Springbokke teen Wallis: Die laaste tree

Daar is baie geskryf en gepraat oor die Springbokspanne wat die afrigter, Rassie Erasmus, vanjaar in 14 toetswedstryde gekies het.

Sy proefnemings is nou klaar gedoen, die regte kombinasies is hopelik gevind en die opdrafspan en afronders (plaasvervangers) weet presies wat van hulle verwag word.

Dis hoekom hy sy span wat Skotland geklop het, net so behou het.

Jy sal nooit almal tevrede kan hou nie, maar daar loop weinig spelers in Suid-Afrika rond wat die span wat Saterdagmiddag in die Principality-stadion in Cardiff teen Wallis speel, kan uitdaag.

Wen of verloor, dit is die kerngroep wat die Springbokke aanstaande jaar in die Wêreldbeker-toernooi in Japan sal verteenwoordig, al hou Erasmus vol dat hulle nie ʼn vrypas na Japan het nie.

Maar dit sal beslis nie maklik wees om Wallis te klop nie.

Inteendeel, dit sal ʼn uitsonderlike prestasie wees, en dit sal ʼn soortgelyke vertoning verg as teen die All Blacks in Wellington en op Loftus Versfeld.

Hoekom?

Want Wallis (derde) is hoër as die Springbokke (vyfde) op Wêreldrugby se ranglys. Die Rooi Drake speel tuis, hulle is onoorwonne in hul laaste agt toetswedstryde en hulle is nie poegaai gespeel aan die einde van die seisoen wat reeds in Februarie begin het nie.

Afgesien van die beseerde heelagter Leigh Halfpenny (harsingskudding) kon die afrigter, Warren Gatland, ook sy keurspelers kies.

Klink dit te negatief? Nee, dis feite.

Maar dis in sulke kragmetings waar helde gebore en die rekordboeke herskryf kan word, en waaroor daar jare hierna om die braaivleisvure gesels kan word.

Het die Bokke ʼn realistiese kans?

As ʼn mens die rekordboeke van die begin af naslaan, kan hul wenpad uitgestippel wees, want Wallis kon immers sedert 1906, toe die spanne die eerste keer by St. Helen’s in Swansea kragte gemeet het, net vyf van die 34 toetswedstryde tussen die twee lande wen.

Maar wat kommerwekkend is, is dat vier van daardie oorwinnings in die laaste vyf wedstryde was.

Die dae van Springbok-oorheersing, van 16 agtereenvolgende oorwinnings tussen 2000 tot 2014, is rugbygeskiedenis.

Wallis het, soos die meeste ander spanne in die Noordelike Halfrond, die gaping heeltemal uitgewis.

Daar is nie meer sielkundige letsels nie, want Wallis het reeds in 2014 die brug oorgesteek.

Wat baie belangrik is, is hoe die Bokke gaan speel.

Dis slaan ʼn mens dronk dat hulle nie kon voortbou op verlede week se eerste drie teen Skotland op Murrayfield nie. Skitterende samespel tussen voor- en agterspelers, uitstekende hanteerwerk, alles op volle vaart uitgevoer.

Hou daarmee vol en die slag kan geslaan wees.

Spanne ‒

Wallis

15 Liam Williams, 14 George North, 13 Jonathan Davies, 12 Hadleigh Parkes, 11 Josh Adams, 10 Gareth Anscombe, 9 Gareth Davies, 8 Ross Moriarty, 7 Justin Tipuric, 6 Dan Lydiate, 5 Alun Wyn Jones (kaptein), 4 Adam Beard, 3 Tomas Francis, 2 Ken Owens, 1 Nicky Smith. Bank: 16 Elliot Dee, 17 Rob Evans, 18 Dillon Lewis, 19 Cory Hill, 20 Ellis Jenkins, 21 Tomos Williams, 22 Dan Biggar, 23 Owen Watkin.

Suid-Afrika
15 Willie le Roux, 14 Sbu Nkosi, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Embrose Papier, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 RG Snyman, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Thomas du Toit, 18 Vincent Koch, 19 Eben Etzebeth, 20 Francois Louw, 21 Ivan van Zyl, 22 Elton Jantjies, 23 Cheslin Kolbe.

Afskop: 19:20.
Skeidsregter: Luke Pearce (Engeland).
Assistent-skeidsregters: Wayne Barnes, Karl Dickson (albei Engeland).
Televisieskeidsregter: Simon McDowell (Ierland).
Verwagte weer: Koud, winderig met ligte reën, Maar dit sal geen rol speel nie, omdat die dak toegemaak sal wees.
Voorspelling: Springbokke met 3 punte (met die hart); Wallis met 6 punte (met die kop).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LHS ·

Ek is jammer maar Erasmus se kern is op n paar na n uiters vrot kern en dit sal Wallis more al bewys.

Buffel ·

Bokke is ‘n spul narre met die grootste hanswors die kaptein. Dan Kolbe wie deur die kleinste walliese voorspeler met een arm opgehou word om die bal wag te gee. Spring rond soos ‘n jack in tbe box maar kom nerens. Dwergery op sy heel beste. Bokke verlore.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.