Standerton reken met Noord-Natalse kampioen af

Newcastle Highlanders - logoDie Mpumalangase klub Standerton het Saterdag tydens `n rugbydag op Piet Retief met die Noord-Natalse kampioen, Boschpick Newcastle Highlanders, afgereken.

Standerton het 20-15 gewen.

André Swanepoel, die hoofafrigter van die Highlanders wat vanjaar tot die KwaZulu-Natalse Premierliga bevorder is, sê al twee spanne het lekker met die bal gehardloop, “maar soos dit gewoonlik met die eerste wedstryd van die seisoen gaan, het albei foute gemaak en kanse verspil”.

Hy sê hy is tevrede met sy spelers se fiksheid.

“Ons het hard dááraan gewerk, maar nog nie baie aandag aan die vaste fasette gegee nie.

“Met die klomp jong spelers wat in aksie was, was dit ook duidelik dat ervaring nie gekoop kan word nie. Ons sal vir die seisoen moet opskerp, want ons kan nie bekostig om sulke foute in die Premierliga te begaan nie. Dis egter hoekom vriendskaplike wedstryde daar is.”

Swanepoel sê Highlanders se gevaarlike agterlyn kon eenvoudig nie ritme kry nie.

“Dit het in `n stadium gelyk of hulle Standerton van sy voete af gaan hardloop, maar bewegings het kort-kort skipbreuk gely. Twee van Standerton se drieë is juis van diep in hul eie kwartgebied gedruk nadat Highlanders op die aanval besit verloor het. Standerton het die foute deeglik uitgebuit.

Die span het ook met met sy groot nommer 5-slot `n paar bresse van lynstane af in Highlanders se losskakelkanaal geslaan en meters ver veld gewen.

Die losskakel Alex Booysen het tien punte met `n drie, `n doelskop en `n strafdoel vir Highlanders aangeteken. Janri Barnard (regtervleuel) het `n drie gedruk.

Highlanders kom komende Saterdag met twee spanne op Arborpark in Newcastle teen Piet Retief te staan, terwyl die res van die klub op dieselfde veld teen Vryheid speel. Die wedstryde begin 13:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.