‘Stoomroller’ getroef vir 1ste beker in 24 jaar

germiston simmerGermiston Simmer moes Saterdag `n “stoomroller” troef om sy eerste beker in 24 jaar te wen.

Hy het die vorige kampioen, Diggers, met `n sege van 24-21 in die eindstryd om die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Senior Grootuitdaagbeker onttroon.

Die twee spanne, wat op hul dag tussen die topklubs in die bond se Pirates-grootuitdaagreeks getel het, het vanjaar voor die eindstryd slegs hul onderskeie wegwedstryde teen mekaar verloor.

Rene Audier, Simmer se president, se Diggers se sterk agttal het van die eerste skrum af gewys hy is voornemens om te wen toe hy Germiston soos `n stoomroller van sy eie bal af gestoot en `n strafskop afgedwing het.

“Simmer het die bal by die daaropvolgende lynstaan teruggewen, en het die toon vir die res van die wedstryd se lynstane aangegee.

“Pieter Mocke het Simmer met `n langafstand-strafdoel op die telbord gekry om die senuwees te kalmeer.”

Audier sê die spanne het mekaar eers mooi opgesom en veld met skoppe probeer wen, maar toe Diggers se agterlyn die bal van `n goeie skrum af aanslaan, het Anton Coetzee dit met `n oop doellyn voor opgepik en gaan druk (10-0).

“Ná die afskop het die kaptein, Charl Wright, `n bres langs die losgemaal geslaan en vir Darrio Bezuidenhout weggestuur om eweneens onder die pale te gaan kuier.

Hy sê met die telling ná 30 minute reeds 17-0 wou dit voorkom of dit `n lang dag vir Diggers kan raak, “maar hulle het gewys hoekom hulle die verdedige kampioen is, en `n drie met die aanbreek van rustyd het die telling op 17-7 te staan gebring”.

Audier sê Simmer het in die tweede helfte sy ritme in die skrums gevind, en Diggers, wat steeds gesukkel het om sy eie balle in die lynstane te wen, het uit alle hoeke van die veld begin hardloop met die besit wat hy kon wen.

“Dit het kwaai verdediging van Simmer geverg om hom in toom te hou.”

Germiston Simmer - na 24 jaar weer kampioen.

Germiston Simmer – na 24 jaar weer kampioen.

Bezuidenhout het `n tweede keer agter die pale gaan kuier ná `n slim steekskoppie van Christopher Khumalo, en Mocke se doelskop het die telling na 24-7 opgeskuif.

“Soos die kwaal die hele seisoen was, het Simmer in sy dop gekruip pleks van die uitklophou te plant. Selfs met die vars bene wat die afrigter, Maree Bester, opgestuur het, het Simmer liefs op sy verdediging staat gemaak.

“Diggers het twee pragdrieë gedruk – een uit sy eie kwartgebied uit – en het die telling met tien minute oor op 24-21 te staan gebring.

“Albei spanne het volgehou om die bal mooi rond te gooi om `n laaste drie te probeer druk.

“Met die tyd reeds verstreke het Diggers twee keer oor Simmer se doellyn gedryf, maar kon nie die bal op die grond kry vir daardie wendrie nie.”

Audier sê vonkelwyn het in tien jaar nie só lekker vir die Simmer-klublede gesmaak nie.

“Wat `n wonderlike seisoen met `n wonderlike span,” het Bester ná afloop van die wedstryd gesê.

“Die opofferings van die afgelope vier jaar was die moeite werd, maar die harde werk lê nou voor. Ons sal die liga aanstaande jaar weer moet wen.”

Simmer se voorsitter, Ryan Dennis, is trots op die klub se prestasie.

“Ons doelwit vanjaar was om drie spanne in die halfeinronde te kry. Die o.20-span het dit reggekry; die tweede span het die eindstryd gehaal; en die eerste span het die liga gewen.

“Die hartseer was erg om verlede jaar die uitspeelronde mis te loop, maar die manne het uit die staanspoor vanjaar getoon dat hulle dit wil regstel.

“Simmer het nie `n groot borg nie en die manne speel vir die liefde van die spel.”

Dennis sê hy is trots op sulke ou klubmanne soos Ferdi Coetzee (wat al 14 lid is), Shaun Thomas (11 jaar) en Mocke (agt jaar) wat saam met die res `n sukses van die seisoen gemaak het.

“Die eerste beker vir die eerste span in 24 jaar, en drie spelers in die Goue Leeus se amateurspan dui op `n goeie toekoms vir die klub.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.