Springbokrugby: Naas dra die no. 10-mantel

Naas Botha. (Foto Youtube)

Wanneer daar oor die beste losskakel gepraat word wat al ooit vir die Springbokke gespeel het, duik een naam altyd op: Naas Botha.

Maar moenie van Bennie Osler en Hannes Brewis vergeet nie, want hul vertoningslyste en wenpersentasie is beter as dié van Botha.

Maar hulle het in ʼn ander era gespeel, met ander reëls en net voor of ná die Tweede Wêreldoorlog.

Daar is diegene wat sal vra wat van Joel Stransky, Piet Visagie, Jannie Barnard, Keith Oxlee, Henry Honiball, Morné Steyn en Handré Pollard, maar ek volstaan met Botha, Brewis en Osler.

Botha kry die regmerkie omdat hy enige wedstryd van klubvlak af kon oorheers, hoe hy by reëlveranderinge aangepas het, en hoe sy teenstanders klei in sy hande was.

Daar is gesê dat hy net kon skop, maar ek het menige wedstryde van Tukkies (en Polisie) bygewoon waar hy onder die pale aan sy spanmaats voorgestel het dat hulle moes hol van hul eie doellyn af.

By die jaarlikse Pirates-sewestoernooi in Johannesburg het hy gedy, die teenstanders met sy vaart en systappe, fopaangeë en lang Amerikaanse aangeë verfomfaai.

Ja, soms het hy geskop en geskop, dis mos immers hoekom hy die bynaam “Nasty Booter” by sy oorsese teenstanders gekry het.

Een van sy binnesenter-spanmaats het op ʼn kol vertel hoe hy gesmeek het dat Botha die bal moes uitgee.

Toe Botha genoeg van sy geneul geraak het, het hy kort voor die einde die bal eerste keer laat loop en is dit aangeslaan.

“Sien, dis hoekom ek nie pass nie,” het Botha met ʼn vonk in die oog gesê.

Dink net hoeveel beter sy wenrekord daar sou uitgesien het as hy nie in 1983 na die VSA verhuis het vir die Dallas Cowboys en Dallas Harlequins gespeel het nie. Hy sou die Engelse in 1984 verguis het. Ook het hy in die skadu van sy loopbaan in 1992 vlekke op sy rekord gekry met nederlae teen die All Blacks, Wallabies, Franse en Engeland.

Dis jammer dat daar so min beeldmateriaal van Osler en Brewis is, want ʼn mens sal nooit weet hoe goed hulle werklik was nie. Gelukkig het Dok Danie Craven die deksel van die pot in menige van sy boeke gelig en het my pa ons van kindsbeen af van Kiewiet (Brewis) vertel.

Naas Botha: Wenpersentasie van 67.85%; 28 toetse tussen 1980 en 1992, 312 punte. Reeksoorwinnings oor die Britse Leeus, Suid-Amerika en die Nieu-Seelandse Kavaliers, wat eintlik maar die All Blacks was. Botha is in 2011 in die Internasionale Rugbyraad se Heldesaal ingehuldig.

Bennie Osler: Wenpersentasie van 73.52 in 17 toetse tussen 1924 en 1933. Reeksoorwinnings oor die Britse Leeus, All Blacks en Wallabies en ʼn Grand Slam-toer. Lid van die IRB se Heldesaal sedert 2009.

Hannes Brewis: Wenpersentasie van 100% in 12 toetse tussen 1949 en 1953. Reeksoorwinnings oor die All Blacks en Wallabies en ʼn Grand Slam-sege in 1951/’52.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.