Springbokke wil deur spel hoop bring

Foto: Behrouz Mehri/AFP.

Te midde van die chaos waarin Suid-Afrika homself met die derde golf van die Covid-19-pandemie en die gewelddadige onluste bevind, wil die Springbokke weer vir glimlagte op die gesigte van hul ondersteuners sorg.

’n Sterbelaaide SA A-span speel juis vanaand teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad en die Springbok-bestuurspan het ’n hele paar Wêreldbeker-wenners vir dié kragmeting gekies.

Mzwandile Stick, die Bokke se hulpafrigter, sê die span wil weer eens vir hoop in moeilike tye sorg.

“Op grond van dít wat ons op televisie en sosiale media gesien het, leef ons in baie hartseer tye. Een van die hoofredes waarom ons vir die Springbokke speel, is juis om vir glimlagte op ons ondersteuners se gesigte te sorg.”

Volgens Stick sal hy nooit die gevoel van eenheid ná die Wêreldbeker-eindstryd vergeet nie en hy hoop dat die span daarop sal kan voortbou.

“As ons ’n gevoel van eenheid kan versterk deur in hierdie toetse te speel, sal dit wonderlik vir ons as span wees.”

Die Springbokkaptein Siya Kolisi het juis ná afloop van die geskiedkundige eindstryd in Japan gesê dat samewerking baie belangrik is.

“In Suid-Afrika is daar soveel probleme, maar om ’n span soos dié te hê – ons kom uit verskillende agtergronde en is deel van verskillende rasse. Tog het ons as span saamgekom met één doel voor oë en ons het dit bereik. Ek hoop ons kon dit vir die mense van Suid-Afrika wys: Ons kán saamwerk as ons iets wil bereik,” het Kolisi destyds gesê.

Intussen berig AFP dat die Britse en Ierse Leeus-toerspan weer eens van hul veiligheid verseker is.

“Daar was gesprekke met die Leeus en veiligheidsmaatreëls is opgeskerp,” het ’n anonieme veiligheidsbeampte gesê.

“Suid-Afrika is ’n groot land en die Wes-Kaap is verwyderd van die gebiede wat die ergste onder die onluste deurloop. Ek sou sê dat dit tans die veiligste deel van die land is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.