Stander deel van Ierse toekenningsbende

CJ Stander. Foto: Twitter.

Vir die derde keer in ses jaar het CJ Stander met die gesogte toekenning as Munster se speler van die jaar weggestap.

Die 30-jarige losvoorspeler het 11 keer vir die span uitgedraf, terwyl hy ’n skittervertoning teen Saracens gelewer het – ’n kragmeting waarin hy as die speler van die wedstryd aangewys is.

“Jy kan in enige situasie op CJ reken en hy het onder meer die bal vir 120 keer in ses Kampioenskapwedstryde gedra,” het Munster op sy webwerf geskryf.

“Sy vertonings is in elke wedstryd van hoogstaande gehalte en sy werketiek het geen gelyke op provinsiale en internasionale vlak nie.”

Daarbenewens is hy saam met Gregory Alldritt (Frankryk), Antoine Dupont (Frankryk), Romain Ntamack (Frankryk), Ben Youngs (Engeland) en Maro Itoje (Engeland) as die beste speler in die afgelope Sesnasiesreeks benoem.

Stander was die speler van die wedstryd teen Skotland en Wallis, terwyl hy die meeste omgekeerde besit in die reeks vir sy span bewerkstellig het.

Die George-boorling het in 52 wedstryde vir die Blou Bulle gespeel voordat hy sy heil in Ierland gaan soek het.

Hy was ook ’n paar keer vir Suid-Afrika se o.18- en o.20-span in aksie en sal na verwagting een van die Britse en Ierse Leeus se gevaarmanne in hul komende Afrika-safari wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Tog jammer dat ons land soveel kranige rugby spelers moet afstaan aan die buitelandse klubs. Maar geld praat , en ons Rand is maar swakkerig en soms is daar bietjie politieke inmenging ook.

tweeling ·

Wel as sommige Suid Afrikaanse afrigters nie so ‘n obsessie het oor grootte nie kon hy nog altyd oorsee gespeel het en terselfdertyd vir die Bokke gespeel het.

MakersMark ·

Eerder agv die massiewe politieke inmenging. Stander speel nou nr 8 posisie vir Ierland. Hy kan enige van die losvoorspeler posisies speel. Self as toekant flank sal hy stukke beter wees as die huidige toekantflank. Hy is ook groter en sterker en speel gewoonlik die volle 80 min en gaan nie rusbankie toe na 55 min nie. Hoekom is dit so ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.