Springbokspan: Beast bereik sy honderdtal

Beast Mtawarira speel Saterdag in sy honderdste toets. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Mens hoop werklik nie dat die gepaste lofbetuiginge aan Beast Mtawarira, wat Saterdag in sy 100ste toets vir die Springbokke sal uitdraf, die aandag van sy spanmaats sal aftrek nie.

Mtawarira, wat 10 jaar gelede teen Wallis sy buiging gemaak het, draf Saterdag in Bloemfontein in sy 100ste toets uit wanneer die Bokke Engeland pak.

Mtawarira word slegs die sesde Suid-Afrikaanse speler ná Percy Montgomery, John Smit, Victor Matfield, Bryan Habana en Jean de Villiers wat dié mylpaal bereik en hy verdien dit deur en deur.

Hy word ook die agtste stut wêreldwyd wat in 100 of meer toetse gespeel het. Die ander is Gethin Jenkins en Adam Jones (albei Wallis), Jason Leonard (Engeland), John Hayes (Ierland), Martin Castrogiovanni en Andrea Lo Cicero (albei Italië) en Tony Woodcock (Nieu-Seeland).

Ek is seker dat die afrigter, Rassie Erasmus, nie te groot ophef voor die tyd sal maak nie en eers van sy span sal verwag om die taak te volbring voordat die feesvieringe kan begin.

Maar spelers is spelers en as hul aandag eers deur ander dinge afgetrek word, kan dit maklik boemerang, en dít verdien Mtawarira beslis nie.

Soos verwag is, het Erasmus net twee veranderings aan die span gemaak wat die eerste toets gewen het.

Die vaskopstut Frans Malherbe, wat verlede jaar op 17 Junie 2017 teen die Franse laas toetsrugby gespeel het, keer terug in sý plaasvervanger, Wilco Louw, se plek.

Louw se peil het die afgelope ruk afwaarts begin neig en dit is algemeen verwag dat hy ʼn ruskans sou kry.

Dan speel die werkeselslot Pieter-Steph du Toit weer flank in Jean-Luc du Preez se plek, wat plekke op die bank met Du Toit omruil.

Is dit ʼn sterker span?

Wel, Du Toit se insluiting bied nog meer lynstaankeuses en hy is net so woelig, fisiek en meer balvaardig as Du Preez. Ek is net bang dat hy die afgelope ruk oorspeel is, want hy het ook in die onsinnige toets teen Wallis in Washington gespeel.

Malherbe sal in elk geval in die tweede helfte deur Thomas du Toit vervang word en ek is seker dat hy heeltemal fiks en slaggereed sal wees.

Jesse Kriel is ook nou op die bank in Elton Jantjies se plek.

Die Springbokspan (met aantal toetse tussen hakies) ‒

15. Willie le Roux (42), 14. S’busiso Nkosi (1), 13. Lukhanyo Am (2), 12. Damian de Allende (29), 11. Aphiwe Dyantyi (1), 10. Handré Pollard (27), 9. Faf de Klerk (12), 8. Duane Vermeulen (40), 7. Pieter-Steph du Toit (34), 6. Siya Kolisi (29, kaptein), 5. Franco Mostert (19), 4. RG Snyman (1), 3. Frans Malherbe (17), 2. Bongi Mbonambi (15), 1. Beast Mtawarira (99). Bank: 16. Akker van der Merwe (2), 17. Steven Kitshoff (25), 18. Thomas du Toit (2), 19. Jean-Luc du Preez (11), 20. Sikhumbuzo Notshe (2), 21. Ivan van Zyl (2), 22. Jesse Kriel (30), 23. Warrick Gelant (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

rollie ·

Kan ‘n probleem raak, Pollard kan dalk die kluts ook kwytraak met sy skopwerk. Wie anders kan losskakel speel nou – Le Roux, Faf?

B-man ·

Hopelik sal hulle nou ‘n jonger RSA-gebore stut, soos Nyakane of Ox, ‘n kans gee om ook meer toetse te speel. Die ou Beast ontneem net ander se speelkans en is nie meer so doeltreffend soos die BEEAAAST! van ouds nie.

Snuffels ·

Goed, laat die manne more aand “Modder en Bloed” kyk en dan die souties groet op Bloem.

LHS ·

Kom ons is eerlik wat die agterlyn aanbetref. Slegs nrs 9 en 15 en in n mindere mate 10 is potensiele wedstrydwenners of dan nou wel goeie spelskeppende spelers. Wat verdediging aanbetref, slegs nr.9. Goeie aanvallende spelers wanneer op voorvoet is, 9, 10, 12, 14 en 15. Steeds goeie aanvallende spelers onder druk, 9 en soms 15. Dit laat ons met ten minste 2 spelers wat nie eers daar hoef te wees nie, n baie swak agterlyn indien die voorspelers nie op voorvoet is nie . Geen senter wat enigsins kan roem as verdediger nie, ook nie vleuels nie. Slegs a.g.v. absolute briljante spel deur Faf en Willie het dit goed gelyk verlede week, haal een van hulle af en kyk dan wat gebeur.

B-man ·

Ek is geneig om saam te stem. Pollard sal beter presteer op senter as die ellende, maar is bestendig op 10.

Callie ·

Ou Rassie gaan in moeilikheid kom. Gekleurde spelers is net 30%. Moenie nou afdwaal nie ou Rassie.

nico k ·

Ek dink die plan is dat sou Pollard seerkry sal Willie le Roux heelwaarskynlik losskakel toe skuif. Ek stem saam met LHS dat ons verdediging verdag is. Baie goeie aanvallende agterlyn, maar as die Engelse gaan hardloop kan ons moeilikheid kry. Laasweek het die Engelse bitter min balbesit gehad om mee te hardloop.

Frans C ·

Dit is nie mi ‘n span wat die All Blacks die skrik op die lyf gaan jaag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.