Stamp teen knie hou Bongi uit

Suid-Afrika se Bongi Mbonambi. Foto: Patrick Hamilton/AFP. 

Die Springbokke het vir Joseph Dweba nadergetrek om hierdie naweek die no. 2-trui teen die All Blacks te dra nadat Bongi Mbonambi ’n stamp teen sy knie in gistermiddag se oefensessie gekry het.

Hy word as voorsorgmaatreël deur Dweba vervang.

Die verandering beteken dat die Springbok-voorry dan uit Ox Nché, Dweba en die ervare Frans Malherbe sal bestaan. Malcolm Marx, wat verlede week ’n barshou teen die besoekers gespeel het, is saam met Steven Kitshoff en Vincent Koch deel van die sterk Bomb Squad op die plaasvervangersbank.

Mbonambi sal toetse ondergaan om die erns van die besering te bepaal, maar Jacques Nienaber, die afrigter, wil nie oorhaastige besluite neem nie, veral wanneer daar nog baie rugby op die Springbokke in 2022 wag.

Joseph Dweba sal Saterdag die no.2-trui teen die All Blacks dra. Foto: GB Jordaan.

“Belangrike wegwedstryde in die Rugbykampioenskap is om die draai, terwyl die jaareindtoer ook op ons wag. Juis daarom wil ons nie enige onnodige kanse met Bongi waag nie,” het Nienaber gesê.

Volgens die Springbok-afrigter beskik Dweba oor genoeg talent om sy geleentheid met beide hande teen die All Blacks vas te gryp, terwyl hy ook opgewonde is om die haker saam met Nché in aksie te sien.

“Joseph en Ox stap al ’n lang pad saam. Hulle het saam in amper 100 provinsiale wedstryde gespeel en hulle ken mekaar reeds van skooldae af. Hul vertroudheid met mekaar se spel kan ’n deurslaggewende rol teen die All Blacks speel.”

Mbonambi se besering is die derde terugslag wat die Bokke getref het. Faf de Klerk en Kurt-Lee Arendse het harsingskudding in die Nelspruit-toets opgedoen. Die vlugvoetige vleuel is boonop vir vier weke geskors nadat hy met die All Black Beauden Barett in die lug gebots het.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Jesse Kriel (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Joseph Dweba (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Jasper Wiese, Kwagga Smith, Herschel Jantjies en Willie le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Met Bongi uit sou dit nie beter wees om Marx te begin nie. Hy het Saterdag vir die All Blacks nagmerries gegee. Laat hom 60 minute speel en stuur dan vir Dweba op vir 20. Dink Marx bet Saterdag bewys dat hy het Bongi nou verby gesteek vir Nr1 haker.

Hennie ·

JohanR lyk vir my Nienaber wil vir Marx eerder op die bank he as impakspeler maar ek persoonlik dink dat Marx verreweg die Nr1 haker tussen die klomp is

Gretha ·

Maak geen sin dat ‘n speler soos Marx opplaasvervangerbank te hou nie! Gee die man wat hom toekom Nienaber!

Jan ·

Ek wonder nog altyd hoekom Marx, wat waarskynlik die Bokke se beste individuele speler is, altyd op die bank is. Nou besef ek hoekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.