Springbokke sit aan om die Koekblik

Die Westpac-stadion in Wellington. (Foto: Twitter)

In rugby kan statistiek maklik gebuig word om ʼn span te pas en om sy krake toe te smeer, maar op die ou end lieg statistiek nie.

Dis hoekom ʼn mens met ʼn swaar gemoed die Springbokke se droewige vertonings in Wellington se Westpac-stadion probeer verwerk voordat hulle Saterdag na alle waarskynlikheid weer soos skape ter slagting gelei sal word.

Vergeet van die spook van Edenpark in Auckland, van die spook van Dunedin en ook die spook van Christchurch. Vergeet ook van die spook van Albany; Wellington se spook loop dalk die meeste.
In die ou dae, toe daar nog rugby op die ou Athletic Park in Wellington gespeel is, het die Bokke darem drie van die toetswedstryde daar gewen, die All Blacks ook drie en die eerste kragmeting in 1921 in die “Tempel van Wind” was met 0-0 gelykop.

Maar sedert Wellington se “Koekblik”, soos die stadion nou in die volksmond bekend staan, die ou Athletic Park vervang het, is die Bokke sedert 2002 in ses kragmetings segeloos.

Nog erger, ongeag die wind en reën, het die All Blacks reeds 182 punte in ses kragmetings aangeteken en net 79 afgestaan ‒ ʼn gemiddelde oorwinning van 30-13.

Dis die Barrett-broers se agterplaas. Dis waar hulle gedy en waar hulle die vonk by die res van die span aansteek.

Almal weet ook dat die Bokke in koue, wind en reën sukkel. Wees maar verseker, dit gaan nie somerweer in Nieu-Seeland se winderigste stad wees nie.

Nou is die vraag: Hoe kan die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, en sy span sake omkeer?

Hulle kan die All Blacks sekerlik nie met hardlooprugby klop nie, want ongeag die talente van Willie le Roux en Aphiwe Dyantyi, is daar nie genoeg plofkrag nie. Ja, dalk kan Cheslin Kolbe amok maak in die tweede helfte, maar ek is bevrees …

Of ons nou daarvan hou of nie, of ons nou daarmee saamstem of nie, van die nodigste vaardighede ontbreek by die Springbokke. Soos hantering, om die bal na links en reg uit te gee, om die regte besluite te neem, of kanse te gebruik, om takties goed te skop.
Die Bokke het vanjaar in drie wedstryde (teen die twee ander swakste spanne in die Kampioenskap) net 71 punte aangeteken en 76 afgestaan. En statistiek lieg mos nie.

Ook gaan die Bokke na alle waarskynlikheid nie daarin slaag om die All Blacks voorlangs te boelie nie, want as hulle dit nie teen die Poemas of Wallabies kon doen nie, hoe gaan hulle dit teen die All Blacks regkry?

Ja, dalk verras Steven Kitshoff, Malcolm Marx, Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit, maar dan sal die aanvalle nie net eendimensioneel moet wees nie.

Ja, daar is (en was altyd) nog passie, trots en tradisie en ‘n verrassingselement, en ja, die Walliese skeidsregter Nigel Owens kan dalk ʼn rol speel as die All Blacks die reëls sou buig.

Wanneer kom Kersvader nou weer?

Die spanne – 

Nieu-Seeland

15 Jordie Barrett, 14 Ben Smith, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Ryan Crotty, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Scott Barrett, 4 Sam Whitelock, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Liam Coltman, 17 Tim Perry, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Jack Goodhue, 23 Damian McKenzie.

Suid-Afrika

15 Willie le Roux, 14 Jesse Kriel, 13 Lukhanyo Am, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Beast Mtawarira, 18 Wilco Louw, 19 RG Snyman, 20 Francois Louw, 21 Ross Cronjé, 22 Elton Jantjies, 23 Cheslin Kolbe.

Afskop: 09:35 (SA tyd).

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis).

Assistent-skeidsregters: Pascal Gaüzère (Frankryk), Nic Berry (Australië).

TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).

Verwagte weer: Koud en winderig.

Voorspelling: All Blacks met 15 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Judge Dredd ·

Die verrassing sal wees as die Springbokke met minder as 20 punte verloor.

koos1 ·

Dit sal een van die grootste verrassings in die jaar wees as die Bokke die All Blacks klop.
Maar dis ook waar dat die Bokke teen Australie en Argentiëne verloor het hierdie jaar. Ook maar goed ons speel nie nou teen Japan nie.
Pieter Kruger, Kersvader bring geskenke, nie wonderwerke nie!!!

koos1 ·

Laat my nou aan ‘n grappie dink.
Die ou vryf ‘n ou blik en daar kom ‘n “Genie” uit, wat hom ‘n wens gee omdat hy die “Genie” bevry het. Die ou dink en vra dat weens die toestand in SA wil hy ‘n pad oor die see tussen Amerika en SA gehou hê, sodat ons net kan oor ry Amerika toe. Die “Genie” vertel hom dat dit onmoonlik is en dat hy ‘n ander wens moet maak. So wens hy dat die Bokke die All Blacks Saterdag moet wen. Die “Genie” vra toe vir hom of hy daai pad tussen SA en Amerika as enkel of dubbel bane soek!

Snowball ·

???janee, daar is ‘n groter kans dat jy botter met ‘n stopnaald in ‘n ystervark se agterwêreld kan instop, as dat die bokke kan wen.

Kriel ·

Hier kom n gróót pakslae!! Go AB’s!!! Al 13jaar n trotse Kiwi!

Gollie ·

Wees positief en glo die bokke sal knoop deur haak,sal wen.

Petrus ·

Die Bok stories en verloor is iets om oor te huil. Die afrigter kry ek jammer, want teen Australie het individuele spelers pateties gespeel en die kaptien verkeerde besluite geneem. Die beste spelers speel nie en klaar: Willie le Roux, Pollard en Whiteley hoort nie daar nie. Kolisie is ‘n goeie speler maar die verkeerde kaptein ongelukkig. Daar sal moet na oorsese spelers gekyk word vir die einde van die jaar toer en hulle sal vir volgende jaar ingespan moet word. Rassie moet nie te tegnies raak nie en die manne laat rugby speel, soos toe hy die Cheetahs afgerig het en vir hulle gespeel het. Tyd het hy genoeg. Kitch kon ‘n span in 3 maande bou, hy moet net die regte spelers kies!

Willem ·

Ek kan nou maar nie help nie, elke keer as ek die opskrif lees, dan dink ek aan ‘n koek waarom mense sit soos dit uit ‘n trog skep. Die rugbystelsel het mos ‘n fabriek geraak wat werk aan mense moet voorsien, die spelers gaan soos deur ‘n worsmasjien, want terwyl die koek hou moet so veel as moontlik skep, die spel het bysaak geraak, dis die geld wat praat. Dis maar niks anders as met die res van die land nie. So dis duidelik dat die standaard van die spelers wat om die koek saamgedrom is sal verswak.

Ougert ·

En nou? Ai! Al ons kenners en smartgatte se bekke is nou toe! Geen meer slimstories nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.