Statebondspele: Sewe van 2014 se wenspan weer gekies

Sewe van die spelers wat in 2014 die goue medalje vir Suid-Afrika in Glasgow help wen het, is ingesluit in die sewesspan vir die Statebondspele wat in April aan Australië se Goudkus gehou word.

Die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, wat die span onder die Saskok-vaandel sal afrig, het ná onderhandelinge met die betrokke franchise’e daarin geslaag om drie van die spelers wat vir Superrugby vrygestel is, vir die Speletoernooi terug te kry.

Die grootste naam wat terugkeer is Seabelo Senatla. Hy het ná vier toernooie van Wêreldrugby se huidige sewesreeks, waar hy die meeste drieë gedruk het, by die Stormers ingeval. Kwagga Smith is na die Lions toe en Tim Agaba het by die Bulls aangemeld.

Dan het die twee beseerde spelskeppers, Justin Geduld en Rosko Specman, genoegsaam van hul beserings herstel om ook ingesluit te word en die span verder te versterk.

♦ Suid-Afrika se span wat op 14 en 15 April weer die goue medalje sal probeer wen wat hulle vier jaar gelede teen Nieu-Seeland verower het, is:

Tim Agaba, Philip Snyman, Dylan Sage, Kwagga Smith, Werner Kok, Kyle Brown, Branco du Preez, Rosko Specman, Justin Geduld, Cecil Afrika, Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Siviwe Soyizwapi (reisende reserwe).

Die sewe spelers wat in 2014 die goue medalje help wen het en weer gekies is, is Kyle Brown, Justin Geduld, Cecil Afrika, Werner Kok, Branco du Preez, Kwagga Smith en Seabelo Senatla.

Suid-Afrika speel in groep A teen Skotland, Papoea-Nieu-Guinee en Maleisië.

Ses van die spanne in Wêreldrugby se sewesreeks wat verlede maand in die mees onlangse toernooi in Hamilton deelgeneem het, is nie lid van die Statebond nie en sal nie by die Spele wees nie, te wete die VSA, Kanada, Argentinië, Spanje, Frankryk en Rusland.

♦ Dit is nie bekend of die sewesspelers vir die hele duur van die Statebondspele van 4-15 April in Australië by die res van Suid-Afrika se span aansluit nie. Superrugbywedstryde net voor en tydens die Statebondspele wat die betrokke drie vrygestelde spelers mag raak, is die Lions vs Crusaders (1 April), Lions vs Stormers (7 April) en die Sharks vs Bulls (14 April).
Agaba is egter nie tans deel van die Bulls se 23-tal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.