Statebond-sewes: SA durf nie in groepronde gly

Daar is ʼn saak uit te maak dat dit die gevolg van te veel sport is, maar heelwat sewesondersteuners het al vergeet dat Suid-Afrika die verdedigende kampioen in sewes by die Statebondspele is.

En ook dat die Blitsbokke (kom ons noem hulle maar só, al is hulle by die Spele bloot Suid-Afrika) in 2010 in Delhi die brons gewen het.

♦ Maar, ʼn nuwe kompetisiereël bemoeilik sake vir die Blitsbokke (en natuurlik ook vir die ander voorste aanspraakmakers).

Anders as by die vorige Statebondspele-sewes, en ook in die Wêreldsewes, is daar nie ʼn kwarteind nie. Slegs die vier groepwenners vorder na die halfeind en sal om die medaljes uitspeel.

Dit beteken dat die Blitsbokke Saterdag, benewens die twee swakkerige spanne Maleisië en Papoea-Nieu-Guinee, eenvoudig teen Skotland móét wen.

En Skotland is lankal nie meer ʼn aanvaarde maklike sege nie.

♦  Saterdag, op die sewes se eerste dag, speel al 16 spanne in hul drie wedstryde in die onderskeie groepe met die uitspeelrondes wat Sondag afgehandel word.

Die Blitsbokke spring Saterdagoggend (04:05 SA tyd) teen Maleisië weg, speel dan teen Papoea-Nieu-Guinee (10:17) en kom in die dag se laaste wedstryd teen Skotland te staan (14:17).

Suid-Afrika speel in groep A. In groep B het Engeland en Australië dalk die beste kans om die afdeling te wen en die halfeind te haal, hoewel Samoa (onwaarskynlik) sake kan omkrap.

In groep C sal Nieu-Seeland met die moeilike Kanada en Kenia, verloorfinalis in verlede week se Wêreldsewestoernooi in Hongkong, te doene kry; en Fidji lyk feitlik verseker van hul halfeindplek met net Wallis wat hulle dalk onverwagte teenstand sal bied.

Suid-Afrika se Rasta Rasivhenge, die voorste sewesskeidsregter ter wêreld, is een van die agt skeidsregters vir die toernooi.

♦ In die heel eerste vrouesewestoernooi by die Spele wat Vrydag begin, speel Suid-Afrika in dieselfde groep as Kanada, Nieu-Seeland en Kenia.

Hul eerste wedstryd Vrydag is teen Kanada (08:31).

Fidji, Engeland, Australië en Wallis is in groep B, met twee spanne van elke groep wat dit om die goue medalje sal uitspook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter Davidtsz ·

Julle het my êrens verloor.. Speel die Blitzbokke Vrydag of Saterdag?

Wim van der Berg ·

Dankie Pieter, vir die uitwys van die teenstrydighede. Hulle begin Saterdag en dit is nou reggestel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.