Stiefkind vestig hom as SA se beste klub

rustenburg impala`n Stiefkind van Suid-Afrikaanse rugby het hom Saterdag op Rustenburg as onteenseglik die land se beste oop klub die afgelope paar jaar gevestig.

Rustenburg Impala (Luiperds), wat sedert 2013 nog elke jaar die kwarteindronde van die oop klubs se reeks om die Goue Beker (voorheen die Gemeenskapsbeker) gehaal het, het sy tweede titel in drie jaar gewen deur Valsbaai (Westelike Provinsie) 48-24 in vanjaar se eindstryd te oorrompel – die eerste wat nie `n naelkoustryd opgelewer het nie.

Impala was die naaswenner toe Durbanville-Belville die beker verlede jaar gewen het. Geen ander klub kon hom dit naastenby nadoen nie.

Die ironie is dat die wenspan sukkel om `n behoorlike ligatuiste te vind. Hy is heeltemal te sterk vir die Luiperdsliga, die Goue Leeus is te ver, en hoewel hy deesdae in die Blou Bulle se Carltonliga speel, mag hy dit nie wen nie.

Valsbaai het aanvanklik Saterdag die pas aangegee en die bal lekker rondgegooi, maar min deurdringingsvermoë getoon. Andri Claassen se gewoonlik betroubare skopvoet het ook die span in die steek gelaat.

Toe Impala ná sowat `n kwartier in rat kom, het hy stelselmatig die oorhand gekry en toe was daar geen keer aan hom nie.

Hy het agt drieë gedruk – en minstens drie weggegooi – waarvan Dumisani Matyeshana (vleuel), Cecil Dumond (losskakel) en die kaptein, Justin Wheeler (flank), elk `n tweekuns behaal. Dumond se 16 punte het sy totaal in die reeks tot 102 opgeskuif.

Impala het sy spel puik tussen krag en vaart afgewissel en sy ondersteunende spel was indrukwekkend. Die Baai het op sy beurt eenvoudig nooit moed opgegee het nie. Die oomblik wat Impala sy konsentrasie verslap het, het die Kapenaars munt daaruit geslaan.

Impala se agsteman Leon du Plessis is nes velede jaar as die klubspeler van die jaar bekroon; Tytham Adams, vleuel van College Rovers, was die beste agterspeler in die reeks; en Ian Oosthuizen, haker van Brakpan, die beste voorspeler. Alrico Beukes (Evergreens) is die beste afrigter en Peter Virgin (Durbanville-Bellville) die beste spanbestuurder.

Die puntemakers –

Impala 48 (17) – Drieë: Dumisani Matyeshana (2), Leon du Plessis, Justin Wheeler (2), Cecil Dumond (2), Justin St Jerry. Doelskoppe: Dumond (3), Francois van Biljon.

Valsbaai 24 (10) – Drieë: Mustaqeem Jappie, Ashley Wells, Dylon Frylinck. Doelskoppe: Andri Claassen, Adnaan Osman (2). Strafdoel: Osman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

V van Tonder ·

Korreksie op Gold cup rugby se uitslae Imapa se loskakel is Cecil Dumond en nie Monty nie. Monty is sy broer. Dankie

Katryn ·

En die afrigters kry geen vermelding nie. Waarom? Dis amper soos skoolhou! As die leerders swak doen is dit die swak onnie en as hulle goed doen is dit die oulike leerders wat so hard werk.

BeesBlaas ·

Piet Ebersohn, vanaf 2017 gaan Rustenburg Impalas aan die BBRU se Carlton Reeks deelneem….en mag hulle dit ook wen, indien hul goed genoeg is.

As jy in jou rebriek geskryf het dat hul in 20015 en 2016 dit nie kon wen nie, sou jy reg gewees het, maar wie weet, dalk was jy nie heeltemal ingelig nie.

Theuns ·

Dink die ander klubs moet leer by Impalas dan kan daar dalk weer sterk klubspanne wees,wat proewe kan speel en provinsiale spelers oplewer en sodoende dalk weer n sterk bokspan kan laat voortspruit,soos dit maar in die ou dae gewerk het.

johan ·

Min mense besef hoe sterk die Carlton liga eintlik is. Impala se deelname aan die liga kan dit net verder versterk. Met die dat hul reeds die jaar deelgeneem het sal n opwaardse kurwe in gehalte kompetisie in die Carlton liga gesien word volgende jaar. Spanne soos Centurion, Naka Bulle en Dragons kan maar gerus dopgehou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.