Springbokrugby: Hoe kies jy tussen Joost en Fourie?

Die foto van Joost van der Westhuizen is op 24 Junie 1995 geneem. Foto: (AP Photo/John Parkin, file)

Enige rugbyland is bederf as hy twee skrumskakels soos Joost van der Westhuizen en Fourie du Preez in sy geledere gehad het.

Hulle was goud, pure goud.

In Cardiff in Wallis pronk daar ʼn bronsstandbeeld van die legendariese Walliese skrumskakel Garth Edwards in die ingang van die St. Davids-winkelsentrum. Edwards is ook met Britse ridderskap beloon, maar was hy beter as Du Preez of Van der Westhuizen?

Hoekom is die kans jare lank laat verbygaan om nie sommige pawiljoene of Loftus Versfeld na Blou Bul-legendes soos Du Preez, Van der Westhuizen en Frik du Preez  te vernoem nie?

Saam het Van der Westhuizen en Du Preez in 165 toetse vir die Bokke tussen 1993 en 2015 gespeel en ʼn ongelooflike 54 drieë gedruk.

Albei was Wêreldbekerwenners, kaptein van die Bokke met ʼn rits titels in die Drienasies, Rugbykampioenskap, Superrugbyreeks en Curriebeker agter hul name.

Albei was lojale Blou Bulle en het nooit vir enige ander span in Suid-Afrika Super- of provinsiale rugby gespeel nie.

Wen was hul enigste opsie, maar hulle was soos vinkel en koljander, met Van der Westhuizen meer uitgesproke en Du Preez die spreekwoordelike stille sluipmoordenaar.

Van der Westhuizen het die Wêreldbekertoernooi in 1995 saam met die Bokke gewen, in net sy 13de toets. Hy het geen bang haar op sy kop gehad nie, was bereid om selfs vleuel te speel om Jonah Lomu hok te slaan.

In 1996 was Van der Westhuizen briesend toe André Markgraaff vir Johan Roux bo hom verkies het.

“Vergeet van rotasie, ek is sommer net so gedrop en sal julle almal verkeerd bewys,” het Van der Westhuizen bitter gesê.

Soos talle kere in sy loopbaan het hy teruggeveg en sy plek herwin.

Ek het hom in 1997 nog nooit so teleurgesteld en kwaad gesien soos ná die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus op Nuweland nie.

Die breedsprakerige Engelse skrumskakel Matt Dawson het Ruben Kruger, Gary Teichmann, Van der Westhuizen (eintlik was Teichmann in sy pad) en André Joubert met ʼn fopaangee geflous en ’n drie gedruk wat waarskynlik die reeks in die Leeus se guns geswaai het.

Van der Westhuizen se groenblou oë het vuur geflits, hy wou nooit daaroor praat nie. Hy wou net wraak neem, wys hy is die beste in die wêreld, wat hy destyds was.

Fourie du Preez. Foto: Twitter.

Du Preez was tegnies die beste van die twee. Hy kon van jongs af ewe goed na links en regs uitgee, hy kon links en regs skop, hy kon na links en regs breek.

Net soos sy pa, Fourie (sr.) wat destyds deur die nasionale keurders ʼn onreg aangedoen is toe hy nooit vir die Bokke gekies is nie, het Du Preez terugslae soos ernstige beserings aanvaar en na ʼn hoër rat oorgeskakel.

Hy was ʼn spanman duisend, iemand met wie jy na die spreekwoordelike oorlog toe sou wou gaan, en wou nie in die kollig wees nie.

Wie sal die regmerkie in die Springbokspan van alle tye kry?

Fourie du Preez met ʼn kortkop, met Joost van der Westhuizen op die bank.

Fourie du Preez: 76 toetse tussen 2004 en 2015, 16 drieë: 56ste Bokkaptein, Wêreldbekerwenner in 2007, twee Rugbykampioenskaptitels, drie Superrugbykrone.

Joost van der Westhuizen: 89 toetse tussen 1993 en 2003, 38 drieë: 48ste Bokkaptein, Wêreldbekerwenner in 1995, Drienasiestitel in 1998, lid van die IRB se Heldesaal (2007).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

Ek stem twee van die beste in die wereld ,en soos Joost self gesê het hy was gelukkig om daar te wees want hy kom van die verkeerde skool af ,nou wonder ek hoeveel is daar buite wat ook by die verkeerde skool was en nie gelukkig was nie.

koos10 ·

Dis so waar Michael1. Joost was in FH Odendaal Hoër, nou nie juis een van die “sterk” rugby skole nie. In die sterk bedoel ek ook finansiële posisie. Dat daar brinjante spelers in die “armer” skole is is baie waar, maar hulle en hul ouers kan nie mee ding teen die “goeie” rugby skole nie. Dan is daar ook skole wat van hulle spelers “beroof” word omdat die skole nie aan koop van spelers glo nie – en hier is ook een van die grootste dorings in die vlees. Om ‘n speler te koop of borg op skool, leer die speler presies die teenoorgestelde van waaroor skole en sport gaan.
In die agtergrond glo ek Joost het baie hoër uitgestyg as baie ander spelers, en het daarom altyd ‘n sagte plek in my hart.

Naas ·

Beide was goeie spelers met Joost wat bietjie meer natuurlike talent as Fourie gehad het. Hulle is egter in die skadu van Dawie de Villiers wat die beste nr 9 is wat die Bokke nog ooit gehad het.

Dubbelloop ·

Ek kan net getuig dat elke era sy beste spelers oplewer. Dawie, Divan, Garth, Joost, Fourie . So kan mens in elke posisie doen.
Net my mening
Danie Gerber die beste senter ooit…

MakersMark ·

Fourie was ‘n rugby generaal en brein agter die skrum soos min. Maar Joost het met instink en flair gespeel, hy was ‘n “footballer” wat die onmoontlike kon doen en ‘n wedstryd wen. Joost was ook sterker en vinniger as Fourie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.