Staatsbegrafnis vir grootse Wallaby

Nic Shehadie (Foto: Twitter)

Die regering van Nieu-Suid-Wallis het ʼn staatsbegrafnis aangekondig vir die beroemde Wallaby-voorspeler Nic Shehadie (91) wat Sondag in Sydney oorlede is.

Hy was die onderkaptein van die Wallaby-span wat in 1953 deur Suid-Afrika getoer het, en die tweede toets op Nuweland verrassend met 18-14 gewen het, met Garth Jones se beroemde wendrie van 70 meter nadat die Wallabies in hul eie kwartgebied begin hardloop het.

Shehadie het die toerspan in die vierde toets in Port Elizabeth aangevoer, toe die kaptein, John Solomon, beseer was.

Die Springbok-stut Jaap Bekker was egter sy nemesis. Veral in die derde toets in Durban het Bekker Shehadie dermate verniel, dat sy kaptein, Hennie Muller, hom gevra het om briek aan te draai.

Hy het in 20 van die toerspan se 27 wedstryde gespeel – elf as slot en nege as stut – en hulle in nege aangevoer. Sy enigste drie was in die wegholsege van 50-12 teen Wes-Transvaal op Potchefstroom.

Shehadie en Bekker het mekaar weer die stryd aangesê in albei toetse van die Australiese deel van 1956 se Springboktoer.

Die Aussie het van 1947 tot 1958 as slot en stut in 30 toetse gespeel, en vyf toere meegemaak – twee elk na Brittanje en Nieu-Seeland, en een na Suid-Afrika.

Hy het drie toetsdrieë gedruk, en ook vir die Barbarians uitgedraf.

Shehadie was van 1980 tot 1987 die voorsitter van die Australiese Rugbyunie (ARU), en een van die grondleggers van die toernooi om die Rugbywêreldbeker, wat in 1987 tot stand gekom het.

Buiten rugby het hy ook as burgemeester van Sydney gedien (die gedagte dat Sydney die Olimpiese Spele in 1988 moes aanbied, het by hom ontstaan), en was hy die voorsitter van die trustees van die Sydney-krieketterein toe dié met spreiligte toegerus is.

Hy is onder meer met ʼn OBE en ʼn ridderskap vereer.

Sy vrou, dame Marie Bashir, het 13 jaar lank as goewerneur van NSW gedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.