Steeds geen keer aan kliniese Griekwas

Burger SchoemanGriekwas het Saterdagmiddag in Welkom seker gemaak dat hulle nie hul voorsprong op die puntelys in die Curriebeker se kwalifiseringstoernooi in gevaar stel wanneer hulle volgende week ’n loslootjie geniet nie.

Die wedstryd tussen Griekwas en die Griffons het uiteindelik in ’n drieëfees ontwikkel en die Poubloues het maklik 43-24 gewen. Griekwas se voorspelers het ’n kragvertoning gelewer en danksy hul puik rolmaalbewegings kon die flank Carel Greef drie keer gaan druk.

Die Griffons het ook mildelik tot dié fees bygedra en hul vier drieë het aan hulle ’n bonuspunt verskaf. Griekwas het self sewe keer gedruk.

Niemand kan die Griffons daarvan beskuldig dat hulle nie hul bes gedoen het om die gunstelinge in hierdie toernooi se oorwinningstog te stuit nie. Hul plan was duidelik om so vroeg as moontlik baie punte aan te teken en Griekwas dan uit hul beproefde patroon te dwing as hulle inhaal-rugby moet speel.

Die Griffons se linkervleuel, Norman Nelson het binne twee minute na die afskop deurgenael vir die eerste drie, maar ongelukkig vir die Noord-Vrystaters sou dit hul enigste punte in die eerste helfte wees. Ses minute later was dit Griekwas se kans vir hul eerste drie en daarna het hulle met reëlmaat die doellyn oorgesteek.

Met rustyd het Griekwas reeds hul bonuspunt in die sak gehad ná hul vierde drie en hulle kan dus vergewe word as die konsentrasie nie heeltemal op peil was in die tweede helfte nie. Dié helfte het dus redelik gelykop verloop, maar Griekwas kon nietemin hul punteverskil tot 19 opskuif om dit nog moeiliker te maak vir die Luiperds om hulle in die volgende drie weke dalk in te haal.

* In Wellington het sake baie meer gelykop verloop in die wedstryd tussen die Boland Kavaliers en die SWD Arende. Twee vinnige drieë kort na rustyd het egter die skaal in die guns van die Arende geswaai en hulle kon uiteindelik met 21-17 wen.

Boland het laat in die wedstryd hard probeer om terug te veg en hulle het inderdaad die laaste drie gedruk, maar dit was té min té laat vir hul tweede oorwinning in die reeks.

Die feit dat nie een van die twee spanne vier drieë kon druk nie het hul albei se kanse om nog hierdie kompetisie te wen, verongeluk. SWD lê na dese vierde op die puntelys, terwyl die Boland nou reg onder hulle in die vyfde plek is.

* Die Valke het aanvanklik groot geskrik vir die aanslag van die Border Bulldogs, maar na ’n goeie tweede helfte kon die manne van die Oos-Rand uiteindelik spog met ’n oorwinning van 54-40.

Die besoekers van Oos-Londen het die Valke duidelik geteiken as die span waarteen hulle hulself wou regruk ná ’n paar sukkelvertonings. Met rustyd het die Bulldogs reeds vier drieë gedruk: 26-12.

Willie Odendaal het sy manne egter in die tweede helfte bymekaar gehou en hulle het met puik rugby ses drieë in die laaste veertig minute ingeryg. Met hierdie oorwinning het die Valke nou opgeskuif na die derde plek op die puntelys, terwyl die Bulldogs ten minste vir hul oorblywende teenstanders gewys het dat hulle geen maklike hekkie is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.