Sterk Varsitybeker-droomspan teen Junior Springbokke gekies

Craig Barry van die Maties voer die Varsitybeker-droomspan aan (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Die Maties se kaptein en gereelde heelagter, Craig Barry, sal ’n sterk Varsitybeker-droomspan aanvoer wat volgende week teen die Junior Springbokke in Stellenbosch te staan kom.

Die span word saamgestel uit spelers wat in die Varsitybeker- en die Varsityskild-reeks uitgeblink het.

Impi Visser van Tuks, wat die eindstryd weens ’n wangbesering misgeloop het, sal die middelveld saam met Aphiwe Dyanti van die UJ beman.

Die vleuels is Tuks se drieëvraat Sibahle Maxwane, terwyl die keuse van Duncan Saal van Maties dalk ’n paar wenkbroue sal laat lig. Saal het hom die grootste gedeelte van die seisoen op die plaasvervangersbank bevind.

Die skakelpaar van Tukkies, Tinus de Beer en André Warner, sal teen die Junior Springbokke kan wys waartoe hulle in staat is.

Die Madibaz se kaptein, Kevin Kaba, sal saam met die Stellenbossers se Kobus van Dyk en die Shimlas se Daniel Maartens die lostrio vorm.

Loftus Morrison van die Pukke en die Tukkie Aston Fortuin is die slotpaar, terwyl die Tukkies se twee stutte Andrew Beerwinkel en Neethling Fouche saam met die Pukke se Wilmar Arnoldi die voorry is.

Herschel Jantjies, skrumskakel van die UWK-span wat die Varsityskild verower het, bevind hom op die bank.

♦ Spelers soos die Maties se driedrukmasjien, Kyle Steyn, Tukkies se heelagter Divan Rossouw, die Pukke se kaptein en losvoorspeler Jeandré Rudolph en die UJ se kantman Wian Conradie, kan hulself waarskynlik jammer ag dat hulle nie die paal gehaal het nie.

Die droomspan sal deur Pote Human gebrei word, wat Tuks vanjaar uit die Varsitybeker laat drink het.

Die Junior Springbokke het die vorige kragmeting in 2015 teen die Varsitybeker-droomspan met 31-24 gewen.

Die Varsitydroomspan is deur Duitser Bosman, uitvoerende hoof van Varsity Sports, Xhanti-Lomzi Nezi, bestuurder van die Varsitybeker-reeks, JJ Harmse, mediabestuurder van die Blitsbokke, Peter Jooste, sameroeper van die nasionale keurders en Vata Ngobeni, ’n sportskrywer verbonde aan die Independent Newspapers, gekies.

Die Junior Springbokke trek van 18 Maart tot 12 Mei in Stellenbosch saam, waartydens hulle teen die Varsitybeker-droomspan (25 April) en die Westelike Provinsie (9 Mei) te staan sal kom.

Dié wedstryde is deel van die Junior Springbokke se voorbereiding vir die o.20-Wêreldkampioenskap wat van 31 Mei tot 18 Junie in Georgia beslis word, waar die Suid-Afrikaners op 31 Mei in hulle eerste wedstryd teen Frankryk te staan kom.

Varsitybeker-droomspan:

15. Craig Barry (Maties, kapt.), 14. Sibahle Maxwane (Tuks), 13. Aphiwe Dyantyi (UJ), 12. Impi Visser (Tuks), 11. Duncan Saal (Maties), 10. Tinus de Beer (Tuks), 9. André Warner (Tuks), 8. Kevin Kaba (Madibaz), 7. Kobus van Dyk (Maties), 6. Daniël Maartens (Shimlas), 5. Loftus Morrison (Pukke), 4. Aston Fortuin (Tuks), 3. Neethling Fouche (Tuks), 2. Wilmar Arnoldi (Pukke), 1. Andrew Beerwinkel (Tuks). Bank: 16. Johannes Snyman (UJ), 17. Luvuyo Pupuma (Wits), 18. Nico du Plessis (UJ), 19. Johan Momsen (Maties), 20. Phumzile Maqondwana (Shimlas), 21. Herchele Jantjes (UWK), 22. Ernst Stapelberg (Maties), 23. Michal Haznar (Maties).

Die res van die bestuurspan:

Voorspelerafrigter: Denzil Frans (Tuks)
Agterspelerafrigter: Bevan Fortuin (Tuks)
Spanbestuurder: Quintin van Rooyen (Maties)
Fisioterapeut: Robyn Phillips (Wits)
Sportwetenskaplike: Jacques Durand ( UJ)

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wolf ·

Dis nou die beste voorbeeld van ‘n kwota-span wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Ek is verbaas dat die afrigter wit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.