Staking dompel Duitse rugby, SA bande in krisis

Die toekoms van Duitse rugby en die sterk betrokkenheid van Suid-Afrikaners daarby is in gedrang nadat die nasionale span Saterdag sover vasgestel kan word die heel eerste toetsspan in die geskiedenis van rugby geword het om te staak.

Ironies genoeg het dit die weg gebaan vir nog ʼn Suid-Afrikaanse afrigter en twee spelers uit Suid-Afrika om hul buiging in Duitse Rugby te maak.

Die raap-en-skraap-span wat moes instaan, het in Offenbach met 10-32 teen die besoekende Chili verloor (rustyd 3-14).

Die Kondors is vier plekke onder Duitsland op die wêreldranglys.

Die drama spruit uit ʼn geskil tussen die Duitse Rugbyunie (DRV) en die miljardêr Hans-Peter Wild, wat luidens berigte die afgelope tien jaar nagenoeg €30 miljoen (sowat R506 miljoen) opgedok het om Duitse rugby op sy huidige hoë vlak te staan te bring.

Met Wild se geld en die gewese Tukkie Kobus Potgieter as hoofafrigter het Duitsland indrukwekkend gevorder tot ʼn sterk aanspraakmaker op deelname aan die eersvolgende toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) in Japan.

Die beroepspelers word deur Wild se Vereniging vir die Bevordering van Rugby (GFR) betaal, en die meeste topspelers, sowel as die afrigters, Potgieter en Pieter Jordaan, is verbonde aan sy Wild-rugbyakademie in Heidelberg, wat ʼn deurslaggewende rol in die Duitse vordering gespeel het.

GFR se ooreenkoms met die DRV het op 1 September verval, en na wat berig word, sleep die nasionale liggaam voete met die hernuwing daarvan.

Die gevolg was dat die spelers tot ʼn staking oorgegaan het, en slegs een van die spelersgroep vir die toetse teen Brasilië en Amerika vir die Chileense toets beskikbaar was. Die groep het ʼn dosyn spelers met Suid-Afrikaanse bande ingesluit.

Die DRV sê die spelers se optrede is onbegryplik en onverstaanbaar omdat hy uit sy pad gegaan het om aan hul eise te voldoen.

ʼn Gewese Blitsbok, Vuyo Zangqa, Duitsland se direkteur van sewesrugby, is inderhaas as afrigter ingespan, en in die proses het nog twee Suid-Afrikaners, Luke Haynes (flank) en Senzo Ngubane (plaasvervanger-stut) hul buiging vir Duitsland gemaak.

Haynes is ʼn o.20-speler van die Limpopo Blou Bulle; en Ngubane, wat KwaZulu-Natal by die o.18-Akademieweek verteenwoordig het, speel die afgelope paar jaar vir die Duitse klub Neuenheim.

Daar is heelwat onsekerheid oor die stand van sake, maar tensy die geskil vinnig uit die weg geruim word, kan dit beteken dat Duitsland se gulde RWB-kans neusie verby is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.