Springbokke wag vir nuus oor res van Rugbykampioenskap

Die Springbokke het hul eerste wedstryd in die Rugbykampioenskap-toernooi gewen (Augustus 2021) (Foto: Hansie Linde)

Springbok-afrigter Jacques Nienaber sê sy span bly vir eers in Nelson Mandelabaai totdat daar uitsluitsel is oor die res van die wedstryde in die Rugbykampioenskap.

“Ons sal graag die Rugbykampioenskap hier in Suid-Afrika speel. Ons het bewys ons kan dit doen. Maar ons sal enige plek speel as ons moet. Ons het ses scenario’s gereed en wanneer die besluit geneem word, sal ons dit in werking stel.”

Die moontlikheid is reeds genoem dat die res van die wedstryde in die Rugbykampioenskap in Europa of in Suid-Afrika gespeel kan word. Strenger inperkingsmaatreëls in Australië en Nieu-Seeland het die toernooi in ʼn chaos gedompel. Die All Blacks het Australië en Sanzaar erg omgekrap toe hulle Vrydag uit die bloute aangekondig het die span vertrek nie Perth toe om volgende Saterdag teen die Wallabies te speel nie.

Nieu-Seeland wou eers wag vir uitsluitsel oor die res van die toernooi. Terselfdertyd het die Nieu-Seelanders aangekondig dat die toetse teen die Springbokke nie daar gespeel kan word nie.

Die onsekerheid oor die res van die toernooi het ʼn demper geplaas op die Bokke se oorwinning van 29-10 oor Argentinië in Gqeberha (Port Elizabeth).

Nienaber het sy spelers na die wedstryd geprys vir die oorwinning.

“Dit was ʼn reusetoets vir ons. Nie groter as ʼn Wêreldbeker of ʼn wedstryd in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus nie, maar dit was reusagtig vir ons in die binnekring. As jy daarna kyk vanaf die SA ‘A’ wedstryd teen die Leeus en daarna die drie toetse in die reeks teen hulle en dan die twee taai toetse teen Argentinië, dan praat jy van ses agtereenvolgende toetswedstryde en nou kan ek net sê, wel gedaan manne.”

Kaptein Siya Kolisi het ná die wedstryd gesê hulle het ʼn groter aanslag van die Argentyne verwag na verlede week se 32-12 nederlaag.

“Hulle speel vir die mense van Argentinië soos ons speel vir die mense van Suid-Afrika en ons het geweet ons het ons rug teen die muur. Ons het geweet hulle gaan kom en hulle het. Hulle is ʼn baie passievolle span en ons het geweet hulle gaan alles gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Philip

What Ever stel nie rerig belang nie en so ook duisende vorige rugby ondersteuners. Geen normale sport in n abnormale land en regeringstelsel nie boikot die hele spul.