Springbokke terug op eie bodem

Die Springbokspan het Maandag teruggekeer van sy Suid-Amerikaanse toer. Hulle het die Poemas in Mendoza net-net met 22-17 geklop en in die proses die topposisie van die puntelys in die Castle Lager Rugbykampioenskap behou.

Die span rus drie dae lank voordat die spelers Donderdag in Johannesburg bymekaarkom. Die toergroep van 28 spelers word Woensadg aangekondig en vertrek Saterdag na Australië vir die volgende twee wedstryde in die kampioenskap. Die Springbokke speel op 7 September in Brisbane teen Australië en op 14 September in  Auckland teen die All Blacks.

Vyf spelers is deur SARU vrygestel om eerskomende naweek klubrugby te speel. Hulle is Morné Steyn (Stade Francais),Bryan Habana (Toulon),Juandré Kruger (Racing Metro), Gurthrö Steenkamp and Jano Vermaak (albei Toulouse).

Jurie Roux, die hoofbeampte van SARU het gesê dit is ‘n unieke, eenmalige toegewing.

“Die meeste spelers het onlangs by die Franse liga ingeskakel en alhoewel ons hulle sou wou behou vir kondisionering voor die Australasiese toer, het ons voldoen aan die klubs se versoeke. As hulle gekies word vir die toetse in Australasië, sal hulle in Brisbane by die Springbokke aansluit,” het Roux gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.