Springbokspan: Wil Rassie die Engelse van hul voete af hol?

Jesse Kriel is op buitesenter gekies. (Foto: Japanese times)

Dit sal jammer wees as dit Saterdag nat is op Nuweland, want die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het juis ’n agterlyn gekies om in droë toestande te floreer.

Erasmus het vyf veranderinge aan die beginspan gemaak wat die tweede toets in Bloemfontein met 23-12 gewen het en sodoende die reeks teen Engeland met 2-0 beklink het.

Dis deel van ʼn bouproses om die regte kombinasies te vind en om seker te maak dat die spelers die nodige vaardighede het om by alle toestande aan te pas.

Nadat die Springbokke in die eerste toets onder Erasmus teen Wallis in Washington vasgeval het, gee hy weer vir Warrick Gelant, Jesse, Kriel, André Esterhuizen, Elton Jantjies en Chiliboy Ralepelle ʼn kans in die plekke van onderskeidelik Willie le Roux, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Handré Pollard en Bongi Mbonambi.

Dan is die 37-jarige haker Schalk Brits, soos voorspel, op die bank ingesluit en ook die jong en onervare skrumskakel Embrose Papier.

Ek dink die span is ʼn effense waagstuk. Kan Jantjies die toutjies beter as Pollard trek? Is Gelant beter as Le Roux? Gaan Esterhuizen voortaan vir De Allende langs die kantlyn hou? Kan Ralepelle, wat sy soveelste kans kry, sy plek vasmessel met Malcolm Marx wat binnekort reg sal wees, of selfs as die vernaamste plaasvervanger?

Maar dis die besluite wat enige afrigter moet neem om die regte spelers te vind voor aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Erasmus het reeds baie bereik. Hy het raakgevat met sy span en die plaasvervangersbank. Daar is ʼn baie goeie mengsel van jeug en ervaring en nou wil hy daarop voortbou.

♦  Die Engelse afrigter, Eddie Jones, het die losskakel, Danny Cipriani, ná tien jaar in die rugbywoestyn ingesluit juis omdat nat toestande voorspel word.

Cipriani, 30, wat linksvoetig is, is destyds as die logiese opvolger vir Jonny Wilkinson beskou, maar net soos die talentvolle Wallaby James O’Connor, is hy een van die stoute seuns van rugby en het hy nog nooit sy volle potensiaal bereik nie.

Hy het verlede maand aangekondig dat hy na Gloucester oorskuif en die Engelse ondersteuners hou duim vas dat hy onder Johann Ackerman rustigheid sal vind.

Dan is die Hurricanesflank, Brad Shields, siek en nie oorweeg nie. Chris Robshaw speel in sy plek. Die vurige stut Joe Marler vervang Maku Vunipola (deernisverlof) en die agtsteman Nathan Hughes vervang Billy Vunipola (gebreekte arm), wat saam met sy broer ná die tweede toets huis toe is.

Kan die Engelse wen? Wel, as die veld nat is en Cipriani doen wat van hom verwag word, kan die Engelse helaas die toets wen.

Spanne ‒
Suid-Afrika (met aantal toetse tussen hakies):
15. Warrick Gelant (4), 14. S’Bu Nkosi (2), 13. Jesse Kriel (31), 12. André Esterhuizen (1), 11. Aphiwe Dyantyi (2), 10. Elton Jantjies (25), 9. Faf de Klerk (13), 8. Duane Vermeulen (41), 7. Pieter-Steph du Toit (35), 6. Siya Kolisi (kaptein, 30), 5. Franco Mostert (20), 4. RG Snyman (2), 3. Frans Malherbe (18), 2. Chiliboy Ralepelle (24), 1. Beast Mtawarira (100). Bank: 16. Schalk Brits (10), 17. Steven Kitshoff (26), 18. Thomas du Toit (3), 19. Jean-Luc du Preez (12), 20. Sikhumbuzo Notshe (3), 21. Embrose Papier (1), 22. Handré Pollard (28), 23. Willie le Roux (43).

Engeland
15. Elliot Daly, 14. Jonny May, 13. Henry Slade, 12. Owen Farrell (kaptein), 11. Mike Brown, 10. Danny Cipriani, 9. Ben Youngs, 8. Nathan Hughes, 7. Tom Curry, 6. Chris Robshaw, 5. Maro Itoje, 4. Joe Launchbury, 3. Kyle Sinckler, 2. Jamie George, 1. Joe Marler. Bank: 16. Luke Cowan-Dickie, 17. 18. Alec Hepburn, 19. Harry Williams, 20. Jonny Hill, 21. Mark Wilson, 22. Sam Simmonds, 23. Ben Spencer, 24. Denny Solomona.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anton Kld ·

Die senterpaar sal gewis beter wees as die paar wat hulle vervang solank Jantjies op sy beste is. Malherbe nog steeds nie die antwoord nie. Ek glo hierdie is ‘n beter span.

rollie ·

Dit gaan beslis ‘n nat veld wees. Esterhuizen is nog stadiger as De Allende. Julle gaan Saterdag die waarde van De Allende sien. Die Bokke gaan verloor en Rassie gaan 2 van 4 wees. Kyk maar.

Nico ·

De Allende gaan waarde toevoeg deur nie daar te wees nie want hy is hopeloos.

B-man ·

Die ellende is dalk nie daar nie, maar die arme senters gaan (soos teen Wallis) nooit die bal kry nie. Dit sal outomaties maak dat Damian beter lyk, want Pollard kan darem aangee.

What a joke! ·

Stadiger maar meer flair as ou stampkar de ellende..

Dion Els ·

Nee wat geen twyfel oor die senterpaar nie. Hulle kan nie slegter wees as de Allende en Am nie. Almal weet tog hoekom Am in die span is

Wesley ·

Am se statistieke bewys hy is sover een van de beste senters van die jaar. Gekies op vorm. Statistieke lieg nie, en glo dis wat Rassie grootliks sy besluite op baseer, nie op braaivleis vuur praatjies nie.

Afrikaan ·

Rassie moet die spelers wissel om ‘n groep bevoegde spelers saam te stel vir die wereld beker. Baie gelukkig oor die senters; die Bokke kort slaan- en stop krag in die midde veld. Maar Elton het tog gewys hy hoort nie; wat van eerder Curwin of Robert of Damian (Willemse)? En Frans?? Waar is Trevor dan. Maar gelukkig is ek nie die coach nie…

Lerato ·

Frans Malherbe het kwaai gesukkel die vorige keer. Wonder hoekom is hy weer in die begin span.

rollie ·

Ek sou nou nie juis sê hy het gesukkel nie. Is wel gestraf by die eerste skrum (nie ‘n ongewone ding by die beste van voorrye nie). Hy is egter definitief nie op sy beste nie, lyk onfiks.

Niklaas ·

Kom ons hoop vir die beste spel van Bokke. Maar dis moeilik om optimisties te wees met sukkel Jantjies daar. Die Engelse is gewond en onder erge druk , so ons kan verwag dat hul een verwoede poging gaan aanwend om te wen. En hul kan dalk net…

Niklaas ·

Kom ons hoop vir die beste spel van Bokke. Maar dis moeilik om optimisties te wees met sukkel Jantjies daar. Die Engelse is gewond en onder erge druk , so ons kan verwag dat hul een verwoede poging gaan aanwend om te wen. En hul kan dalk net…

nico k ·

Ek verstaan Rassie se keuses. Hy soek nog die bestes. So hierdie span is nie sy eie keuse vir beste spelers nie. Ons het die reeks gewen en hy sê vir die nuwes, wys vir ons wat julle kan doen. Ek weet baie mense gaan sê as hul verloor dan is dit 2 uit 4 en dit is onaanvaarbaar. Ek stem stem egter saam met Rassie se taktiek. Ons soek nou uit wie gaan wêreldbeker toe.

rollie ·

Hoeveel spelers buite hierdie groep dink jy kan in aanmerking kom vir die Bokke? Ek sou sê uiters min. Hierdie is ons beste groep behalwe Etsebeth, Marx en nog enkeles. Dis hierdie manne wat wereldbeker toe gaan, dis die beste wat ons het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.