Statistiek vertel in dié stadium die SA storie

Statistiek is nie alles nie, dit weet ons almal. Dit is veral ook só omdat dit van toepassing op die verlede is.

Dit vertel dus wel in ʼn mate waarom die Lions boaan die punteleer van die vier Suid-Afrikaanse spanne is, die Bulls tweede en die Stormers laaste.

Maar nou is dit ook so dat selfs ʼn enkele eenpuntneerlaag of -oorwinning van enige span die huidige prentjie dalk kan verander.

Lions

Die Lions, wat reeds 12 wedstryde gespeel het, het 31 ligapunte. Hulle het die meeste punte aangeteken (345) en die meeste drieë gedruk (58). Maar hulle het ook 45 drieë afgestaan, wat naas die Stormers se 46 die meeste is, en ook die meeste punte afgestaan (345).

♦ Die Bulls het 24 ligapunte, dieselfde as die Sharks, maar word een plek beter op die punteleer geag omdat hulle vyf van hul elf wedstryde gewen het en die Sharks net vier.

Bulls

Die Bulls se 297 punte is die derde meeste, die 296 wat hulle afgestaan het is gerieflik die minste, en hul 46 drieë is ook ná die Lions s’n die meeste en hul 37 drieë afgestaan, is die minste.

Sharks

Die Sharks se 329 punte is die tweede meeste, en hul 328 punte wat hulle afgestaan het, die tweede minste. Hulle het die derde meeste drieë (39) gedruk en die tweede minste (42 ) afgestaan.

Stormers

Aan die ander kant van die skaal staan die Stormers. Hulle het die minste drieë (36 in 12 wedstryde) gedruk, en die meeste (46) afgestaan. Hul punte vir (303) is die derde meeste en punte afgestaan (330) word net deur die Lions oortref.

Die Stormers se negatiewe punteverskil van 27 is die swakste van die vier Suid-Afrikaanse spanne. Die Lions s’n is 44, en dié van die Bulls en die Sharks is een punt elk meer as wat hulle afgestaan het.

Jaguares

Maar kyk jy na die hele afdeling, met al vyf sy spanne, en jy bring die Jaguares by, dan kry enige redenasie oor statistiek op hierdie punteleer bloedneus.

Die Argentyne het verreweg die minste punte van die vyf spanne in die SA afdeling aangeteken (257). Daarteenoor het hulle darem net-net (304 teenoor die Bulls se 296) die tweede minste punte afgestaan. Hul negatiewe punteverskil is nietemin ʼn yslike 47 punte.

Die Jaguares het boonop ook hul doellyn naas die Bulls (37) die beste verdedig en net 41 drieë is teen hulle gedruk.

Die Jaguares, wat tweede in die Suid-Afrikaanse afdeling is, het tot dusver die minste drieë (31) gedruk, maar, soos die Lions, ses wedstryde gewen. Hulle het nog net 11 wedstryde gespeel terwyl die Lions se ses oorwinnings in 12 wedstryde behaal is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.