Springbokspan: het Allister se oë oplaas oopgegaan?

Handré Pollard (Foto GB Jordaan)

Nou sal die groot vraag beantwoord kan word of Elton Jantjies en Damian de Allende die remskoene in die Springbokagterlyn is.

Jantjies en De Allende is twee van die vier veranderinge wat die Springbokafrigter, Allister Coetzee, aan die beginspan gemaak het wat met 38-3 deur Ierland in Dublin geklop is vir Saterdag se toets teen Frankryk in Parys.

Hulle word oplaas deur Handré Pollard en Francois Venter vervang, wat rigting moet gee nadat die Bokagterlyn sedert Junie begin ploeter het.

Die ander skuiwe is die insluiting van die agtsteman Duane Vermeulen in die plek van Francois Louw, wat terugskuif flank toe in die beseerde Pieter-Steph du Toit se plek en die vaskopstut Wilco Louw wat die beseerde Coenie Oosthuizen vervang.

Gaan die skuiwe die span versterk?

Beslis, hoewel ʼn hele paar spelers verroes kan wees en die impak-bank nie soveel gehalte of ervaring as vroeër het nie.

De Allende sal in baie van die ondersteuners se swakste Springbokspan nog oorweeg word wanneer daar om die braaivleisvure gesels word. Venter moes reeds lankal reeds sy kans gekry het, hoewel Jan Serfontein die voorkeurkeuse was voordat hy in Montpellier groener weivelde gaan opsoek het.

Jantjies se selfvertroue het net soos vandeesmaand se salaris al hoe minder geraak. Ja, dalk het die spelpatroon hom nie gepas nie, want hy het al hoe dieper begin speel en sy taktiese skoppe was maar so-so.

Maar wat het hy dan die span gesoek?

As Pollard goed vertoon, sal hy na alle waarskynlikheid ook teen Italië speel, waar hy kan gedy. Jantjies is in elk geval nie beskikbaar vir die laaste toets teen Wallis nie, omdat dit buite die toetsvenster val en hy dan weer in Japan speel.

Voorlangs kry Louw, wat byna in die hele toets teen die Iere gespeel het, sy kans om op te draf nadat Oosthuizen vroeg teen die Iere sy knieligamente beseer het. Louw is ʼn sterk skrumwerker, hoewel nie so balvaardig soos Oosthuizen nie.

Francois Louw skuif terug na sy regmatige posisie as toekantflank. Hy, Siya Kolisi en Vermeulen behoort goed te kombineer.

Vermeulen? Hou maar dop, want wanneer daar volgende jaar ʼn kaptein aangewys gaan word (dit is nou te sê wanneer, en nie as nie, Rassie Erasmus as hoofafrigter oorneem) sal dit Vermeulen wees.

Daar is tien veranderinge aan die span wat die Franse in die derde toets in Junie geklop het, vanweë beserings, swak spelpeil en spelers wat oorsee gaan speel het.

Dis hoekom die toets Saterdag uiters straf gaan wees, ondanks Venter, Pollard en Vermeulen se insluiting.

Die Springbokspan (toetse en punte tussen hakies) –
15. Andries Coetzee (10 toetse, 0 punte), 14. Dillyn Leyds, (6, 0), 13. Jesse Kriel (26, 30), 12. Francois Venter (4, 0), 11. Courtnall Skosan (10, 10), 10. Handré Pollard (23, 190), 9. Ross Cronjé (7, 10), 8. Duane Vermeulen (37, 10), 7. Siya Kolisi (26, 20), 6. Francois Louw (55, 40), 5. Lood de Jager (33, 20), 4. Eben Etzebeth (kaptein, 64, 15), 3. Wilco Louw (2, 0), 2. Malcolm Marx (12, 15), 1. Tendai Mtawarira (96, 10). Bank: 16. Bongi Mbonambi, 17. Steven Kitshoff, 18. Trevor Nyakane, 19. Franco Mostert, 20. Dan du Preez, 21. Rudy Paige, 22. Elton Jantjies, 23. Damian de Allende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nic Myburgh ·

Elton bly die beste, bokspan se spelpatroon pas hom nie

wesley ·

Eintste! Allister mors hom op, nes wanneer hy Stormers to was vir n ruk. Ackers en Swys moes hard werk weer met hom. Hy is n sensitiewe siel, ek gaan nie lieg nie, maar as jy hom reg hanteer dan werk hy veel beter as Pollard. Dit vat net n goeie afrigter. Allister is nie een nie.

Callie ·

Elton het nog altyd onder druk gevou. Dis hoekom Leeus nog niks gewen het. Pollard het homself oor en oor bewys teen AB. Kort Kitshoff in beast se plek, Dan du Preez in Siya se plek en iemand in Skosan se plek. Ok, dan n afrigter. So of ons gaan wen, hang af of spelers AC gaan ignoreer en vir trots speel.

wesley ·

Leeus nog niks kan wen? 2010 laas was die Bulle wenners in SR vir SA. Leeus bes vertonings vir SA laaste 2 jaar en boonop 2 Curriebekers vanaf dan, met Elton wat grootliks begedra het tot al die sukses. Elton vou net met Allister wat afrig… Pollard het maar min die laaste tyd bewys, alhoewel indien jy dalk hom uitkyk terwyl hy in die gym was… Hy moet nog ver loop na al die beserings voor hy homself kon bewys het. Alle beste tot hom toe.

Herman Goosen ·

Ja, so werk die nuwe SA Springbok span. Ons verander alles behalwe die bestuur. Jy kan ‘n gooeie bestuur ‘n middelmatige span gee en hulle in gedugte teenstaanders verander, maar ‘n dwaas sal ‘n goeie span middelmatig laat presteer.

Frans C ·

Rugby publiek en kommentators se geheue is kort en dan boonop nog selektief.Omdat daar nie ‘n eenvormige rugbypatroon in Suid Afrika is nie,gaan daar altyd spelers in die slag bly.
Dit is eenvoudig so dat daar altyd spelers sal wees wat in ‘n speelpatroon sal gedy omdat hul met dit groot geword het en daarom met vertroue in dit kan speel omdat dit vir die span en hulle gewerk het.

Alhoewel Nick Mallett seker een van die beter afrigters was, was hy die doodsteek van een van die mees begaafde losskakels wat Suid Afrika opgelewer het,nl Gaffie” du Toit .

AS my geheue my nie in die steek laat nie,dink ek dat die All Blacks die Bokke 28-0 in Dunedin geklop het. Mallett het toe die verloor vierkantig toegeskryf aan die Springbok skakelpaar van Dave von Hoesslin and Gaffie du Toit.Veral du Toit se spel is in onvleiende
woorde deur hom beskryf.Gaffie was daarna nooit weer dieselfde speler nie.

Dit moes vir enigiemand van die begin af duidelik wees dat die Leeus nooit by Coetzee se WP spelpatroon sal inpas nie en dat hul daar niks meer as gemiddelde provinsiale spelers
sonder selfvertroue sal wees.

Ons het gesien hoe hul in hul eerste Super 18 wedstryde gesukkel het en dit lank gevat het
voordat die Leeus soos ‘n span begin speel het.

SUSAN ·

Nic as Elton Jantjie dan so goed is behoord hy mos aan te pas by die bokke se spel patron
of verwag jy dat al di ander speles by hom moet aan pas hy moes nooit Springbok kleure gekry het nie. sy spel patron is skop die bal weg

Frans C ·

Susan,nou praat jy nonsens.In 2016 het die Lions 71 drieë gedruk meer as enig ander span.
Ook in 2017 was hul onder voorste drie drukkers.

Zack ·

Susan, Mooi gestel, jy praat ook namens my.
Frans C dink net hy weet alles maar einlik praat hy snert. Hy probeer slim klink met sy stats.

Kobus ·

Elton hardloop met die bal en skep geleenthede vir sy agterlyn. Hy kom onder Carlos Spencer se hande uit. Die leeus het baie en pragtige driee gedruk.

of jy nou wil of nie maar die leeus speel lekker bal in hand rugby.

By die bokke word hy geforseer om diep te staan en te probeer om die hemel raak te skop. Skosan, coetzee hardloop met die bal by die leeus, nou moet hulle balle jaag en verdediging.

Kies dan vir morne steyn .

Frans C ·

Zack hou nie van statistieke nie, want statistieke ontbloot sy bonsens. Die Leeus en Crusaders verloor elkeen net een wedstryd in die Super 18 reeks.Die Leeus druk 88 drieë.Dit is net die Hurricanes wat meer druk nl 89.Die Leeus teken 590 punte aan ,die Hurricanes 596.
Daar word 27 drieë teen die Leeus gedruk, teen die Hurricanes 31,teen die Crusaders 37.

In die eindstryd speel die Leeus teen ‘n All Black belaaide Crusaderspan en verloor 25-17 nadat hul ‘n groot deel van die wedstryd met 14 man speel.Dus is Kobus reg en weet Zack en Susan van rugby soveel soos ‘n kat van klavierspeel.Ek moet darem sê as iemand die klavier oop los en die kat daaroor loop klink dit beter as Susan en Zach se twak.

Jack Russl ·

Ja nee Frans. Moet nou nie Susan en Zach se storie bederf met die feite nie…

Gaan luister maar gerus na die Iere se analise van die bokke in halftyd van verlede naweek se wedstryd. Dit is eintlik skokkend om te hoor hoe hulle die bokke slegsê. En die grootste blaam plaas hulle ook voor die afrigter

Ben ·

Cournall Skosan , goeie speler, maar is nie fiesies opgewase vir international rugby nie.
Ross Cronje hou aan met vlak aangee (+-7 grade).
Dit ly tot:
1) Dat ons spelers sy teenstander en die bal gelyktydig ontvang. Probeer 20 grade of die tradisionele 45.
2) Dat ons bal onderskep word deur die teenstanders vir ‘n maklike drie.
En Alistor , ‘n flank is die Bal Herwinaar. Jy kan nie ‘n slot in die plek van ‘n Flank sit nie want hy is te stadig!
Sterkte vir die Span Saterdag.

Louis ·

Tyd om die Spring Bok van die trui te verwyder.

My hart bloei om die agteruitgaan te aanskou. Ek kan verloor vat maar die pakslae wat ons uitgedeel word is belaglik. Dan word daar gese ten minste was daar iets positief wat ons uit die game kon neem????

Gelukkig het ek iets anders on te doen Saterdag. Gaan op my eie betoog teen die snert en n masiewe vuur maak….. dan gaan ons braai. Die een wat eerste rugby praat moet die slaai loop maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.