Springbokslotte: Frik du Preez of Victor Matfield?

Rugbylegende, Frik du Preez. Foto: Eunice Stoltz

Frik du Preez was net 1,89 m lank en het 102 kg geweeg, Colin Meads (1,92 m en 102 kg) was ook maar aan die kleinerige kant gemeet aan vandag se slotmonster-standaarde en so ook Willie John McBride (1,92 m en 102 kg).

Maar hulle was drie van die wêreld se beste slotte, al drie is jare gelede al in die Internasionale Rugbyraad (nou Wêreldrugby) se Heldesaal opgeneem.

Du Preez is as Suid-Afrika se speler van die (vorige) eeu aangewys, so ook het die Nieu-Seelanders vir Meads vereer. McBride was waarskynlik die beste speler wat Ierland en die Britse Leeus nog opgelewer het. Met hulle kon jy spreekwoordelik oorlog toe gaan en wanneer daar span gekies is, was hul name eerste op die lys.

Du Preez en Meads kon boonop albei pale toe skop, hulle was byna onstuitbaar wanneer hulle op galop gegaan het. Toeskouers het in hul duisendtalle na wedstryde gestroom om dié helde in aksie te sien.

Dis byna ʼn gegewe dat al drie in hul lande se beste spanne ooit ingesluit word, maar sou hulle vandag nog gekies word?

Dink net daaraan hoe goed hulle vandag sou gevaar het, as beroepspelers wat 10/12 uur per dag kon oefen.

Dus, hoe tref jy ʼn vergelyking tussen Du Preez en Victor Matfield?

Du Preez, wat tussen 1961 en 1971 in 38 toetse gespeel het en net een keer (onsinnig) uit die span gelaat is toe André de Wet in 1969 in sy plek gekies is. Dit het byna op ʼn opstand in Pretoria uitgeloop.

Victor Matfield. Foto: Facebook.

Matfield is een van die fratse van moderne rugby. Hy het in 127 toetse gespeel, uitgetree en weer begin speel om Suid-Afrika se oudste toetsspeler te word sonder dat hy enige vaardighede ingeboet het.

Hy het ook in 253 wedstryde vir die Blou Bulle, Griekwas, Cats, Bulls, Toulon en Northampton Saints gespeel. Hy het nie sy gelyke in die lynstane gehad nie, die vermoë gehad om die teenstanders se lynstaantekens te ontsyfer, en wonderbaarlik beseringsvry gebly.

Maar ondanks sy groot bates was sy wenpersentasie in toetsrugby net 62,99 persent en het hy in 46 toetse in ʼn verloorspan gespeel.

Sal jy Matfield nog bo Du Preez kies?

Indien wel, wie is die beste slotte wat saam met Matfield voor in die lynstane gespring het? Die spelers wat vir niks en niemand stuit nie, skoonmaak by die losskrums, skrum asof hul lewe daarvan afhang, die teenstander voos duik, en die bal ná die eerste twee fases weer dra om nog teenstanders in te trek.

Bakkies Botha of Eben Etzebeth?

Albei is uit dieselfde staal gegiet, spog met goue medaljes in ʼn Wêreldbekertoernooi, en het Rugbykampioenskap-medaljes.

Maar Botha kry my regmerkie, juis omdat hy en Matfield aangevul het en soos bloedbroers was.

Watter ander slotte het groot eer vir Suid-Afrika gebring?

Beslis Johan Claassen, Avril Malan, Kevin de Klerk, Louis Moolman en Mark Andrews asook ʼn rits ander.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frans

Frik was net so vaardig op flank. Hy het juis sy debuut op 7 Januarie 1961as flank teen England op Twickenham. gespeel.Op die toer het die Bokke 34 wedstryde gespeel waarvan hul 32 gewen het,2 gelykop
Frankryk en Midland counties en een teen Barbarians verloor het.Hulle het Wales,Engeland,Ierland en Skotland geklop.’n Wen persentasie van 94%.

Kokkie

Frik het nie sy gelyke gehad nie. Matfield was ‘n seuntjie in vergelyking met Frikka.

Die Wolf

Ek verstom my wanneer daar bespiegel word oor watter speler nou konsuis die beste was. Neem in ag die tydperk wanneer so n speler aktief was. Die spel in Frik se tyd het totaal verskil van die in Victor se tyd. Die vraag is sou die spelers die mas kon opkom as ons die twee omruil? In my opinie het altwee goed presteer, Frik in die spelpatroon gedurende sy speeldae en dieselfde met Victor. Ons is te geneig om te vergeet dat die spel oor die jare se patroon verander het.

Raadslid

Beslis Oom Frik!

Frans

Waarom ek vir Frik en nie die moderne flanke en slotte gaan nie,is omdat ‘rucking’ eers in 1996 verban is.Glo my jy het nie sommer soos vandag op ‘n bal bly lê nie.