Steve dink Engelse moes Eddie gehou het

Steve Hansen. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

Die voormalige All Blacks-afrigter, Steve Hansen, meen dat Engeland ʼn makliker Wêreldbeker-pad as van die ander spanne kan volg, maar hulle gaan waarskynlik steeds nie met die louere wegstap nie.

Die Rose is in Groep D van die internasionale skouspel saam met Japan, Agentinië, Samoa en Chili.

“Hulle kan rustig op hul eie aangaan terwyl die groot spanne mekaar uitskakel. As jy my vra wie die Wêreldbeker kan wen, sou ek waarskynlik Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland en Suid-Afrika uitgesonder het.”

Volgens die legendariese Nieu-Seelandse afrigter – wat in slegs tien van sy 107 toetse saam met die All Blacks aan die verloorkant was – het Engeland se rugbybase ʼn fout gemaak om vir Eddie Jones te laat gaan.

Steve Borthwick het intussen die afrigtersleisels by die 63-jarige Australiër oorgeneem en hy het terstond vir Jones die skuld gegee nadat sy span teen Skotland verloor het.

ʼn Rukkie later het die Rose ook met ʼn rekordtelling van 53–10 teen Frankryk op Twickenham die onderspit gedelf.

“Dit is hul saak wat hulle gedoen het, maar daar is nagevolge: goed én sleg. Eddie het ʼn bewese rekord by Wêreldbeker-toernooie. Hy het op sy span gefokus en hy wou die toernooi gewen het. Engeland gaan dus ʼn persoon mis wat baie honger was om te wen.”

Hansen en Jones meet juis môre weer kragte wanneer die Barbarians teen ʼn Wêreld-vyftiental op Twickenham speel.

Suid-Afrika se S’bu Nkosi sal op die linkervleuel vir Hansen se Wêreldspan uitdraf, terwyl Stephan Lewies, Francois Hougaard en Carlu Sadie vir Jones se Barbarians-groep in aksie sal wees.

Die wedstryd begin Sondag om 15:00.

  • Wêreldbeker-groepe:

Groep A: Nieu-Seeland, Frankryk, Italië, Uruguay en Namibië.

Groep B: Suid-Afrika, Ierland, Skotland, Tonga en Roemenië.

Groep C: Wallis, Australië, Fidji, Georgië en Portugal.

Groep D: Engeland, Japan, Argentinië, Samoa en Chili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.