Springbokrugby is (hopelik) op die regte pad

Allister Coetzee (Foto: Twitter)

Allister Coetzee (Foto: Twitter)

Dís mos soos rugby gespeel moet word, dis mos die paadjie wat die nuwe Springbok-afrigter, Allister Coetzee, moet stap en dis mos die plan om die All Blacks te klop.

Dis nie ek wat só sê nie, dit was die kommentaar van Nick Mallett en Naas Botha ná Saterdag se Superrugby-wedstryde tussen die Lions en Stormers op Ellispark en die Bulls teen die Reds op Loftus Versfeld – en voeg sommer daarby die Cheetahs se vermorseling van die Sunwolves Vrydagaand in Bloemfontein.

Dit was nie basketbal nie, soos wat die Engelse joernalis Stephen Jones Superrugby `n paar jaar gelede bestempel het. Daar is nie afgewyk van die basiese beginsels nie, die agttalle het mekaar met mening aangedurf, daar is geskrum, gemaal en getêkkel. Dit was die soort spel wat die toeskouers in hul duisendtalle na Ellispark laat opruk het (einste op `n Saterdagaand ).

Nou is die vraag, sal Coetzee en sy Bok-afrigtinspan daarby inkoop?

Aan die voorspelers behoort daar nie gekarring te word nie, want hulle voer al jare lank hul primêre taak reg uit.

Die voorspeler-spens is vol, want daar is `n rits stutte en hakers, vurige jong slotte soos RG Snyman en Andries Ferreira wat saam met Eben Etzebeth, Lood de Jager en Pieter-Steph du Toit diep voetspore kan trap en van losvoorpslers is daar oorgenoeg.

Dit  bring my uit by die groot kwelvraag.

Is dit nie nou die regte tyd vir Coetzee om die bul by die horings te pak en net spelers wat in Suid-Afrika speel, vir die Bokke te oorweeg nie? Jare lank was Saru se “beleid” dat oosese spelers net in uitsonderlike gevalle gekies moet word en net as hulle beter as `n plaaslike speler is.

Ja, Bryan Habana, Bismarck du Plessis en Duane Vermeulen sal nog baie waarde kan toevoeg, maar kom ons probeer die bloeding te stop deur, nes Nieu-Seeland, net spelers te kies wat plaaslik speel.

Die Iere kom in Junie in drie toetse teen die Bokke te staan. `n Groot uitdaging, maar werklikwaar, sal hulle die Bok-voorspelers in toom kan hou? Sal hulle agterlangs kan keer as die Bokke met talentvolle en vaardige spelers die bresse slaan.

Ja, ja, ja – die alewige kwotas sal krap, sal die groot argument wees. Maar is Cheslin Kolbe werklik swakker as Willie le Roux? Is Elton Jantjies nie die beste losskakel  nie? Is dit nie nou die regte tyd dat Trevor Nyakane by Jannie du Plessis, Coenie Oosthuizen of Beast Mtawarira oorneem nie? Sal Nizaam Carr nie die plek van Vermeulen teen die Iere kan volstaan nie?

Ek vra maar net.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius van Niekerk ·

Ek stem heelhartig saam. Begin nou ‘n nuwe blaai en kies net plaaslike spelers. En asseblief tog – moenie ou manne kies op reputasie nie. (Alhoewel die meeste van hulle gelukkig oorsee sit). Hou provinsialisme uit die storie, en jy sal suksesvol wees, Allistor

Riaan Myburgh ·

Ek gee nie om of die hele span vol gekleurde spelers is nie, solank hulle op meriete daar is. Ek kan nie n span ondersteun wat nie op meriete gekies is nie.

b j smit ·

stem saam met jou maar die kwotas kwel my en die afrigter

Dries ·

Kies op meriete en nie op kleur. Werk hard En niemand kan jou kritiseer. Dan hoef jy nie soos Nick Mallet ea. in 5jaar spierwit hare te he nie

Rupert Ashford ·

Onthou NZ diskrimineer nie teen helfte van hulle spelers nie en betaal ook hulle spelers in regte geld.

Josua Keys ·

Kontrakte aan die Springbokke moet slegs gedig wees vir die toets reeks waarvoor hulle gekies word, die dat spelers gekontrakteer word vir jare aan een is juis een van die grootste oorsake dat die bokke gesukkel het, ek voel die deur moet ten alle tye oop wees vir verbetering en elke ou wat gekies word vir die bokke moet speel om sy plek te behou. Johan Akkerman het dit by die Lions bewys dat dit werk en daarom moet jy jouself bewys of jy word vervang en klaar, spelers moet weer presteer jy nie word jy vervang. JP Pieterson, Habana, Willie le Roux, Fourie Du Preez en so kan ek aangaan is lank al nie meer die spelers wat hulle was nie en moes nog voor die 2015 Wereld beker vervang gewees het oop net Allister stem saam, maar agter geslote deure gebeur snaakse goed veral wanneer geld betrokke is.

Pietman ·

Solank politici hul neuse uit die Bokke se sake hou, die span op meriete (kleurblind) gekies word EN hulle bly wen, is alle rugby ondersteuners doodgelukkig. So-nie sien ek weer die ou-ou storie: ‘Fire’ die coach, want almal het vergeet dat hy eens op n tyd die beste was. Soos met alle sport- today the hero, tomorrow a zero.

Nico K ·

Ek dink nie ons moet baklei met spelers wat verkies om oorsee te speel nie. Dit is ‘n profesionele era en ongelukkig betaal Euopa en Japan beter. Sokker het lankal daarmee vrede gemaak. Nie eers Maradona of Renaldo het in hul eie lande klubsokker gespeel nie. En kan jy nou dink Argentinië en Brasilië sou gesê het ons het die beste speler in die wêreld maar ons gaan hom nie kies nie want hy speel klubsokker oorsee. As ‘n speler die beste is, kies hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.