Stormer in die sop oor beweerde byt

(Foto: pixabay)

’n Skorsing staar die Stormers se Adre Smith in die gesig nadat hy glo vir Niall Scannell van Munster in die afgelope naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd gebyt het.

Die Kapenaars het die kragmeting met 34–18 teen die Ierse span verloor.

Volgens oorsese media het die voorval glo in die 45ste minuut van die wedstryd plaasgevind, maar ondanks ’n paar kykweersessies is geen konkrete bewyse teen die slot gevind nie.

Peter O’Mahony (Munster-kaptein) het egter vir die skeidsregter gesê dat ’n mens die bytmerk kan sien.

Die Irish Times berig dat Smith  wel môre voor ’n tugkomitee van Kathrine Mackie (voorsitter), Iain Leslie en Janet Gedrych sal verskyn.

Indien hy skuldig bevind word, kan hy met ’n maksimum skorsing van 24 weke gestraf word. Versagtende omstandighede sal egter in ag geneem word.

Ryno Pieterse, die Suid-Afrikaans gebore slot van Castres, is juis vroeër vir 12 weke geskors nadat hy Bordeaux se Maxime Lucu platgeduik het.

Hoewel oudskeidsregter Nigel Owens gesê het dat Pieterse lánk op die kantlyn kan wees, het sy goeie dissiplinêre rekord en spoedige skulderkenning in sy guns getel.

In die afgelope reeks tussen die Britse en Ierse Leeus en die Springbokke was daar ook bewerings teen Kyle Sinckler gemaak dat hy vir Franco Mostert in die tweede toets gebyt het.

’n Tugkomitee het die Engelse stut kort daarna onskuldig bevind.

Stuart Hogg (heelagter van die Leeus) het in dieselfde reeks ook gerugte ontken dat hy vir Willie le Roux gebyt het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.