Springbokspan: dit bly maar in die gene

Robert du Preez, pa van die drie rugbyseuns ( Foto varsitycup.co.za)

Min mense besef hoe raar dit vir ʼn identiese tweeling is om saam vir jou land gekies te word, maar wanneer jou pa ook nog toetsrugby gespeel het, is dit rugbygeskiedenis.

Daniel en Jean-Luc du Preez het Saterdagaand slegs die tweede tweeling geword wat vir die Springbokspan gekies is.

Hulle het hul by Akona en Odwa Ndungane aangesluit, die eerste tweeling wat Bokke geword word.

Akona Ndungane het 11 toetse vir die Bokke tussen 2006/’07 gespeel en sy boetie Odwa nege keer tussen 2008/’11. Maar hulle het nooit saam vir die Bokke gespeel nie.

Wêreldwyd is daar ʼn hele paar tweelinge wat ook die prestasie behaal het.

Dink maar aan die Argentynse tweeling, Felipe en Manuel Contepomi, wat saam vir die Poemas gespeel het, die drie Ella-broers van Australië, Glen, Mark en Gary (Glen en Mark is ʼn tweeling). Hulle was al drie in 1981 in die Wallaby-groep, maar het nooit saam in ʼn toets gespeel nie.

Dan was daar ook die Cuttitta-tweeling van Italië, Massimo en Marcello.

Hulle is in Italië gebore, maar hulle ouers het vroeg in die sestigerjare na Suid-Afrika verhuis waar hulle in Pinetown High buite Durban op skool was en rugby gespeel het. Albei het na Italië teruggekeer en jare lank saam toetsrugby vir die Azzurri gespeel – Massimo was ʼn stut en Marcello ʼn vleuel.

Robert du Preez, die pa van Robert jr. (losskakel van die Westelike Provinsie wat nou na Durban terugkeer) en die tweeling Dan en Jean-Luc, het sewe toetse vir die Bokke tussen 1992/’93 gespeel. Hy is in Potchefstroom gebore en geslyp, maar is na Noord-Transvaal gelok om onder meer Tommy du Plessis se skoene vol te staan.

Du Preez (1.90 en 98 kg) was groot, sterk en lank vir ʼn skrumskakel, net soos Du Plessis. Hy het ʼn lang aangee gehad en sy groot taak was om die weerligafleier vir Naas Botha te wees, sodat hy kon oorheers.

Ek het hom jare daarna weer ontmoet en vanselfsprekend oor sy drie seuns uitgevra. Min het ons toe geweet dat hulle in 2017 die Springbok-rekordboeke sou herskryf.

En moet glad nie verbaas wees as daar nog ʼn hoofstuk bygevoeg word as Robert jr. ook dalk Springbok word nie.

ʼn Pa, en sy drie seuns (insluitende ʼn tweeling), wat almal toetsrugby speel…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirkie ·

Wat n prestasie, well done Robert. Nou moet Robert Jnr net aansluit, goeie ding hy loop by stormers as ek dit reg verstaan. Lambie baie beseer so sy kanse om sharks se nr 10 trui te dra is goed. Speel dan Curwin Bosch op heelagter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.