Springbokspan: Die trane gaan rol oor dié Bokke

Ek wonder of rugbyspelers nog huil wanneer hulle vir die Springbokspan gekies word.

Dis sekerlik een van die grootste oomblikke in enige speler se loopbaan, soos die aand in April 1980, toe die loskopstut van Transvaal, Richard Prentis, in die Springbokspan ingesluit is wat in die eerste toets teen die Suid-Amerikaanse Jaguares in die Wanderers-krieketstadion gespeel het.

Ja, die toets is op die Wanderers (van oos na wes) gespeel omdat die Transvaalse Rugbyunie besig was om die ou Ellispark af te breek om die nuwe (huidige) Ellispark daaruit te laat herrys.

Daar was 34 000 toeskouers by die toets en die Bokke het met 24-9 gewen. ʼn Hele paar Bokke het voortgegaan om Boklegendes te word, soos Ray Mordt, Naas Botha en Rob Louw, terwyl Gerrie Germishuys, Kevin de Klerk, Louis Moolman, Theuns Stofberg en Morné du Plessis reeds diep spore getrap het.

Dit was in die droë jare van Springboktoetsrugby, want nadat die All Blacks in 1976 deur die land getoer het, is daar in drie jaar net een toets – in 1977 teen ʼn Wêreldspan – gespeel  voordat Dok Danie Craven die Suid-Amerikaners se arms gedraai het om teen die Bokke te kom speel.

Daar was dié dag sewe nuwelinge in die Springbokspan: Pierre Edwards, Mordt, Willie du Plessis, Botha, Tommy du Plessis, Prentis en Louw.

Toe Prentis (wat voortgegaan het om in 11 toetse vir die Bokke te speel) se naam uitgelees is, het hy sy Transvaalse spanmaats, Dave Frederickson (haker) en  Johan (Pottie ) Strauss (vaskopstut) omhels omdat die hele Transvaalse voorry gekies is; en toe het die trane gerol.

Wanneer die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, Saterdagaand sy groep van 40 spelers vir die komende toetse teen Wallis en Engeland aankondig, sal dit op televisie wees met geen trane om te stort nie, behalwe by die ondersteuners wanneer die name uitgelees word.

Wees maar verseker, daar sal ʼn hele paar skokinsluitings wees.

Dit het reeds uitgelek dat Oupa Mohoje en Chiliboy Ralepelle in die span sal wees; vyf spelers wat oorsee speel, word glo ook nader getrek en die spankeuse sal jou na alle waarskynlikheid na jou bloeddrukpilletjies laat gryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Erick ·

Wat anders? Niks in hierdie land van ons kan ons meer skok nie.

Anoniem ·

Ek was ‘n rugby en krieket fanatikus, wat bykans alle ander sosiale geleenthede afgestel het om sport saam met my seun te gaan kyk. DSTV het ook derduisende rande oor die afgelope 25+ jaar uit my gemaak. Daardie dae is egter vir ewig verby, want politiek het van SA Sport ‘n absolute klug gemaak. Totsiens sport en DSTV, ek spandeer dit eerder op kampeer waar my bloeddruk nie elke week die hoogte in gejaag word nie.

rollie ·

Ek reken ook ‘n ou raak maar bietjie moeg vir sport oor die algemeen soos jy ouer word (mens kom agter daar’s beter dinge om te doen). Ek vind dit deesdae nogal moeilik om selfs net een wedstryd volledig te kyk.

Jannie ·

Reeks-oorwinning van 3- 0 vir Engeland!!! Kan nie wag nie!!

Afrikaan ·

Mohoje en Ralepele?! Ag nee Rassie… as dit regtig waar is dan is jy ook net ‘n pion vir die ANC.

Callie ·

Hartseerste oomblik is as jy sien hoe iemand sy siel verkoop om die politieke afgod te dien. Hulle doen dit vir mammon, die geldgod, sonder om te blik of te bloos. Totsiens dstv, na Naas en Nick en nou Rassie se dinge. Integriteit kan jy nie koop nie. Niks so erg om vir jouself te lieg nie, of hoe Rassie

Nouja ·

Ek kan nie aan 15 SA spelers dink wat op meriete in die Springbok span hoort nie. Ongeag ras of provinsie of wat ook al. Na die Sharks en Bulle se gesukkel gister en vandag is ek baie bekommerd. Indien Rassie nie ten minste die span laai met spelers vanuit die buiteland nie, gaan ek nie hierdie jaar moeite doen om R900.00 te betaal om na hierdie spul sukkelaars te kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.