Stonehouse verdien lof vir Laeveldse rugbysukses

Die Pumas-rugbyspan het na sy tweede Curriebeker-eindstryd op ’n streep deurgedring. (Foto: Facebook/Pumas)

Kort nadat die Pumas die Blou Bulle met 63 – 15 in die openingsalvo’s van die Curriebeker-toernooi op Loftus Versfeld geklop het, het Marius van Rensburg met Maroela Media gesels.

Die Pumas se uitvoerende hoof het toe gesê dat daar nog baie water in die see moet loop voordat die span sy volle aandag op ʼn eindstryd kan toespits.

“Ons kan dit nie bekostig om konsentrasie te verloor nie. Ons wil mense wys dat ons op hierdie vlak kán speel, terwyl ons ook spelers wil oplewer wat met die beste kan saamgesels,” was Van Rensburg se presiese woorde.

Nou ja, die Pumas kry volgende week kans om hul Curriebeker-titel teen die Cheetahs in Bloemfontein te verdedig nadat hulle die Haaie met 26 – 20 in een van die reeks se halfeindstryde op Kingspark geklop het.

Die Laevelders het doodeenvoudig geweier om handdoek in te gooi en hul verdediging het sterk gestaan toe die Durbaniete die een desperate aanval na die ander op hul doellyn geloods het.

Pure Puma-passie. Jimmy Stonehouse word op die spelers se skouers gedra nadat die Pumas verlede jaar met die Curriebeker-louere weggestap het. (Foto: Twitter)

Hulle het ongetwyfeld die karaktertoets geslaag en ʼn vertoning opgedis waarop Van Rensburg en afrigter Jimmy Stonehouse trots kan wees.

So van Stonehouse gepraat, die sege het weer eens net die feit onderstreep dat hy een van die topafrigters in Suid-Afrika is.

Die 59-jarige rugbyman bou ʼn span van die grond af op en hy weet presies hoe om die beste uit sy spelers te kry.

Faf de Klerk en Vincent Koch is twee uitstekende voorbeelde van spelers wat eers die Puma-trui gedra het voordat hulle hul stempel op die internasionale verhoog afgedruk het.

(Stonehouse het al sukses in Suid-Afrika, Japan, op skoolvlak en internasionaal gesmaak en dit is veral sy kanniedoodhouding, lojaliteit en eerlikheid wat wyd en syd gerespekteer word.

Dalk is dit tyd dat ʼn rugbyprofeet in sy eie land geëer moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Die Pumas kan die Curriebeker 5 maal in ‘n ry wen, maar die werlikheid is dat niemand uit die Pumas, Cheetahs, of selfs Gruquas sal ooit die Springbokke haal tensy hulle Blou Bulle, Stormers of Haaie toe trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.