vaar, dat hulle MOET wen en dat daar WEL vordering gemaak word.

Dis baie maklik om langs die kantlyn te staan, maar immers steek die ondersteuners hul hande diep in hul sakke. Hulle is bereid om tot R950 vir ʼn toetskaartjie op te dok (is dit nie dalk om die All Blacks in aksie te sien nie?).

Hulle betaal om wenrugby, en nie vordering nie, te sien. Hulle wil met ʼn glimlag huis toe gaan, nie om bitter langs die braaivleisvuur te staan nie.

Maar om dit Saterdag in die toets in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks op Nuweland te vermag, sal bitter, bitter moeilik wees.

Om te herstel van ʼn nederlaag van 0-57 in Albany sal nie maklik wees nie. Daar sal baie diep gedelf moet word om die wiel weer te laat draai, veral as jy nie die Wallabies in Bloemfontein en Perth kon klop nie.

Is die span wat die Bok-afrigter, Allister Coetzee, en sy medekeurders teen die All Blacks gekies het, daartoe in staat?

Ek glo nie, al is daar op groot, sterk en swaar voorspelers teruggeval. Onthou, twee van hulle, Pieter-Steph du Toit en Francois Louw, speel uit posisie.

Dis maklik vir Coetzee om te sê dat Louw al voorheen die nr. 8-trui gedra het. Maar in hoeveel van sy 53 toetse? Dis maklik om te se dat dit die perfekte losvoorspelerkombinasie is. As dit wel so is, hoekom is hulle nog nie voorheen gekies nie?

Ja, dalk kan dit blapse in die lynstane toesmeer (dit het vir meer gelyk na powere ingooiwerk deur Malcolm Marx en swak kommunikasie in vorige toetse). Ja, al drie slotte is langer as 2 m en weeg swaarder as 115 kg. Ja, dalk kan daar groter skrumkrag wees en ja, dalk sal daar meer gedryf en gerolmaal word.

Maar wees maar verseker, die All Blacks gaan nie die bal onnodig uitskop nie. Hulle gaan nie die lynstane op ʼn skinkbord vir die Bokke gee nie, en hulle sal besit van die Bokke af weghou sodat die voorspelers nie kan dryf en maal en oorheers nie.

Wat wel teen die All Blacks kan tel, is dat hulle reeds die Rugbykampioenskap gewen het en dat die lang vlugte van Buenos Aires af hulle kan tap.

Maar wat in hul guns is, is dat Nuweland hul grootste bondgenoot weg van die huis is, dat hulle hul beste beskikbare span gekies het en dat hulle ʼn sielkundige houvas op die Bokke gekry het – en dat hulle die beste span in die wêreld is.

Die spanne –

Suid-Afrika
15 Andries Coetzee, 14 Dillyn Leyds, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronje, 8 Francois Louw, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi, 5 Lodewyk de Jager, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Trevor Nyakane, 18 Wilco Louw, 19 Franco Mostert, 20 Jean-Luc du Preez, 21 Rudy Paige, 22 Handré Pollard, 23 Damian de Allende.

Nieu-Seeland
15 Damian McKenzie, 14 Nehe Milner-Skudder, 13 Ryan Crotty, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Scott Barrett, 4 Sam Whitelock, 3 Nepo Laulala, 2 Dane Coles, 1 Kane Hames. Bank: 16 Codie Taylor, 17 Wyatt Crockett, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Matt Todd, 21 Tawera Kerr-Barlow, 22 Lima Sopoaga, 23 David Havili.

Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk)
Assistent-skeidsregters: Romain Poite (Frankryk), Shuhei Kubo (Japan)
Televisieskeidsregter:  Rowan Kitt (Engeland)
Afskop: 17:05.
Verwagte weer: Bewolk, koelerig (18 grade) en wind (23 km/h)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hendrik ·

Ek het toe maar Brendan Venter se raad gevolg en belangstelling verloor.

wesley ·

Ja nee vir Brendan het ek nou rerigwaar respek verloor na daai een… Ek weet hy was nog altyd uitsprekend, maar om so te draai teen die einste ondersteuners wat net die beste wil sien van hul span is nogal pateties… Vordering ja, mar daar sal niks wees as jy vir jouself so lieg nie!

rollie ·

Maak nie saak wie ons kies of wie afrig nie, ons het nie die spelers om die AB’s te klop nie. Ons het iets soos 2 van die laaste 18 kragmetings teen hulle gewen. Dit vertel die verhaal, hulle is BAIE beter as ons.

Jack Russl ·

Ons het die spelers om die AB’s te klop, ons het net nie die afrigting span om dit uit die spelers te kry nie. In baie aspekte is ons daar met die AB’s en beter, maar hulle wen die een aspek en kan dan nie afrond nie of gee die bal net weg.

Waar het jy gesien dat ‘n afrigter sê dat hy nie verwag sy span gaan wen nie. Is dit die vertroue wat hy in sy spelers het?

rollie ·

Sedert 1992 (na isolasie) wen Bokke 15 van 54 toetse teen NS. Die afgelope dekade, 4 van 23 toetse. Selfs ons beste spanne sedert die begin van die beroepsera het maar groot pakslae gekry. Ek kan net onthou van 2 keer wat die Bokke NS in NS kon klop sedert 1992. Ek dink hierdie statistieke vertel die verhaal dat ons baie ver agter is.

Carel ·

SA Rugby word beheer deur ‘n klomp narre.Die “Springbok” span word afgerig deur mense wat ook in ‘n sirkus tent hoort en NIE langs die veld nie.

job jobson ·

Ek hoop nie Elton raak vebouereerd en skop weer die bal wild en doelloos rond nie. Hy is maar bra pap teen teen die ABlacks.

Jack Russl ·

‘n Klomp van die AB’s het nie Arg toe gegaan nie, maar SA toe gekom. Dus is van hulle voorste spelers nie geaffekteer deur die lang vlugte nie

Pietman ·

Ja hoekom AC spelers uit posisie kies sal net hy weet. Dis eenvoudig, speel vlakker, met spoed en afwisseling naby die voorspelers. kopelik sal ons dan vorentoe speel en nie te veel balle afstaan nie.

Jack Russl ·

Stem halfpad saam. Vlakker, ja met die voorspelers, maak hulle moeg. Jy raak vinniger moeg deur te verdedig as aan te val.

MAAR die agterlyn staan heeltemal te vlak, hulle sien die opskiet verdedeging, maar hou aan vlak staan en kry 9/10 keer die bal saam met die verdediger en dan het hulle nie opsies nie. Staan dieper, val die bal aan met spoed. As jy verby een speler is wat opskiet maak daar gate oop by die ander verdedigers

rollie ·

‘n Donkie sal nooit die July wen nie. Ek is bevrees, ons het net nie meer die gehalte spelers (en die diepte nie) om NS te klop nie. Ons beste kans is om maar weer manne wat oorsee speel in te bring om die local manne by te staan. Ek kan regtig nie sien hoe die locals NS kan klop nie, dit sal naby ‘n wonderwerk wees en NS sal besonder sleg moet speel.

Eish ·

Dis korrek. Tydens gister se oefensessie in Stellenbosh, was die duiksakke reeds 22-3 voor so halfpad in die oefening in..

judith ·

Gaan seker weer ‘n krieket score wees? Môre se wedstryd beteken nie veel nie, NZ het niks om te bewys nie het reeds die” Beker” in die kas. baie geluk NZ! Die bokke aan die ander kant sukkel nog steeds voort soos altyd . Wen of verloor maak nie regtig saak nie. Die bokke het nog ‘n lang pad na sukses. Kies die regte persone op die regte plekke dan praat ons weer. ja-nee Job ek stem saam met jou Elton maak my warm onder kraag wanneer hy die balle so doelloos weg skop in die ander ou se keel af en die agterlyn staan -staan die bal voer..regtig gee vir Pollie (Pollard) ‘n kans, nou sit hy die game en kyk van die stoep af. Sterkte aan die Bokke! ek het my krieket klere aan vir more:):):)

De Villiers Hauptfleisch ·

Die Bokke is nie opgewasse teen die afgerondheid, vaardigheid en vindingrykheid van die All Blacks nie en waar kom dit vandaan? Deur goeie afrigting en bestuur. Iets wat die Bokke nie tans het nie. Totdat Springbok rugby nie ontslae raak van politiek nie, sal hulle nie weer maklik `n krag in wêreldrugby word nie. Politiek en sport meng nie. Die Bokke gaan weer Saterdag afgeslag word, maar ek hoop van harte ek is hierdie keer verkeerd.

rollie ·

Die spelers moet die nodige vaardighede reeds op skool leer, op toetsvlak kan die afrigters net help met taktiek. Dis ‘n grondvlak probleem, heelwat NS afrigters het al genoem hoe word vaardighede reeds van jonks af ingedril by spelers in NS.

Ada ·

Dit is jammer dat n deel van die span meer as 100 persent moet gee om vir die kwotaspelers te moet opmaak.Ons speel dus met net n paar man teen groot teenstanders en nie met 15 man nie. Imagine hoe ons sal vertoon sonder politiek in die span.Op die oomblik is die span dieselfde as die SAL die SAUK die munisipaliteite die hospitale die polisie ens ens…

lollie ·

Daar’s tans meer wit kwota-spelers as swart kwota-spelers in die span. Wit kwotas soos Dreyer, Cronje, Kriel, Coetzee hoort nie in die span nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.