Stadig oor die klippe met die lofbetuigings

George Ford (Foto: Twitter)

George Ford (Foto: Twitter)

`n Mens is bevoorreg om `n rugbylegende of twee in jou leeftyd te sien – soos Naas Botha, Dan Carter en Jonny Wilkinson.

En dan kom iemand soos die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, en vergelyk die Rose se losskakel, George Ford, met Carter. Jones het darem gesê Ford laat hom aan `n jong Carter dink, toe hy nog foute begaan het.

Sondag het Carter (34) weer ‘n meesterlike vertoning vir Racing 92 gelewer toe hy dié Franse klub tot ‘n  oorwinning van 19-16 oor die Leicester Tigers aangevoor het. Racing speel nou in die eindstryd van die Europese Kampioenskap teen Saracens waar Carter teen die vurige Owen Farrell te staan sal kom. Weer sal die ou leeu teen die welpie te staan kom, weer sal Carter in die spervuur wees, weer sal Farrell-hulle probeer om Carter by te kom.

Dink maar aan Koning Naas .. toe elke liewe span en teenstander hom probeer uithaal het. Morné du Plessis het dit reggekry (al was hy volgens elke Blou Bul-ondersteuner die dag op Loftus Versfeld onkant toe hy Botha geplettervat het), Jannie Els het hom platgetrek, só ook het Rob Louw dit reggekry om hom een of twee keer te ontsenu – maar oor `n loopbaan wat byna oor 20 jaar gestrek het?

Dan Carter (foto: telegraph.co.uk)

Dan Carter (foto: telegraph.co.uk)

Carter is die spil van Racing se welslae en die span se spelpatroon draai om hom. Sy taktiese skopwerk, sy verdediging (dis was beslis waar hy baie meer punte as Botha op sy rapport sou verdien) en vermoë om sy buitespelers in gapings te plaas en weg te stuur, was `n lus vir die oog.

Kyk net hoe gedy Johan Goosen, wat eens op `n tyd ook een van rugby se wonderkinders was, onder Carter.

Ford is jare gelede as die wonderseun van Engelse rugby beskou, om die mantel by Wilkinson oor te neem. Hy het immers as 16 jarige (en 237 dae) sy professionele buiging gemaak – die jongste Engelse speler ooit. `n Jaar later het hy sy buiging vir Leicester van die bank af gemaak.

Maar het hy werklik ontwikkel, is hy werklik ‘n wedstrydwenner? Hy het reeds in 22 toetse gespeel en 142 punte aangeteken, maar hoeveel van daardie toetse sal ‘n mens onthou? Wat van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi toe hy nie kon oorheers nie? Hoe ver het Bath (vir wie hy speel) in die onderskeie reekse gevorder?

Nee wat, hou maar die heuningkwas in die laai, ‘n legende duik net so een maal elke 20 jaar op … soos Botha, Carter en Wilkinson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cobus ·

Ek stel volkome saam. Ek onthou hoe Naas my span elke keer gekelder het en het ek dus nie van hom gehou nie. Maar wanneer ek n springbokspan moes kies het ek Naas se naam eerste geskryf. Sowaar ‘n speeler saam die ander twee om te onthou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.