Springbokrugby: Kies altyd ʼn betroubare stelskopper

Springbokke-31-vs-Walles-30-Nelspruit-21-Jun14-GB-Jordaan-Morne-Steyn-13-904x1024.jpg

Morné Steyn. (Foto: GB Jordaan).

Suid-Afrika was nog altyd bekend vir sy akkurate doelskoppers soos Okey Geffin, Gerald Bosch, Naas Botha, Jannie de Beer, Percy Montgomery en Morné Steyn.

Maar wanneer jy toetsrugby sonder ʼn betroubare stelskopper aandurf, is dit moeilikheid soek.

Soos in 1997 teen die Britse en Ierse Leeus, toe die Springbokke die reeks met 1-2 verloor het. Die Leeus se toerkeurders het die Walliese losskakel Neil Jenkins met vrug na heelagter geskuif waar hy klokslag die bal deur die pale gejaag het, terwyl die Springbokkeurders eers in die derde toets, wat die Bokke met 33-18 gewen het, vir De Beer gekies het.

Jenkins het 41 van die Leeus se 59 punte aangeteken en die Bokke gekelder met 13 strafdoele en ʼn doelskop.

In 1994 het die sewe Bokkeurders met hul spankeuses misgetas deur nie vir Joel Stransky vir die toer na Nieu-Seeland te kies nie. Die span se beste stelskopper, Lance Sherrel, was beslis nie ʼn aanspraakmaker vir die toetse nie.

Die Bokke het op drie skoppers teruggeval: André Joubert (eerste toets), Theo van Rensburg (tweede toets) en Gavin Johnson (derde toets).

Die All Blacks het die reeks met 2-1 gewen nadat hul heelagter Shane Howarth se visier ingestel was, want hy het 38 van die All Blacks se 53 punte (12 strafdoele en ʼn doelskop) aangeteken.

Howarth het in die eerste toets, wat op 9 Julie 1994 in Otago gespeel is, met vyf strafdoele geslaag, wat die grondslag vir die reeksoorwinning gelê het.

Hy het in die derde toets in Auckland, wat met 18-elk gelykop geëindig het, met ses strafdoele geslaag.

Dit was ʼn rampspoedige toer vir die Springbokke en die afrigter, Ian McIntosh, is ná die toer gepos.

Maar dit kon so maklik anders verloop het as die Bokke ʼn betroubare stelskopper gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.