Springbokkeurders se groot blaps

Paul Bayvel was ’n talentvolle skrumskakel vir Transvaal en die Springbokke. Foto: Verskaf.

Destyds, toe die nasionale keurders nog die Springbokrugbyspan gekies het en die afrigter nie veel van ʼn sê gehad het nie, is daar baie keer drooggemaak.

Soos in 1974, toe hulle Gerrie Sonnekus, ʼn vaardige agtsteman, as skrumskakel vir die derde toets in Port Elizabeth teen die Britse Leeus gekies het.

Dit het alles om Paul Bayvel gedraai, wat vroeër die week die stryd teen kanker verloor het.

Bayvel was na alle waarskynlikheid die beste skrumskakel wat Transvaal en die Goue Leeus nog gehad het. Vergeet van Faf de Klerk, vergeet van Ross Cronje, vergeet van John Robbie en Johan Roux. Bayvel was die beste van hulle almal. Hy was blitsvinnig, het ʼn suiwer aangee gehad, kon breek én skop.

Hy het sy Springbokbuiging in 1974 in die tweede toets teen die Britse Leeus in 1974 op Loftus Versfeld gemaak nadat die keurders gefouteer het deur Roy McCallum in die eerste toets op Nuweland (dit was sy enigste) te kies.

Bayvel het in net tien toetse gespeel en was in 1976 saam met Gerald Bosch die argitekte van die Bokke se reeksoorwinning van 3-1 oor die All Blacks.

Bayvel het in 1974 kort voor die derde toets teen die Britse Leeus ʼn besering opgedoen. Sy logiese plaasvervanger was Gert Schutte van Griekwas wat saam met Sonnekus na Port Elizabeth gehaas is.

Die Springboklosskakel in die derde toets was Jackie Snyman en Sonnekus en Schutte moes glo ʼn paar balle na hom in ʼn hotelsitkamer gooi waar ʼn paar meubelstukke as “Leeus” gedien het.

Dit was ʼn katastrofiese besluit en Sonnekus het eers weer in 1984 in nog twee toetse teen Engeland (as agtsteman) gespeel.

Bayvel is vir die vierde toets teen die Leeus op Ellispark ingespan en die Bokke het darem gelykop gespeel, om steeds die reeks met 0-3 te verloor.

Nie een van Bayvel, Schutte (wat nooit vir die Bokke gespeel het nie) en Sonnekus het dit verdien nie.

Dit wys jou net, ʼn afrigter en sy adjudante moet die span kies en as hulle dan misluk, staan hy pa daarvoor … en nie die sewe keurders wat byvoorbeeld in 1994 die Springbokspan in 1994 (weer met katastrofiese gevolge) teen die All Blacks gekies het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokkie ·

En Barry Wolmarans was ook destyds ‘n slagoffer van die SA-keurders.

MakersMark ·

Die broederbond keurders en afrigters, nie die spelers moes die blaam dra van die ’74 Leeu toer fiasco vir Springbok rugby wat ‘n segetog was vir die Leeus. Die Leeus was goed, onvoorspelbaar, brilliant en kon dit dik aanmaak voor. Die druk op die Bok spelers om te wen vir “volk en vaderland” maar om toetse met 50% nuwe spelers op die veld te gaan was ‘n onmoontlike taak. Die bokke het die fisiese vermoe gehad om die Leeus aan te vat maar nie die intellektuele en emosionele volwassenheid of leierskap wat van die afrigters en bestuur af moes kom nie. Elke toets, die eerste 20 min was die bok voorspelers sterk en soms tot halftyd die Leeus aangevat, sodra die Leeus met meer flair begin speel het die Bokke beheer oor die wedstryd verloor en begin uitrafel, amper asof hul reeds die wedstryd “tussen hul ore” verloor het. Gee die Leeus krediet, hul het in ’72 die All Blacks in NZ geklop en op die SA toer nie een wedstryd verloor nie. ‘n Paar SA provinsiale spanne het vrek naby gekom.

twaalfboor ·

Johan Roux was dalk vir Transvaal een van “hulle” bestes…. maar was waaragtig nie Springbok gehalte nie.

MakersMark ·

Hy was Joost se “understudy” in ’95 wereldbeker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.