Suid-Afrika was nog altyd geseënd met spogvleuels, selfs in die donkerste dae van Springbokrugby.
Dink maar terug aan Bryan Habana, Ray Mordt, Carel du Plessis en Jannie Engelbrecht.
Maar wat dan van Hennie van Zyl, Tom van Vollenhoven, Wilf Rosenberg, Gert Muller, Syd Nomis, Paul Johnstone, Theuns Briers, Gerrie Germishuys, Willem Stapelberg, Corra Dirksen, Hannes Viljoen, Breyton Paulse, Jaque Fourie (ja, ook as vleuel), James Small, Chester Williams, Chris Pope en Cheslin Kolbe?
In my boekie moet ʼn vleuel kan afrond, sy teenstander kan klop, veilig onder die hoë bal wees, rotsvas kan verdedig en skop, nooit “dood” met die bal speel nie, werk soek, veelsydig wees en boonop soos Habana links of regs kan speel.
Habana en Du Plessis is my twee voorste keuses, gevolg deur Mordt en Engelbrecht.
Bryan Habana: Hy was vinnig en vaardig, eintlik ʼn rugbyfrats, want hoe anders kan jy 67 drieë in 124 toetse (2004 tot 2016) druk? Nege drieë teen die Wallabies, agt teen die All Blacks en Poemas en ses teen Engeland. Dis nie net Suid-Afrikaners wat so dink nie: gaan kyk maar in hoeveel wêreldspanne hy gespeel het, hoeveel buitelandse spelers hom bestempel as die moeilikste teenstander teen wie hulle nog gespeel het. Wie kan nog daarteen stry?
Carel du Plessis: Die Prins van Vleuels. Ai, dis jammer dat hy in net 12 toetse tussen 1982 en 1989 gespeel het en met net vier drieë spog. Hy kon met die bal sweef, hy was vinnig en vaardig en sy drie vir ʼn wêreldspan op Twickenham word as een van die bestes in wêreldrugby beskou.
Ray Mordt: Een van die ystermanne van rugby wat in 18 toetse tussen 1980 en 1984 12 drieë gedruk het. Sy drie drieë in 1981 se meelbomtoets teen die All Blacks in Auckland sal altyd ʼn ereplek in Springbokrugby hê. Ek is seker van sy teenstanders kla tot vandag toe oor die pyne ná ʼn Mordt-plettervat of wanneer hy oor hulle gestoomroller het.
Jannie Engelbrecht: Lank, lenig, blitsvinnig met ʼn vernietigende lyfswaai, hoewel hy in die Noorde as “Bang Jan” bekend gestaan het, seker maar omdat hy so goed was. Hoeveel ander vleuels (of spelers) kan op Loftus met ʼn gebreekte sleutelbeen twee drieë teen hulle druk? Sy agt drieë in 33 toetse tussen 1960 en 1969 was kroonjuwele.
Die vier buiteperde? Paulse, Nomis, Small en Muller.
Wat van Pieter Hendriks?
Ek dink ook Pieter Hendriks kan genoem word.Hy was vinnig en kon sy teenstanders klop.Die meeste onthou hom waar hy David Camphese klop in die 1995 openings wedstryd teen Australië.Dit was ‘n goeie lopie maar Camphese was daar al op die afdraande pad.