Springbokspan: Nou sal ons weet hoe goed Whiteley is

Warren Whiteley – beseer (Foto GB Jordaan)

Die waarde wat Warren Whiteley tot die Springbokspan voeg, sal Saterdag in Port Elizabeth behoorlik na waarde geskat kan word in die toetswedstryd in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies.

Whiteley, die Springbokke se agtsteman, sukkel met ʼn seer lies, ʼn besering wat hy vandeesweek opgedoen het, en word deur die groentjie Sikhumbuzo Notshe vervang.

Dit sal Notshe se eerste verskyning in die opdrafspan wees.

Deer is altesame vyf verandering (waarvan een posisioneel is) in die span wat die All Blacks in Wellington met 36-34 geklop het.

Cheslin Kolbe speel in die plek van Jesse Kriel  regtervleuel, met Kriel wat na sy regmatige buitesenterposisie skuif.

Kriel en André Esterhuizen (binnesenter) span weer saam nadat Damian de Allende en Lukhanyo Am albei teen die All Blacks beseer is.

Beast Mtawarira is terug op loskop, met Steven Kitshoff wat bank toe skuif.

Mtawarira is geen impakspeler nie, terwyl Kitshoff dié rol baie goed vervul. Maar is Mtawarira, ondanks sy 105 toetswedstryde,  beter as Kitshoff?

Daar is ook ʼn paar skuiwe op die bank, met Embrose Papier wat die regmerkie bo Ross Cronje gekry het, die veelsydige agterspeler Damian Willemse wat ook weer betrek is en Marco van Staden wat Francois Louw (terug na Bath in Engeland) as bank-losvoorspeler vervang.

Is dit ʼn sterker span as die een wat so heldhaftig teen die All Blacks verdedig het?

Nee, want die Bokke boet Whiteley se leierskap, lynstaanwerk en verdediging in.

Dit gaan klippe kou teen die Wallabies kos om Michael Hooper en David Pocock in die los aan bande te lê.

Die Bokke is in Brisbane deur die Wallabies (sonder die beseerde Pocock) in die los geklop waar Malcolm Marx weer sterk in die prentjie moet kom.

Die agterste driehoek van Willie le Roux, Aphiwe Dyantyi en Kolbe is uiters gevaarlik, maar as ek die Wallabies is, peper ek die Bokke met hoë skoppe en gebruik Israel Folau om mee te ding.

Maar nou ja, Rassie Erasmus weet wat hy doen en sal sekerlik reeds planne beraam het om dit teen te werk.

Die Springbokspan (aantal toetswedstryde en -punte tussen hakies) –

15. Willie le Roux (48, 60), Cheslin Kolbe (2, 5), 13. Jesse Kriel (34, 45), 12. André Esterhuizen (4, 0), 11. Aphiwe Dyantyi (7, 25), 10. Handré Pollard (33, 265), 9. Faf de Klerk (18, 10), 8. Sikhumbuzo Notshe (4, 0), Pieter-Steph du Toit (40, 20), 6. Siya Kolisi (kaptein, 35, 25), 5. Franco Mostert (24, 5), 4. Eben Etzebeth (71, 15), 3. Frans Malherbe (23, 0), 2. Malcolm Marx (18, 20), 1. Beast Mtawarira (105, 10). Bank: 16. Bongi Mbonambi (20, 10),  17. Steven Kitshoff (31, 5), 18. Wilco Louw (10, 0), 19. RG Snyman (6, 0), 20. Marco van Staden (1, 0), 21. Embrose Papier (3, 0), 22. Elton Jantjies (28, 223), 23. Damian Willemse (2, 0).

♦  Die Wallabies-afrigter, Michael Cheika, het verras deur die “Tongaanse Thor” Taniela Tupou as loskopstut in die opdrafspan te kies. Die botterbul-groentjie is dalk nie die sterkste skrumwerker nie, maar wees maar verseker, hy gaan met sy stormramlopies op Handré Pollard afpyl.

Origens keer Michael Hooper (flank) terug ná sy besering, Ned Hanigan is flank  in Lukhan Tui se plek (nie beskikbaar nie) en Izack Rodda vervang Rory Arnold op slot.

Cheika het ook die versoeking weerstaan om met Bernard Foley bo Kurtley Beale op losskakel te begin.

Kan hulle die Bokke weer klop?

Nee, maar dan het die meeste van ons ook gedink dat die Bokke geen kans het teen die All Blacks nie.

Die Wallabies-span – 

15. Dane Haylett-Petty, 14. Israel Folau, 13. Reece Hodge, 12. Matt Toomua, 11. Marika Koroibete, 10. Kurtley Beale, 9. Will Genia, 8. David Pocock, 7. Michael Hooper (kaptein), 6. Ned Hanigan, 5. Izack Rodda, 4. Adam Coleman, 3. Taniela Tupou, 2. Tatafu Polota-Nau, 1. Scott Sio. Bank: 16. Folau Fainga’a, 17. Sekope Kepu, 18. Allan Alaalatoa, 19. Rory Arnold, 20. Rob Simmons, 21. Nick Phipps, 22. Bernard Foley, 23. Jack Maddocks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Niklaas ·

Twee taamlik sterk spanne hierdie. Enige span kan wen. Moeilik om voorspelling te waag. Ek is net bekommerd oor die verdedigings aspek, verwysende na Kriel en veral liggewig Cheslin Kolbe. Laat ons maar hoop vir die beste Saterdag. Die wedstryd van die All blacks gaan ook n grote wees , en ons moet nie verbaas wees as NZ daar verloor nie. Onwaarskynlik egter ,maar nie onmoontlik.

Frans C ·

Weereens ‘n span wat weerspieël dat Erasmus nog steeds op soek is na beste kombinasies.
Wallabies het agter beter kombinasies as Bokke en kan die Bokke laat bontstaan.

Wesley ·

Alhoewel daar niks fout met Notshe is nie, sal Warren se waarde bewys word sekerlik, nes Duane se waarde bewys is en afwesigheid ook n bietjie van n leemte veroorsaak het. Dit is maar hoe rugby werk, as jou heel beste nie beskikbaar is nie, sal die volgende in lyn moet uithaal en wys. Ek vertrou dat hul die wa deur die drif sal trek.

Jezza Cloete ·

Ek het in my lewe nog nie so ‘n eenogige sportjoernalis soos Pieter Kruger teegekom. Hy is erger as Quintin Van Rooyen van destyds. Elke wit speler word in die span INGESKRYF.

LHS ·

Wit spelers hoef nie in n span ingeskryf te word nie wat my nou nog meer pla is wat is Erasmus se probleem met die WP, die afgelope hoeveel spelers wat opgetrek is kom almal van daar, betaal hulle hom of wat? Erasmus is besig om groot moeilikheid te word.

Gatvol ·

LHS jou stelling maak baie sin. Onthou Erasmus was by WP betrokke voor hy Ierland toe is.
Ek bly nog steeds n voorstander vir proewe. Daar kan jy jou kombinasies toets, maar nie terwyl jy n toetswedstryd speel nie. Jy gee almal n kans om hulle te bewys en kan die koring van die kaf skei.

nico k ·

Die Springbokke kan hierdie een wen. Aussies is nie goed nie. En ek glo Marco van Staden sal sy beurt kry om te kom help by die afbreekpunte. Maar ek is bekommerd oor Kolbe. Ja hy is vinnig maar hy is te klein vir verdediging en sal nooit Folau kan stop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.