Springbokke sê koebaai vir die beker

SA RUGBY logoDie Springbokke het Saterdag in Perth die spreekwoordelike nederlaag uit die kake van ‘n oorwinning gered, 23-24 teen die Wallabies verloor en sommer ook koebaai gesê vir vanjaar se titel in die Rugbykampioenskap.

Daar was weer eens ‘n paar skokkende beslissings deur die skeidsregter (ook in die toets in Napier), maar die Bokke kon nie eers die Wallabies se vaste vyf – een van die swakstes in wêreldrugby – oorheers nie en dit in ‘n toets waarin hulle uitgegaan het om “tradisionele Springbokrugby” te speel!

Ja, die skokkende strafskop teen Duane Vermeulen het aan die Aussies drie onverdiende punte gegee en die geelkaart teen Bryan Habana is seker een van die swakstes ooit. Maar as jy drie minute voor die einde, ná skitterende verdediging op jou doellyn, ‘n verligtingstrafskop kry skop jy die bal UIT!

Op die ou end was hiedie basiese fout deur Morné Steyn die verskil tussen wen en verloor toe die Bokke 23-17 voor was.

Die Springbokke was, met die terugkeer van Matfield, baas in die lynstane, waar hulle drie Wallabyballe afgeneem het. Die skrums was oor die algemeen ook gangbaar.

Die Springbokke se taktiese skopwerk was maar bra pateties. Aanvallende balle is weggeskop, balle is in verdedigers se hande geskop en ‘n paar is ook direk uitgeskop.

As jy die teenstanders onder druk wil sit, doen jy dit nie so nie.

Die Aussies het ook swak geskop, maar die Springbokke het maar net teruggeskop en nooit probeer om munt daaruit te slaan nie.

In Saterdag se twee toetse het almal van rol-, tik- en lugskoppies gebruik gemaak – behalwe die Springbokke. Dit bly een van die beste verwere teen vlakstaande opposisie, of die veld nou nat of droog is.

Dit lyk ook of Heyneke Meyer homself in ‘n gat ingegrawe het met twee binnesenters wat nie een ‘n spelskepper vir die vleuels is nie.

Die wedstryd het dramaties begin toe die Bokke nie die Wallabies se inskop kon beheer nie. Folau het sommer net ná 1 min 28 sek gedruk.

Hendricks het in die 12de minuut met ‘n puik drie geantwoord nadat Willie le Roux se aangee die bepalende faktor was.

Cooper het in die 32ste minuut so byna gedruk, maar die ander punte was almal met skoppe – totdat die Wallabies die kastaiings in die 77ste minuut uit die vuur gehaal het met Horne se drie toe Steyn se strafskop die kantlyn gemis het.

Die skrif is aan die muur: Met sulke spel lê daar net opdraand vir die Springbokke voor – beginnende Saterdag teen die All Blacks.

Punte 

Australië (11) 24: Drieë: Folau (1’30), Horne (77). Doelskop: Foley. Strafdoele: Foley 4.

Suid-Afrika (14) 23: Drie: Hendricks (12). Strafdoele: Steyn 6.  

Spanne

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Morné Steyn, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Marcell Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Bismarck du Plessis, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Lodewyk de Jager, 20 Warren Whiteley, 21 Francois Hougaard, 22 Pat Lambie, 23 Damian de Allende. 

Geelkaart: Bryan habana (65 minute)

Australië: 15 Israel Folau, 14 Adam Ashley-Cooper, 13 Tevita Kuridrani, 12 Matt Toomua, 11 Rob Horne, 10 Bernard Foley, 9 Nick Phipps, 8 Wycliff Palu, 7 Michael Hooper (k), 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 James Hanson, 1 James Slipper.
Bank: 16 Saia Fainga’a, 17 Pek Cowan, 18 Ben Alexander, 19 James Horwill, 20 Scott Higginbotham, 21 Matt Hodgson, 22 Nic White, 23 Kurtley Beale.

Skeidsregter: George Clancy (Ierland)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Conrad ·

Ek sal se een van die redes hoekom ons verloor het is Heneke Meyer s’n. Mens kan sien dat n speler soos Willie le Roux nie meer gelos word om sy kenmerkende spel te speel nie. Ek dink hy word gese wat om te doen. Ek dink die doelloose skoppe was n opdrag. Ek dink ons spelers word nie meer gelos om te doen waarin hulle goed is nie. Arme Lambie, ek kry die ou baie jammer. Hy sit game na game die bank warm en kon rugby hier in SA gespeel het. Dalk sou die Sharks kon wen as hy hier was. Maar nou ja, ek is maar net n toeskouer.

JOHANNES ·

Jammer om te se ek stem nie saam met skrywer oor Habana se geelkaart nie.Dit was i hoogvat kyk weer.Die reel se as die verdediger die baldraer bo die skouersduik is did ‘n hoog vat en habana se een arm WAS bo die skouer. Maar dit no gese my persoonlike opinie is as Juan de Villiers nie onbeskof met die skeidregter gepraat het nie sou HABANA heel moontlik nie ‘n geelkaart gekry het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.