Stemmery sê Joost is die beste no. 9 ooit

Joost van der Westhuizen. Foto: Tony Ashby/AFP.

Volgens berigte het die BBC gevra dat rugbyliefhebbers vir die beste rugbyvyftiental ooit moet stem. Daar is uiteindelik meer as 200 000 stemme ontvang en drie Suid-Afrikaners het die span gehaal.

Francois Pienaar – wat die Webb Ellis-trofee in 1995 op Ellispark omhoog gehou het – is die nommersesflank, terwyl die blitsige Bryan Habana op regtervleuel uitdraf.

Maar dit is die keuse van Joost van der Westhuizen op skrumskakel waarmee talle Suid-Afrikaanse sportondersteuners sal saamstem, ongeag of die stemmery vandeesweek of tien jaar gelede plaasgevind het.

Van der Westhuizen het in sy 89 toetse 38 drieë vir die Springbokke gedruk – ’n nasionale driedrukrekord wat later deur Habana verbeter is.

Daar was talle hoogtepunte – ’n Wêreldbekerwennersmedalje, Drienasies-sukses en Curriebeker-triomf – maar een van die grootste Joost-oomblikke was ongetwyfeld toe hy vir Jonah Lomu in die 1995-Wêreldbekereindstryd platgetrek het.

“Joost was ’n ongelooflik goeie verdediger en daardie Lomu-têkkel was waarskynlik die beste van die hele toernooi. Hy het sy kop, nek en skouers gebruik en Jonah met al twee arms grond toe gebring. Dit is juis daardie einste moed wat Joost verpersoonlik,” het Nick Mallett vroeër in ’n huldeblyk gesê.

Volgens die voormalige Springbokbreier, wat 17 agtereenvolgende toetse saam met Van der Westhuizen en Kie gewen het, het geen ander internasionale skrumskakel oor die Suid-Afrikaner se vaart beskik nie.

Dan was daar ook nie ’n bang haar op sy kop nie.

“Ek dink nie ek het al ooit iemand met soveel moed teëgekom nie – selfs nie eens onder die voorspelers nie.”

Suid-Afrika spog met talle rugbyhelde. Maar Van der Westhuizen was pure goud.

Beste vyftiental ooit (volgens rugbyliefhebbers): Serge Blanco (heelagter, Frankryk), Bryan Habana (regtervleuel, Suid-Afrika), Brian O’Driscoll (buitesenter, Ierland), Ma’a Nonu (binnesenter, Nieu-Seeland), Jonah Lomu (linkervleuel, Nieu-Seeland), Dan Carter (losskakel, Nieu-Seeland), Joost van der Westhuizen (skrumskakel, Suid-Afrika), Zinzan Brooke (agtsteman, Nieu-Seeland), Richie McCaw (flank, Nieu-Seeland), Francois Pienaar (flank, Suid-Afrika), John Eales (slot, Australië), Martin Johnson (slot, Engeland), Owen Franks (stut, Nieu-Seeland), Sean Fitzpatrick (haker, Nieu-Seeland) en Jason Leonard (stut, Engeland).

  • Van der Westhuizen is in 2017 in die ouderdom van 45 oorlede nadat hy in 2011 met amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ’n aggressiewe vorm van motorneuronsiekte (MNS), gediagnoseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

piet ·

Lyk of daar gefokus is op die meer moderne era, slegs Blanco van die ouer manne het die span gehaal. Francois Pienaar op grond waarvan, dat hy ‘n goeie kaptein was? Fitzpatrick was ook net ‘n goeie kaptein baie beter hakers gewees. Gerber en Sella (en selfs Robertson van NZ) alhoewel albei buite senters was, is verseker ook beter as O’Driscoll,

MakersMark ·

piet ek sou vra waar is Danie Gerber? Beste senter wat ooit aan ‘n rugbybal gevat het.

Hennie Biebouw ·

ASSEBLIEF! Francois Pienaar? Hy was nie eens die beste # 6 flank in Transvaal in sy speeldae nie, wat nog te sê Suid-Afrika en die ganse wêreld?

MakersMark ·

Stem saam. Miskien Gareth Edwards in die amateur era kon in dieselfde asem genoem word. Maar in die professionele era was daar nie Joost se gelyke nie. Joost Heystek van der Westhuizen. Sy staal gewys op die veld en af, veral gedurende sy siekte. Een van die grootste bokke.

Andries ·

Interessant: ek tel 8 internasionale kapteine onder die 15

Chris dupreez ·

Ek dink Marx is n beter haker as wat Fitzpatrick was, in alle fassette van die spel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.