Springbokke teen Skotland: Slim, slimmer, slimste

Daar is net een manier om jou groter, sterker en meer fisieke teenstanders in rugby te klop: Jy moet slimmer as hulle speel.

Vergeet daarvan om die vaste fasette te probeer oorheers, vergeet daarvan om te probeer meeding. Daar is net een uitweg: Jy moet hulle uitoorlê.

Jy moet hulle ontwrig deur takties beter te skop, die bal van hulle af weg te hou, hul besit stadig te maak, hul rolmale en binne-agterspelers agter die voordeellyn te stuit en jou geleenthede omskep om punte aan te teken.

Dit het in 2010 op Murrayfield gebeur toe Skotland die Springbokke met 21-17 geklop het.

Dit was ʼn Springbokspan vol wêreldbrekers, soos Bismarck en Jannie du Plessis, Beast Mtawarira, Bakkies Botha, Victor Matfield, Juan Smith, Willem Alberts (plaasvervanger), Morné Steyn, Jean de Villiers en Francois Steyn, maar hulle het vasgeval omdat die Skotte slimmer gespeel het.

Ja, dit was koud en nat, en ja, die Springbokke het na alle waarskynlikheid die Skotte onderskat.

Die Skotte kon ook nie die Springbokke se doellyn oorsteek nie, maar watter Skotse ondersteuner het agterna gekla nadat hulle met ses strafdoele en ʼn skepdoel gewen het?

Dink ook maar terug aan Japan se oorwinning in 2015 oor die Springbokke in Brighton in die Wêreldbeker-toernooi.

Toe het hulle ook slimmer gespeel, die bal gerek, al hul kanse gebruik.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, besef dit alte goed, want hy het in 1997, 1998 en 1999 teen die Skotte gespeel. Hy was die afrigter van Munster in die Pro14-reeks teen die Glasgow Warriors, wat deur die huidige Skotse afrigter, Gregor Townsend, gebrei is.

Dis waar hulle koppe gestamp het oor Townsend se taktiek om die Ierse skrumskakel Conor Murray aan bande te lê.

Wees dus maar verseker dat Embrose Papier, die Bokke se skrumskakel, in die Skotte se visier sal wees.

Die Bokke hou die meeste van die troewe, maar as hulle ook nie slim gaan speel nie, kan hulle maklik vasbrand. Kyk maar net hoe het die Bokke verlede Saterdag teen die Franse gesukkel toe hulle hul taktiek verander het?

Dis boonop aan die einde van ʼn lang seisoen, dis weg van die huis af, dis koud en winderig en die Skotte gaan die spel vinnig maak en wyd speel.

As die Bokke nie kan byhou nie, kan die Skotte hul sesde oorwinning in 27 toetse oor die Bokke behaal.

Maar kom ons stel dit liewer positief. As die Skotte nie slim genoeg is nie, sal die Bokke hul 22ste oorwinning in 27ste toetswedstryde behaal.

Maar, o wee! Die Franse skeidsregter, Romain Poite, is in beheer!

Spanne ‒

Skotland
15 Stuart Hogg, 14 Tommy Seymour, 13 Huw Jones, 12 Pete Horne, 11 Sean Maitland, 10 Finn Russell, 9 Greig Laidlaw (kaptein), 8 Ryan Wilson, 7 Hamish Watson, 6 Sam Skinner, 5 Jonny Gray, 4 Ben Toolis, 3 WP Nel, 2 Stuart McInally, 1 Gordon Reid. Bank: 16 Fraser Brown, 17 Allan Dell, 18 Simon Berghan, 19 Josh Strauss, 20 Jamie Ritchie, 21 Ali Price, 22 Adam Hastings, 23 Chris Harris.

Suid-Afrika
15 Willie le Roux, 14 Sibusiso Nkosi, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Embrose Papier, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 RG Snyman, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Thomas du Toit, 18 Vincent Koch, 19 Lood de Jager, 20 Francois Louw, 21 Ivan van Zyl, 22 Elton Jantjies, 23 Cheslin Kolbe.

Afskop: 19:20.
Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk).
Assistent-skeidsregters: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland), Frank Murphy (Ierland).
TV-skeidsregter: Ben Skeen (NS).
Verwagte weer: Koud en winderig.
Voorspelling: Springbokke met 10 punte.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swartwolf ·

Nie te moeilik om slimmer te speel as die bokke nie. Daar is niemand op die veld wat hulle kan lei om ‘n slimmer spelpatroon te handhaaf nie. Rassie kan maar praat halftyd……

rollie ·

Rassie kies die spelpatroon en stuur orders op soos die wedstryd aangaan ( die water boys en skop-assistente met boodskappe is gedurig op die veld as jy nog nie opgemerk het nie). Die kaptein het niks met die spelpatroon te doen nie, speel op orders van die useless afrigter.

wolla ·

Kaptein het niks met spelpatroon te doen nie. Speel op orders van die afrigter, voor en gedurende die wedstryd.

Niklaas ·

Daai Skotte is oorgehaal vir ons. Moenie dink dis makliker as teen swakkerige Franse. Daar was ons net gelukkig om te wen. Pasop vir oorgerustheid is al raad vir Bokke. Laat ons maar hoop dinge verloop in ons guns. Enigiets is moontlik .

Linda ·

Skotland 20 v Springbokke 26…amper gee Pieter-Steph Du Tout my n hartaanval !!! Geluk Bokke !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.